Só het Brits-onnie vermoedelik gesterf

Cobus de Wet. Foto: Facebook

’n Botsing het moontlik tot gevolg gehad dat Cobus de Wet (51), ʼn onderwyser van Brits wat Saterdag dood gevind is, se bakkie in ’n waterkanaal beland het.

De Wet se liggaam is in sy bakkie aangetref in die kanaal langs die R513 naby Brits nadat hy verlede Dinsdagaand die laaste keer gesien is. Die bakkie het op sy dak in die water gelê en is gevind nadat die kanaal se sluise glo toegemaak is.

Lt.kol. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê ’n nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van De Wet se dood te bepaal.

Zanlè de Wet, Cobus se dogter, sê haar pa het veelvuldige beserings opgedoen. “Hy was nog in ’n sittende posisie met sy hande op die stuurwiel toe hulle hom gevind het. Hy het dus nie uit die bakkie of water probeer kom nie en ons vermoed gevolglik hy het sy bewussyn verloor.”

Volgens Zanlè is daar stampmerke en groen merke aan haar pa se bakkie gevind. “Daar was ook remmerke op die pad. Ons vermoed dat iets teen hom gestamp het of hom dalk van die pad af gedruk het.”

De Wet se gesin vermoed hy het verlede Dinsdagaand gery om brandstof vir die kragopwekker te gaan koop. “Dit was êrens ná 19:00 en toe ons hom teen 20:00 bel, was sy foon af.” Die kanaal waar sy bakkie en liggaam gevind is, is net enkele kilometers weg van die gesin se huis.

Volgens Zanlè was haar pa baie lief vir mense en die natuur. “Hy het ’n ruim hart gehad en sy deur was altyd oop vir enigiemand.” De Wet was ’n onderwyser by die Lighthouse Christian School in Brits. Hy sou in Desember 52 jaar oud geword het.

’n Roudiens word Saterdag om 11:00 by die Church in the City in die Platinum-winkelsentrum in Brits gehou.

De Wet word deur sy vrou, Hannatjie, en twee dogters, Zanlè de Wet en Celesté du Plessis, oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Brit ·

Ek hoop die polisie vang die groen voertuig wat voor hom in sy baan ingedraai het sonder om dit by die polisie of ambulans aan te meld. Die merle op die pad vertel die volledige storie.

Elanie ·

In die onderwys is daar onderwysers wat mens liewers net wil vergeet en dan is daar ander wat so impak op jou skool loopbaan en lewe gemaak het, dat jy gereeld (selfs al was jy jare terug op die skoolbanke) van hom kon praat met ‘n glimlag op jou gesig. En dit was ons meneer de Wet beslis. Daar was altyd iets waaroor ons kon lag, die Volla wat hy gery het doerie tyd sal ook ‘n paar stories kon vertel. Bybel vasvra was nog nooit weer so lekker nie. Die houe wat hy soms moes gee was baie nodig, maar kort ruk na dit kon mens weer saam lag oor iets. Lank kwaad bly was nie in sy boeke nie. Hy was een van die onderwysers met ‘n hart vir onderwys en wat soveel goeie herinneringe by baie mense los. Hy was altyd daar vir enige van sy leerders en het altyd aandagtig geluister, iets wat skaars is in vandag se tyd.

Ons dra sy gesin op in ons gebede en is konstant in ons gedagtes. Ons is regtig jammer vir jul verlies.

michelle ·

Sjoe Elaini baie mooi woorde
Almal in Brits sal hom onthou as n goeie man en onnie

michelle ·

Jammer Elanie my oe was vol trane jammer oor die naam fout

michelle ·

Jammer Elanie my oe was vol trane jammer oor die naam fout

Leahim ·

Daardie gedeelte van die pad is baie sleg vol gate die gedeelte vanaf Damdoryn is nuut oor geteer vir omtrent 500m maar die res tot by die Silkaatsnek pad is net so gelos.

Theresa ·

Mense wat sterf a g v ‘n pad se onversorgdheid se familie moet die munisipaliteit dagvaar. Dis onsin dat mense hul geliefdes verloor omdat daar nie versorging toegepas word nie. Die tyd het aangebreek dat die owerhede op so ‘n manier gedwing word om hul plig na te kom.
Uitgeryde padvlakke (omdat taxis en trokke dit minag en daaroor en op grondstukke verbyskiet); potholes; padlyne wat nie DUIDELIK geverf is nie; stopstrate en robotte wat omgery is en nie weer ordentlik opgesit is nie, ens. ens. ens. Dagvaar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.