Só is Jackson vermoor, sê Louca

George Louca op 21 April 2015 in die hof Foto:  Narissa Subramoney, eNCA

George Louca op 21 April 2015 in die hof Foto: Narissa Subramoney, eNCA

George Louca het Dinsdag sy weergawe van die gebeure van Lolly Jackson se moord in die Palm Ridge-landdroshof voorgehou.

Die hof, wat as die Johannesburgse hooggeregshof sit, moes ʼn aansoek aanhoor sodat Louca vir mediese sorg vrygelaat kan word omdat hy in die finale fase van longkanker is. Hy het in ʼn rolstoel by die verrigtinge opgedaag, sy hoes probeer onderdruk en was baie bleek en maer.

Die hof het gehoor dat daar mense op bystand is om vliegtuigkaartjies te koop sodat hulle Louca na sy vrou en kinders in Ciprus kan vergesel indien die artikel 49e-aansoek deur die departement van korrektiewe dienste goedgekeur word.

Regter Geraldine Borchers wou weet of Louca na Suid-Afrika sou terugkeer vir sy hofsaak in die moord op Jackson toe ʼn verrassende wending plaasgevind het.

Louca (47) het na ʼn kort breuk sy weergawe voorgehou van presies wat die aand met die voormalige baas van Teazers se dood plaasgevind het, en hy het bygevoeg dit verduidelik waarom hy aanvanklik uit Suid-Afrika gevlug het.

Hy het gesê hy, Jackson en Radovan Krejcir, wat tans verhoor word in ʼn afsonderlike saak, het by sy huis vergader. Louca het gesê Jackson en Krejcir het oor ʼn beweerde vervalsde geldoordragkennisgewing gestry wat Krejcir glo vir Jackson gegee het.

Krejcir het Jackson glo gestamp en hom toe geskiet.

“Radovan het die geweer gevat en hom geskiet,” het Louca gesê.

Volgens hom wou Krejcir gehad het hy moet ʼn kombers gaan haal en dan van Jackson se liggaam ontslae raak. Hy het ʼn motor in die motorhuis begin skuif, maar het in sy angs met die kattebak te naby aan die motorhuis se muur agteruit gery. Daarna het hy vir Cyril Beeka gesien en besluit om weg te ry. (Beeka was ʼn sakeman en eienaar van veiligheidsmaatskappye en die media het in 2010 berig hy was die ooggetuie van Jackson se moordenaar. Hy is in Maart 2011 tydens ʼn sluipmoordaanval oorlede.)

Nadat Louca weg is, het hy [polisiegeneraal] Joey Mabasa gebel om hom te vertel wat gebeur het. Mabasa het hom aangesê om na die Harbour Cafe in Bedfordview te gaan. In sy gebroke Engels het hy die oproep tussen hom en Mabasa verduidelik: “Joey Mabasa het vir my gesê, ‘George, Radovan sal jou uit hierdie probleem haal’.” Net voor dié oproep het hy glo met Krejcir by ʼn vulstasie in Linksfield gesels. Toe hy na die Harbour Cafe is, het hy nie vir Mabasa gesien nie, maar Beeka en Krejcir het later opgedaag.

Volgens hom is Jackson op 3 Mei 2010 oorlede, die aand voor sy eie saak van gesteelde goedere in die Kempton Park-landdroshof sou voorkom.

Krejcir het later vir Louca gevra om saam met hom na die huis toe terug te keer, maar hy het geweier en van die liggaam ontslae geraak.

Krejcir het glo vir hom gesê dat ʼn persoon genaamd Michael by die Nicol-hotel hom sou help om te vlug. Hy kon glo egter oor die Mosambiekse grens vlug deur $1 000 bo in sy ID-boekie te plaas toe hy dit aan doeanebeamptes oorhandig het. Hulle het dit aanvaar en hy is oor die grens. Van daar is hy na Portugal en toe na Ciprus.

Louca het gesê hy is reeds in Ciprus gedreig nadat Krejcir hom gevra het om ʼn “agent” te word om dwelmmiddels te ontvang en te verkoop. Hy het glo geweier.

Volgens hom het hy ook die ondersoekbeampte, Pieter van Heerden, gekontak en herhaaldelik gesê hy sal terugkeer na Suid-Afrika indien die polisie sy veiligheid kan verseker.

Hy voer aan Mabasa en Krejcir was saam betrokke in korrupsie. “Joey Mabasa en Radovan doen groot sake saam en hulle het ʼn korrupte besigheid so Radovan is, baie eenvoudig, ʼn baie ryk een. Ek is arm.”

Hy het Borchers gesmeek om hom te laat terugkeer na sy vrou en vier kinders in Ciprus. “Laat my asseblief langs my familie wees. As dit gebeur, wil ek by my familie wees. Asseblief, asseblief, asseblief.”

Louca het aan sy suurstofmasker geteug en voortgegaan. “Ek het nie vir Lolly vermoor nie.”

Bron: Jenni Evans, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rene ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar as Louca vrygelaat kan word vir finale fase van long kanker, kan Derbi Lewis seker ook maar vrygelaat word om in vrede by sy huis te gaan sterwe.

SI ·

Ek stem ook saam … maar die verskil is Clive Derby Lewis het ‘n politikus vermoor …. en daarom sal dit nie so maklik gebeur nie

IS ·

Ek stem ook saam … maar die verskil is Clive Derby Lewis het ‘n politikus vermoor …. en daarom sal dit nie so maklik gebeur nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.