Só is optelbaba gered

Sers. Bilivana Hendrick Mbola en die baba wat polisielede by die Sinoville-polisiestasie Refentse gedoop het.

Die baba wat Vrydagoggend vroeg in die noorde van Pretoria opgetel is, se lewe is deur twee hawelose mans gered.

Só vertel Zelda du Plessis wat die oggend op pad werk toe was en deur dié twee mans voorgekeer is.

Die twee mans bly glo in die veld naby aan waar die baba gevind is.

Hulle het gesien hoe ’n vrou, vermoedelik die baba se ma, ’n wit plastieksak naby die vulstasie neersit en wegloop. Die baba, toe vermoedelik net ʼn paar uur oud, het geen klere aangehad nie en was in ʼn lap toegedraai binne die sak.

“Nadat die vrou die sak neergesit het, het hulle gaan kyk of daar nie dalk kos in die sak is nie. Hulle het groot geskrik toe hulle sien dat dit nie kos was nie,” vertel Du Plessis.

Sy het vroeg die oggend op pad werk toe by die Engen-vulstasie op die hoek van Dr. Swanepoel- en Sefako Makgatho-rylaan in Montana stilgehou.

“Hierdie twee jong hawelose outjies het histeries na my aangehardloop gekom en my van hul vonds vertel. Hulle het nie geweet wat om te doen nie. Die eerste ding wat ek hulle toe gevra het, is of die baba nog leef.”

Die twee mans het toe vir Du Plessis die baba gaan wys.

“Ek het nie geweet wat ek daar gaan kry nie. Ek het dadelik die ou lyfie in die sak gesien wat bibberkoud kry. Ek het my trui uitgetrek en dit om die baba gesit.”

Sy het die Sinoville-krisissentrum van die baba verwittig, wat weer die polisie in kennis gestel het.

Soos vroeër berig is die polisie en paramedici inderhaas na die toneel om seker te maak die baba is ongedeerd. Hy is daarna na die polisiestasie geneem – waar ʼn heldeontvangs op hom gewag het.

Johan van Dyk, woordvoerder van die Sinoville-polisiestasie, het gesê die polisielede het bykans tou gestaan om die seuntjie te vertroetel. Terwyl die nodige dokumentasie afgehandel is om hom na ʼn plek van veiligheid te neem, was daar geen einde aan die polisielede se gewerskaf om te verseker die baba voel geliefd nie.

“Die ou seuntjie het almal se harte geroer; dit het almal by die polisiestasie gevang,” het Van Dyk gesê. “Almal het ingespring en gehelp.”

Die seuntjie het bly koud kry, tot een van die vrouebeamptes hom styf teen haar bors vasgedruk en hy eindelik warm geword het.

By die polisiestasie is die seuntjie intussen Refentse – wat beteken “ons het oorwin” – gedoop. Hy is daarna na ʼn huis van veiligheid geneem.

Du Plessis sê as dit nie vir die twee jong mans was wat besluit het hulle gaan die baba help nie, sou hy dalk nie oorleef het nie.

Du Plessis glo sy was op die regte tyd op die regte plek.

“Die Here gebruik mens as ’n instrument. Ek glo ek en die jong mans is oor mekaar se pad gesit vir ’n rede. Ek wil iets spesiaal vir hulle doen, soos ’n fondsinsameling reël.”

Du Plessis het die Vrydagaand die mans gaan soek om hulle weereens te bedank.

“Hulle wou net heeltyd hoor hoe dit met die baba gaan en of hy oukei is. Ek het hulle vertel dat die baba veilig en in goeie hande is. Hulle was in ekstase.”

Die polisie het begin met ʼn ondersoek om die baba se ouers op te spoor.

Van Dyk het ʼn beroep op mense gedoen om in só geval ʼn kind na ʼn plek van veiligheid, ʼn polisiestasie of maatskaplike werker te neem om te verseker die kind kry behoorlike versorging.

“Moet asseblief nie net ʼn kind aflaai nie. As jy voel jy kan nie na die kind omsien nie, nader iemand of ʼn plek wat jou kan help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Hierdie is ‘n bitter-soet berig. Hoe gebeur dit dat ‘n ouer net ‘n weerlose kind op straat aflaai? Ek is so dankbaar dat hierdie kindjie deur die haweloses gered is. Mag hul geseën word vir hul daad.

Maar… mag die vrou gevind word wat die kindjie ge”dump”*het en mag sy die gevolge dra van haar uiters selfsugtige optrede. Daar is GEEN verskoning vir haar optrede nie. Daar is soveel organisasies wat met die grootste liefde sou help en soveel kinderlose paartjies wat smag na die kind wat sy as vullis weggesmyt het.

Androclus ·

ek hoop hulle kry daai vrou sodat sy tot verantwoording geroep kan word asb.Here amen

Dries ·

Ons moet die knie buig om te bewys/erken dat spesifieke lewens saakmaak. En dan kom daar nuusberigte soos hierdie.
#justsaying
Mag die arme kind se lewe van hier af net beter raak.

Loompa ·

Dit laat my bloed so kook.

My dogtertjie is laas jaar 1st. Oktober dood gebore en ek het nooit die voorreg gehad om my prinses huistoe te vat en ‘n lewe saam haar gegin nie……. en dan lees ‘n mense hierdie soort gebeurtenisse dan slaan my hart baie swaar op die grond neer.

Hoe kan enige persoon so koud en leeg wees om so daat ooit te kan aan dink en nog uitvoer.

So dankbaar vir daai 2 manne dat hulle ‘n prinses se lewe gered het.

Nozi ·

Loompa, ek stem saam, ons is almal baie dankbaar vir hierdie 2 hawelose manne. Let well dit is ‘n klein prinsie en nie preinses nie.
Sterkte aan die klein mensie. Mag die Heer ‘n Mamma en Pappa vir hom stuur wat hom tot in die afgrond in sal bederf en met tonne liefde oorlaai.

lollapot ·

My hart gaan uit na julle Loompa . . . en my gebed is dat God julle wel sal seen met baba!

LiveAndLetLive ·

Dankie tog die ou klein mensie is veilig, as jy nie kinders kan of wil he nie, gebruik voorbehoed middels.
Dit is uiters skokkend dat n vrou n hulpelose baba op straat in n lap en sak neersit en wegloop, in die hoop dat iemand hom sal kry, of nie??

Chantel ·

Hierdie gaan my verstand te bowe, mens weet nooit hoekom sulke dinge gebeur nie en waarop hierdie ma dit gedoen het nie. Ek wens daai klein lyfie net liefde toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.