Só is dit by ʼn grondverhoor

Mense wat in Junie in Springbok in Namakwaland die eerste landwye openbare vergadering oor onteiening sonder vergoeding bygewoon het. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Vroegoggend al staan die motors ʼn plaat voor die Thusong-sentrum, ʼn gemeenskapsentrum in die oorwegend bruin woonbuurt Railton buite Swellendam in die Overberg-streek van die Wes-Kaap.

Die nommerplate vertel die verhaal van wie hier is: Hermanus, Riversdal, Mosselbaai, Swellendam, Caledon, Robertson, Montagu en sekerlik al die kleiner nedersettings tussenin.

Stap by die polisiemanne verby en jy kry ʼn nommer (233 in my geval) om aan te dui die hoeveelste persoon jy vandag is by die openbare verhore van die parlement se sittings oor ʼn moontlike verandering in die grondwetlike voorskrifte oor die onteiening van grond sonder vergoeding.

In die saal sit die parlementslede wat na Swelllendam gekom het agter ʼn lang tafel op die verhoog. Hulle is die helfte van die komitee wat uiteindelik die besluite gaan neem wat aan die parlement voorgelê sal word vir besluitneming. Die ander helfte van die komitee woon vandag ʼn soortgelyke vergadering elders in die provinsie by.

Voor in die saal is ʼn groepie EFF-lede besig om die aanvang van die gebeure te vertraag deur in die rondte te maal en te dreunsing. Maar dis Swellendam en die Overberg hierdie, so daar is nie vreeslik baie van hulle nie, en die res van die sowat 300 aanwesiges wag gemoedelik vir hulle om klaar te kry.

Gemoedelikheid is trouens ʼn oorheersende gewaarwording by hierdie spesifieke grondverhoor. Die Overberg is ʼn redelik gevestigde gemeenskap en die dorpe is klein genoeg dat die mense mekaar taamlik ken en eien en selfs toe-eien, ondanks verskille.

Die voorsitter is Louis Nzimande, ANC-LP uit KwaZulu-Natal in die Nasionale Raad van Provinsies. Hoewel die donkerbril, wat hy selfs binnenshuis dra, hom ietwat soos die baas van ʼn rampokkerbende laat lyk, is hy bekend as een van die beste, mees onpartydige en strengste voorsitters in die parlement.

Hy doen dan ook min of meer dadelik hierdie reputasie gestand deur die rasende rooies stil te maak en die reëls te verduidelik. Daar is sewe blokke sitplekke in die gehoor en uit elke blok sal vyf mense ʼn spreekbeurt kry voor middagete.

Elke mens kan praat in die taal van sy of haar keuse, en kry net drie minute, dan moet hy of sy ophou. As jy nie hou van wat iemand anders sê nie, mag jy hulle nie ontwrig nie, anders sal jy uit die saal verwyder word.

Die eerste paar insette kom almal van wit boere wat bly is dat die EFF die grondhervormingskwessie met ʼn parlementêre mosie aan die orde gebring het, en ten gunste van versnelde grondhervorming is, maar nie ten gunste van ʼn verandering aan die Grondwet nie.

Die eerste spreker sê hy verteenwoordig omtrent ʼn duisend boere en werknemers, en wys uit dat eiendomsbesit die basis van enige ekonomie vorm.

ʼn Tweede boer, Nico de Klerk, wys uit dat die staat se kapasiteit ver te kort skiet op alle gebiede, en dat hy dus ook nie glo die staat het die kapasiteit om grondhervorming sinvol te dryf nie. Min of meer dieselfde punt word deur al die boere gemaak.

Almal is mans, almal is wit. Hulle is van verskillende ouderdomme.

Party wys uit dat die bankstelsel in duie kan stort en dat werkloosheid in landelike gebiede die hoogte sal inskiet as grond onteien word. Die boere toon aan hoe hulle elektrisiteit verskaf aan hul werkers en werkers se kinders skool toe vervoer. Dit sal ophou as grond onteien word deur die staat.

Verskeie toon ook aan hoe hulle grond relatief onlangs gekoop en al hul spaargeld daarin belê het. Dit is nie net ʼn kwessie van onregverdigheid en oorerwing nie.

Die volgende sprekers is swart. Hul basiese punt is dat die grond by swart mense afgevat is en dat hulle dit wil terughê. Hulle wys uit dat daar nie mooi beskaafde verhore soos vandag hier in Swellendam was toe die grond van hul voorvaders afgeneem is nie. Verskeie maak ook aanspraak dat hulle wel kan boer, as hulle net die kans kan kry.

