Só help onderwysdepartement tydens korona-afsondering

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Die nasionale departement van basiese onderwys het verskeie maniere aangekondig waarop leerders wat weens die algehele landswye afsondering nou tuis is, aanlyn en deur die elektroniese media gehelp gaan word om nie agter te raak met skoolwerk nie.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê die klem sal veral op matrikulante val, maar alle skoolleerders in alle standerds sal hulp ontvang.

Die versekeringsreus Old Mutual het met R50 miljoen se borgskap vorendag gekom om aanlyn- en elektroniese onderwys te help uitbrei tot skole weer heropen.

Motshekga het gesê skole sal heropen so gou moontlik nadat die staat van afsondering opgehef is. Die presiese datum is nog nie bekend nie, maar bewerings dat dit eers in September sal wees, is fopnuus, en enigeen wat dit versprei is vervolgbaar.

Die minister het gewaarsku dat ouers veral op die uitkyk moet wees vir angstigheid en depressie by leerders wat so lank van hul maats geskei word.

Ouers kan die geleentheid gebruik om benewens skoolwerk ook hul kinders met en deur gesamentlike leeswerk te help, en selfs hul kinders te kry om rekenaarvaardighede of ander vaardighede aan hulle as ouers oor te dra sodat ouers en kinders mekaar leer.

Wat skoolwerk betref gaan alle SAUK-radiostasies in hierdie tyd van afsondering baie meer onderwysprogramme as gewoonlik uitsaai in al nege die land se ampstale.

Die SAUK gaan ook baie meer onderwysprogramme as gewoonlik op sy televisiekanale uitsaai, soos e.tv ook sal doen. DStv-kanaal 180 word ‘n onderwyskanaal.

Papierafskrifte van hierdie onderwysprogramme sal in afgeleë landelike gebiede versprei word, het Motshekga gesê.

Sy het gevra dat mense hulle hou aan hierdie programme van die onderwysdepartement, en nie sommer leerprogramme van elke Jan Rap en sy maat aanvaar nie. Meer inligting hieroor is beskikbaar by education.gov.za terwyl baie van die land se goeie skole hul eie tuisprogramme het in hierdie dae.

Die departement kan nie tydens die periode van afsondering sy skoolvoedingsprogram voortsit nie. Meer besonderhede oor voeding van die armstes sal met verloop van tyd deur die departement van maatskaplike ontwikkeling aangekondig word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.