Só is vermiste negejarige vermoor, hoor hof

Miguel Louw. Foto: Facebook.

Miguel Louw, die negejarige skoolseun van Sydenham wat vroeër vanjaar vermis geraak het voordat sy liggaam later gevind is, is “heel waarskynlik” dood as gevolg van versmoring.

Só het Rajan Govender, die ondersoekbeampte, Woensdag aan die Durbanse streekhof gesê. Govender het getuig tydens die borgtogaansoek van Louw se vermeende moordenaar, die 43-jarige werklose slagter, Mohammed Ebrahim.

Govender het vrae van Chris Gounden, Ebrahim se regsverteenwoordiger, beantwoord. Hy het gesê weens die erge ontbinding van die kind se liggaam kon die presiese oorsaak van sy dood nie vasgestel word nie, maar die patoloog het bevind Louw is “heel waarskynlik versmoor”.

Die datum van die seun se dood word nie op die nadoodse verslag aangedui nie, het Govender gesê, maar hy voer aan die kind moes kort na sy ontvoering vermoor gewees het.

Govender het aan die hof gesê die patoloog het bepaal Louw se liggaam is ontdek ongeveer so vier weke nadat hy begrawe is. Dit sal die tyd van sy dood plaas rondom die tyd wat hy laas saam met Ebrahim gesien is.

Gounden het dit egter gestel dit is bespiegeling dat die kind vermoor is op die dag waarop hy vermis geraak het.

Dit was Ebrahim se tweede dag in die hof waar hy aansoek doen om borgtog – die aansoek het reeds verlede week begin. Ebrahim is klein gebou en dit is moeilik om te hoor en te verstaan wat hy sê. Verlede week het hy aan die hof gesê Louw se ma, Raylene, is sy “meisie”.

Ebrahim het gesê hy het by Louw se huis gewoon “twee of drie dae per week” vir net minder as drie maande voor Miguel se verdwyning. Hy het los werkies om die huis gedoen om vir sy verblyf te “betaal” en het in hierdie tyd die familie leer ken.

Die staat voer aan Ebrahim het Miguel ontvoer omdat Raylene sy toenaderingspogings verwerp het.

Gounden het Woensdag aan die hof gesê Ebrahim hou steeds vol hy was in ʼn romantiese verhouding met Raylene, maar sy ontken dié bewering. Die twee het saam by ʼn slaghuis in Phoenix gewerk.

Miguel het op 17 Julie naby sy skool in Sydenham vermis geraak. Kringtelevisiebeeldmateriaal het later getoon hy was saam met Ebrahim by ʼn kitskosrestaurant waar Ebrahim vir hom kos gekoop het.

Ebrahim beweer dit is die laaste keer wat hy Miguel gesien het. Hy beweer hy het van daar ʼn taxi in die stad in geneem en is later na Phoenix.

Die gebied waar Miguel verdwyn het, is sowat 25 km van die plek waar sy erg ontbinde liggaam op 3 September in ʼn vlak graf gevind is. Die liggaam is gevind net ongeveer 100 m van waar Ebrahim in ʼn klein plekkie op sy ouers se eiendom gewoon het.

DNS-toetse het nege dae nadat die liggaam gevind is bewys dit is dié van die vermiste Miguel Louw.

Ebrahim ontken skuld op die aanklagte teen hom en sê hy het baie vir die seun omgegee.

Die borgtogverhoor sal vandag hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lee ·

Liewe Jesus hou asb hierdie mamma se hart styf vas.. ek is jammer my kind dat jy deur sò iets moes gaan..mag jy sag rus by Jesus se voete.

sus ·

Blyk eerder dat hy van Miguel wou ontslae raak omdat hy die seun gesien het as ‘n hindernis om by sy ma uit tekom …

BWA ·

OMW so hartseer
Ek voel hoe my hart uit my bors ruk
Geen ouer moet dit mos deurmaak nie
Dit is so siek
Mag die moordenaar kry wat hom toekom
Sterkte aan ouers en familie
Dis seker geen troos nie maar hy is gekry en nou kan hy waardig op sy plekkie op aarde le
En n pragtige engel by GOD se voete

KL ·

Jy kan n land meet met hoe sy mense kinders, vroue en diere behandel, die afgelope week se stories se baie oor SA.

Lizelda ·

Defnitief die wreedste manier om wraak teen n ouer te neem. Maar watse satisfaksie kry die moordenaar dan nou? Dis so hartverskeurend.

GM ·

Hy het vir die seun kos gekoop, en dit was die laaste keer wat hy hom gesien het. Hy het dus alleen taxi gery, en die kind by die kitskosrestaurant gelos? Of verstaan ek nou die berig verkeerd?

Brand ·

Dis die ding in SA. Mense word ten spyte van die huidige omstandighede steeds vertrou en dan daar gebeur sulke afskuwelike wrede dinge. Almal is nie wat hulle voorgee om te wees nie… Klink asof die ma hom tog wel nie heeltemaal vertrou het nie.

Leser ·

Dat so ‘n pragtige seun so ‘n lot moes deurmaak. My hart is bitter seer vir die mamma se part ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.