Hulle benadruk dat hulle in gruwelike armoede bly en dat die groot getal afsettings van plase aantoon dat die wit boere regtig nie vir hul welsyn omgee nie. Hulle voel ook vere vir die argument dat buitelandse beleggers deur onteiening afgeskrik sal word – hulle sien in elk geval niks van die buitelandse beleggingsgeld nie.

Almal is swart, van albei geslagte en verskillende ouderdomme.

Daar is geen wit mense wat ten gunste van ʼn verandering in die Grondwet praat nie. Baie min bruin mense – heeltemal die meerderheid in die omgewing – maak voorleggings.

Diegene wat dit ontgeld, is die swart mense wat teen onteiening praat. Nzimande voeg die daad by die woord en ʼn ANC-ondersteuner wat vuige aanmerkings skree teen swart mense wat teen die grondwetlike verandering is, moet die saal verlaat.

Maar oor die algemeen is dit ʼn regtig positiewe ervaring. Mense verskil op ʼn beskaafde manier oor die oplossing van wat na almal se mening ʼn groot probleem is. Daar is niks te sien van die haat wat glo in die noorde van die land by die verhore aanwesig was nie.

Die terugvoer is dat die verhore op Oudtshoorn en Beaufort-Wes ewe ordentlik verloop het, en dat die Wes-Kaapse platteland nou hul blik draai na die parlement, waar die meer as ʼn halfmiljoen skriftelike voorleggings nou aan die bod sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Lappies ·

Vader, gee vir ons ‘n tuisland dan mag ons U weer dien want in die land word ons daarvan weerhou in skole, selfs kerke word nou geteiken.

Belaglik ·

Hierdie afrikaners wat nog HOOP dat die ANC enige integriteit het is verlore. Jy kan hulle nie vertrou nie. Julle mooi praatjies by die onderhandelings beteken niks. Julle is soos n rot in ‘n strik wat spartel en die strik raak net al stywer om jou poot.

Anoniem ·

@Belaglik… Hierdie Afrikaners met hul hoop DOEN ten minste iets terwyl kritici soos jý op nuusblaaie kommentaar sit en lewer. As jy maar net op jou mishopie wil sit en vergaan, doen dit gerus. Die res van ons sal aanhou hoop en probeer, al verloor ons die stryd want ten minste kan ons dan sê ons het geveg vir wat reg is. ;-)

Celtis Africana ·

Die meerderheid boere wat aan debatvoering deelneem asook landbou organisasies blyk nie naastenby op dieselfde vlak van histerie te wees as ons gewone nie-boere nie.
Dit wil voorkom asof hul reeds n plan het en dus oënskynlike rustigheid ervaar. Na alle waarskynlikhied is dit n BEE plan.
Miskien moet ons hul in totaliteit uitlos dat hulself hul heil beredder. Ek het nog weinig indien enige versoek om hulp uit die boeregemeenskap gehoor.
Trouens, Dan Kriel, die president van Agri Sa, sê onder andere die volgende aan Willemien Brümmer in die Volksblad van 4 Augustus.
” Hy ontwyk die vraag oor Afriforum en sy veldtog teen plaasmoorde en sogenaamde ” rassistiese diefstal”.
“Ons kom uit n verlede waar n sekere groep homself bo n ander groep bevoordeel het en op die uiteinde homself geïsoleer het.”
” Dit is hoekom ons so sterk voel oor transformasie en grondhervorming, hoekom ons vir die regering sê ‘vertrou ons, ons kan die bedryf oopmaak’.
Die toekoms sal bepaal word deur gematigde Suid Afrikaners, nie randfigure, randorganisasies en mense wat links en regs van die tafel afval nie.
Ek verteenwoordig nie Afrikaners as n groep nie. Ek verteenwoordig ook nie n kultuur of taal nie. Ek verteenwoordig mense van alle rasse binne landbou. Ons het n blink toekoms, die ouens is progerssief…”
Hou dus op stress, die boere het n plan. Ons was net nie bewus daarvan nie.
Daar is nie n kat se kans dat Afrikaners gaan saamwerk nie. Vergeet dit!

Gerhard ·

Die boere in Zimbabwe het seker ook ‘n plan gehad, of so het hulle gedink. Wat eerder hier gebeur as dat die meeste boere weet hulle mors hulle tyd om daar te gaan onderhandel vir hul eie grond. Dit is net die tien progressiewes wat dink hulle gaan nog iets daar regkry.

Johan ·

Bly om te hoor die betrokke sitting het ordelik afgeloop. Van beelde op televisie, wil dit egter voorkom asof die ordelike of chaotiese uitkoms afhang van die politieke orientasie van diegene wat dit bywoon. In hierdie geval was die EFF in die minderheid en saam met die sterk voorsitter, het dit veroorsaak dat hulle hul moes gedra.

