Só het moord by Clover gebeur

Terence Tegg (Foto: Facebook)

Die twee Clover-werkers wat daarvan beskuldig word dat hulle verlede maand ʼn lid van ʼn private veiligheidsdiens grusaam vermoor en ʼn ander een erg aangerand het, beweer die polisie het die verkeerde mans in hegtenis geneem.

Nkosinathi Mbatha en Mohale Shokane word aangekla van die moord en poging tot moord op onderskeidelik Terence Tegg en JJ Cassanga. Hul borgtogaansoek is Donderdag in die Tembisa-landdroshof aangehoor. Die staat staan borgtog teen.

Tegg, wat vir die private veiligheidsmaatskappy PPS gewerk het, is vermoor toe stakende Clover-werkers hom en sy kollegas op 17 Februarie met klippe bestook het.

Luidens beëdigde verklarings wat Mbatha en Shokane se regsverteenwoordigers in die hof voorgelees het, was albei mans “op die verkeerde plek op die verkeerde tyd” toe polisie hulle kort ná die aanvalle in hegtenis geneem het.

Volgens Mbatha, wat al 10 jaar lank by Clover werk, het hy en van sy kollegas die betrokke dag in drie busse van Clover se vervaardiging- en verspreidingsaanleg in Johannesburg na Boksburg vertrek. Dit was om ʼn memorandum van eise aan Clover se bestuur te oorhandig.

Die tweede bus is egter by die aanleg deur ʼn wit veiligheidsbakkie aangekeer nadat daar glo ʼn voorwerp na die wagte geslinger is. Tegg, Cassanga en hul kollega het na bewering die insittendes van die betrokke bus gekonfronteer. Die werkers in die ander twee busse het die konfrontasie gesien en buite die voertuie saamgedrom.

Dit is toe dat chaos uitgebreek het. Tegg, Cassanga en een van hul kollegas is glo met klippe bestook terwyl hulle rubberkoeëls op die skare afgevuur het. Tegg is tydens die aanval dood, terwyl Cassanga ernstige beserings opgedoen het. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Albei beskuldiges voer aan dat hulle nie by die aanvalle betrokke was nie, maar eerder probeer het om die chaos te ontsnap deur saam in ʼn naburige sakeonderneming weg te kruip.

“Ek was vreesbevange en was nie heeltemal seker wat aangaan nie,” verduidelik Mbatha. “Ek is sieklik, so ek probeer sulke situasies vermy.”

Volgens Shokane het die wagte daarin geslaag om die polisie te ontbied, waarna hy en sy medebeskuldigde in hegtenis geneem is. “Ek en my medebeskuldigde is van mekaar geskei en die polisie het vir my beeldmateriaal van die voorval gewys, maar ek kon nie sien wie op die video was nie,” sê hy. “Ek moes ook ʼn dokument onderteken, maar het nie geweet waarvoor dit is nie.”

Tembisa-landdroshof. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Albei meen hulle is onskuldig en beplan om op ʼn latere stadium só te pleit. Terwyl die hof stampvol van Shokane en Mbatha se ondersteuners was, is Tegg se verloofde, Michelle Bebbington, deurlopend deur geliefdes vertroos.

Die ondersoekbeampte in die saak het vir die staat getuig en meen die beskuldigdes behoort nie borgtog te kry nie. “Weens die openbare ontevredenheid oor die voorval en die erns van die misdaad, is ek van mening dat die beskuldigdes agter tralies moet bly tot die verhoor begin.”

Die ondersoekbeampte het die voorval as “brutaal” en “barbaars” bestempel en meen die staat het ʼn sterk saak teen die beskuldigdes met onder meer duidelike beeldmateriaal wat die twee mans met die voorval verbind en verskeie getuies wat die aanval – en die beskuldigdes se aandeel daaraan – gesien het.

Die burgerregteorganisasie AfriForum staan die polisie in die saak by om toe te sien dat geregtigheid geskied. AfriForum ondersteun ook Bebbington en Cassanga en sy geliefdes.

Die staking by Clover duur sedert November verlede jaar, met werkers wat eis dat die maatskappy afleggings en salarisbesnoeiings opskort. Daar is egter ʼn hofbevel teen die stakende werkers bekom om verdere beskadiging van eiendom te probeer verhoed.

Die borgtogaansoek sal op 29 Maart in die hof voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Corne123 ·

ja en varke kan vlieg. Sal enige iets se om hulle eie gatte te red nou

Petrus ·

Die organiseerders van die optog moet primêr verantwoordelik gehou word vir die ordelike verloop van die proses. Daarna moet alle amok-makers en geweldenaars vervolg word.
Maar, allereers moet die leiers aanspreeklik gehou word.

KhoiKhoi ·

Natuurlik was hulle myle ver van die toneel.
Die polisie het hulle met ‘n helicopter gaan haal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.