Só groei Curro-skole tydens pandemie

(Foto: Verskaf)

Curro Holdings, een van die grootste verskaffers van private onderrig in Suid-Afrika, se leerdergetalle het die afgelope jaar met 6% gegroei, al het leerders vir groot dele van die jaar aanlyn skool gegaan.

Die gemiddelde aantal leerders wat by Curro-skole ingeskryf is, het van 57 597 in 2019 gegroei tot 60 777 aan die einde van verlede jaar. Dié groep het boonop ʼn toename van 9% in leerdergetalle gesien sedert die begin van die jaar. Daar is tot op hede 66 153 leerders by Curro-skole ingeskryf.

“Uitnemende skoolonderrig is nou meer gesog as ooit tevore,” sê Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro Holdings. Hy sê dit is waarom Curro ʼn toename in leerdergetalle gesien het.

“Die pandemie het nie Curro daarvan weerhou om bekostigbare gehalte-onderwys aan te bied nie. In plaas daarvan het dit ons in staat gestel om verder te innoveer om gehalte-onderwys toegankliker te maak vir leerders in Suidelike Afrika.”

Tans kry 600 leerders tussen gr. 4 en gr. 10 aanlyn onderrig deur Curro Online. “Dit stel ons steeds in staat om nie net ons missie in die fisieke skoolomgewing te vervul nie, maar ook in die aanlyn arena.”

Leerdergetalle by Curro-kleuterskole is egter geraak deur die pandemie. Volgens Greyling is afstandonderrig die minste effektief by hierdie ouderdomsgroep, aangesien dit as ʼn nie-verpligte fase van skoolonderrig beskou word. Die maatskappy het egter die leë klaskamers in geriewe vir laerskoolleerders omskep om voorsiening te maak vir die toename in laerskool- en hoërskoolleerders.

Die groei in leerdergetalle, tesame met jaarlikse inflasie, het ook tot gevolg gehad dat klasgeld met 12% gestyg het.

Curro sê hoewel die inkomste wat hulle uit skoolgeld verdien verlede jaar afgeneem het, deels weens afslag wat aan ouers toegestaan is, het sy wins met 5% gestyg van R2,9 miljard in 2019 tot R3,1 miljard aan die einde van verlede jaar.

“Die eenmalige Covid-19-verwante afslag wat toegestaan is, word bereken op R81 miljoen (wat 2,3% van Curro se bruto inkomste verteenwoordig). Ons skat dat die pandemie ʼn negatiewe impak van ongeveer R300 miljoen op die netto wins gehad het.”

“Die sakemodel van die maatskappy het egter tot op hede veerkragtig gebly, daarom bly ons daartoe verbind om steeds in die toekoms gehalte-onderwys aan al ons leerders te bied,” sê Greyling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Sien jy ANC en Lesufi dit is moontlik om uitnemendheid te behaal, soos Afrikaanse skole ook bewys het!

Samuel

Ons het nie die regering nodig om uitnemendheid in onderwys te verseker nie. Privaat ondernemings doen dit lag-lag sonder verskonings dat Covid-19 ‘n probleem is. Suid-Afrikaners doen dit self, Lesufi.

Agge nee

Lekker advertensie vir Curro. Alle privaatskole het so gegroei, sommiges selfs meer.

Andrew

Curro bly maar vir die on-gelowige stedelinge met geld. Multikultuur omhelsing net in n privaat skool. Onthou die Afrikaans wit / swart bus insident daar noord van Pta. Nee dankie jy kan nie so en so vir almal wees nie, jy gaan op iemand se tone trap.

Kokerboom

Dit moet baie ontstellende nuus wees vir die ANC opvoedkundige span kaders!!!!