In ander areas waar die “onteiening-ondersteuners” in die meerderheid was, is nie-onteienings ondersteuners verskree en beledig. Dit is volgens televisie beeldmateriaal. As dit nie so was nie en wel ordelik, dan het die beeldmateriaal ‘n verkeerde beeld uitgedra. Maar ek twyfel.

Mens kan ongelukkig nie met sekere mense redeneer nie. Daar is bitter min indien enige respek vir ander mense se opinie onder byvoorbeeld die meeste EFF ondersteuners. Die gemiddelde EFF ondersteuner laat my dink aan die volgende wat ek gehoor het: ” Light travels faster than sound. This is why some people appear bright until you hear them speak”.

Gerhard ·

Dit is ‘n riem onder die hart om te hoor die mense het beskaaf heeltemal van mekaar verskil, dit terwyl die ANC reeds besluit het om grond te onteien en daar niks reg gekry is nie.

Nettie ·

Dan wil ek ook die grond wat in die 60’s van my maternale oupagrootjie afgevat is toe Dysselsdorp aangelê is (en waarvoor hulle ‘n minimale bedraggie gekry het, nie eens genoeg om ‘n ordentlike dorpshuis op Oudtshoorn te koop nie) terughê! Ek het nie bewys daarvan nie, net wat my ma my vertel – dat hulle gesê is die grond word opgeëis om ‘n kleurlingdorp daar aan te lê en “Dê, hierso is ‘n paar ponde en sjielings, loop koop vir julle ‘n huis in die dorp”.

Wonder ·

Hoe gaan daar bewys word dat sekere grond van sekere groepe afgevat is? As dit nie bewys kan word nie, MAG grond nie afgevat word nie!

HPV ·

Nou ja,.. Dan Kriel sê die boere het ‘n plan. Kom ons stadsmense los die boere dat hulle soos Mnr Kriel sê, hul “blink toekoms” en veiligheid self uitwerk. Die man glo werklik aan wonderwerke! Ons moet ook nie vergeet nie, Roelf Meyer is deel van die grondgesprekke, met ‘n man van sy statuur behoort die weggee proses seepglad te verloop. Sy vorige ondervinding in ag geneem…

Snowball ·

Het al gewonder waarom die staat nie “kibbutz” stelsels begin, waar mense ‘n heenkome en kos kry, gekoppel aan ‘n eerbare dag se werk nie? Terwyl hulle werk kry hulle die landbou en boerdery proses onder die knie en word hulle verantwoordelik gehou vir hulle deelname. Suksesse gekoppel aan insette. Dit kan landbou produksie verhoog en werkloosheid laat afneem.I

HPV ·

Snowball, baie goeie voorstel! Soos ons egter die mense ken sal iemand anders egter die werk moet doen terwyl hulle bakhand staan of die staat sal moet voorsien. Eerbare dag se werk? Weet nie so lekker nie…

Willie ·

In welkom het ons ook In lang rye gestaan,ons het geen nommers ontvang wat bepaal hoeveelste ons in die ry staan.Binne In die saal is daar vir groepe tot 20 nommers gegee,as jy jou saak wil stel ,20 stoele het in n enkel ry van die microphone na agter toe gestaan,mits jy n nommer het kan jy daar gaan sit..Die res het links en regs van die rye gesit net om te luister.

Lizl ·

Die ander sittings het nie vreedsaam verloop nie. Ek neem aan die hoeveelheid EFF lede bepaal dit, asook die hoeveelheid blankes en anders kleuriges wat dit bywoon bepaal grootliks hoe dit afloop. Jammer dat die blankes in Mpumalanga in hul minderheid dit bygewoon het. En dan, dit help tog niks, daar is lankal besluit wat die uitslag gaan wees. Hierdie is net om die buitewereld en almal vir `n rukkie aan die neus rond te lei.

Joshua ·

Vryheidsfront+, as julle nie nou begin onderhandel vir Selfbeskikking nie sal dit oor 5 jaar te laat wees.

Nikita ·

” Bull twang!” Nou gaan hulle nog steeds aan met die mondelinge insette. Hierdie openbaredeelnameproses is reeds gesien as n klug! CR het mos sy besluit aangekondig om die Grondwet te wysig en dit nog voordat hierdie openbaredeelnameproses afgehandel is. Hoop AfriForum kry dit reg in die howe om al hierdie openbare insette ongeldig te laat verklaar. Maak julle stemme dik AfriForum. Hoop nog steeds als sal omgekeer word. Wat kan ons anders doen as om te bly hoop. As elke siel in hierdie land gelukkig en te vrede gaan wees na die presiese “besluit” oor wat gewysig gaan word in art 25 sal dit n wonderwerk wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.