Só kan Dag Zero nog moontlik vermy word

krane-leeg-droog

Argieffoto vir Plumbwell Plumbing Services (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Daar word voorspel dat Kaapstad se krane nou teen 12 April sal droogloop, maar dr. Kevin Winter van die Universiteit van Kaapstad se Toekomsgerigte Waterinstituut het gesê daar is vyf dinge wat kan gebeur wat Dag Zero langer kan uitstel en die Stad Kaapstad meer tyd sal gee om die waterkrisis te bekamp.

Die nuus van die droogtekrisis in Kaapstad is wêreldwyd bekend. Almal sit regop en wag om die lot van die stad te hoor. Die Stad Kaapstad is desperaat om ʼn ramp te vermy en die gevolge van ʼn Dag Zero kan ernstig vir die stad wees. Boonop sal die munisipaliteit en die nasionale departement van water en sanitasie vir die katastrofe aanspreeklik gehou word.

Daar is egter vyf positiewe tekens waarvoor uitgekyk moet word wat Dag Zero kan verhoed, het Winter gesê. Hy reken dié tekens word ondersteun deur die data wat op die Stad se opsomming vir die Watervooruitskouing vir 2018 op die waterpaneelbord en weeklikse damvlakke-webwerf geplaas is.

1. Die krane van die landboubedryf word toegedraai

Dag Zero het reeds vir talle boere van die Wes-Kaap aangebreek. Dit is tragies dat dit vir sommige boere op die vooraand van die oestydperk gebeur het, maar teen die einde van Januarie sal boere wat water uit die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel put, die teikenverbruik van 58 miljoen kubieke meter bereik het en hulle krane sal toegedraai word.

Die landboubedryf gebruik ongeveer 47% van dié stelsel se watertoevoer in vergelyking met die 48% wat deur die Stad Kaapstad verbruik word. Dit beteken van Februarie af sal daar meer water uit die stelsel vir die stad beskikbaar wees.

Winter het gesê dit is ʼn geskenk wat die boere vir die stad sal gee. Die uitwerking van hierdie beperking sal eers volgende maand bekend wees, maar dit kan Dag Zero vir stedelinge uitstel.

2. Vlak 6B-waterbeperkings

Op 1 Februarie tree daar ook streng nuwe waterbeperkings inwerking. Verder sal ʼn nuwe hoër watertariefstruktuur waterverbruikers wat nie hulle watergebruik dramaties inperk nie, straf met ʼn sewevoudige toename in die koste van water.

Die nuwe beperkings sal hoë eise aan die stedeling van Kaapstad stel: Die jongste teiken vir waterverbruik sal die 500 miljoen liter per dag verder verminder na 450 miljoen liter per dag. Dit beteken elke inwoner in Kaapstad mag vanaf Februarie net 50 liter water per dag gebruik.

Winter het gesê dit sal nie maklik wees om die nuwe vlak te bereik nie, bloot omdat die teiken van 500 miljoen liter per dag nog nooit nagekom is nie.

In ʼn mediaverklaring van die Stad op 18 Januarie is daar beweer dat soveel as 60% van inwoners nog nie op die waterbeperkings ag geslaan het nie. Die Stad het gesê daar sal nou drastiese stappe gedoen moet word om teen verbruikers op te tree wat nie gehoor aan die pleidooi gee om minder water te gebruik nie.

“Die Stad het wel ʼn mate van beheer oor die aanvraag vir water en as die nuwe teiken wel bereik word, kan dit Kaapstad se bestaande watervoorraad rek.

“Op die oomblik gebruik inwoners 350 miljoen liter water per dag terwyl ander bedrywe soos handel, nywerheid, die regering en ander groot instellings 250 miljoen liter water verbruik. Die nuwe teiken van 450 miljoen gaan ʼn uitdaging wees, maar dit sal nie net deur inwoners vermag word nie, verbruikers uit ander sektore sal ook nou ernstig skouer aan die wiel moet sit,” het Winter gesê.

Winter meen die beheer oor waterverbruik sal waarskynlik die grootste impak hê om Dag Zero te voorkom.

3. Nuwe waterprojekte

Sewe nuwe waterprojekte kan binnekort ingestel word en sal Kaapstad se watervoorraad aanvul. Drie, moontlik vier, klein ontsoutingsaanlegte sal opgerig word, en twee projekte sal ondergrondse water by Atlantis en in die Kaapse Vlakte ontgin terwyl nog ʼn projek gebruikte water sal herwin. Hierdie projekte kan saam tussen 150 en 250 miljoen liter water per dag voorsien.

“Dit is ambisieuse projekte en sal in ʼn rekordtyd ingestel moet word. Die eerste projek wat water uit die ondergrondse watertafel ontgin, kan teen einde Februarie in werking gestel word en dié bykomende watervoorraad kan Dag Zero ook help vermy.”

4. Dit kan reën

“Dit is nog te vroeg om ʼn voorspelling oor die plaaslike winterreënval vir 2018 te waag en omdat ons al soveel keer teleurgestel is, is ons geneig om te vergeet dat dit steeds in die Wes-Kaap reën.

“Selfs gedurende die somermaande is daar ʼn paar dae van beduidende (enige iets meer as 1 mm) reënval. Dit is onvoldoende om die damme op te vul, maar ʼn ligte motreën en bewolkte weerstoestande kan help om verdampingsverlies te voorkom,” het hy bygevoeg.

Winter reken ook dat inwoners toenemend meer vaardig sal word om reënval te versamel en selfs ʼn klein hoeveelheid hiervan kan die individuele vraag op die munisipale aanbod verminder.

“Dit kan drie jaar neem om die damme weer heeltemal te hervul, maar dit kan net een goeie donderstorm in die volgende 76 dae neem om Dag Zero nog ʼn bietjie verder uit te stel.”

Volgens Winter het die streek ook ʼn knellende droogte beleef toe daar in April 2005 byna 100 mm reën in die opvanggebied rondom die Theewaterskloofdam geval het. Die eerste beduidende reën het daarna eers vroeg in Julie geval, maar daardie enkele April-donderstorm het die situasie gered.

5. Vertroue

Dag Zero is egter nie meer ʼn keuse nie en Kapenaars sal gelukkig wees as die sperdatum vermy kan word, maar dit sal nie sonder baie moeite gebeur nie.

Winter meen die dae van uitstel het nou plek gemaak vir planne en projekte wat die krisis in die korttermyn moet afweer. Dit sal ʼn langertermynstrategie word wat die watervoorsieningsplan tot 2022 vir die stad sal word.

Hy reken ervaring en kundigheid van stadsamptenare in die departement van water en sanitasie is nou besig om bo die politieke retoriek van die dag uit te styg. Daarbenewens maak die Stad ook nou gebruik van talle ervare professionele persone en konsultante wat hulle raad oor ʼn reeks waterbestuurstrategieë, insluitende tegniese, finansiële en beleidsake gee.

Winter het gesê Kaapstad kan ʼn gevallestudie van sukses vir die res van die wêreld word: “Die Stad het nou die potensiaal om die beste praktyke te demonstreer in die voorbereiding van ʼn stad om skielike aanvang van klimaatsverandering te hanteer.”

Hy het ook gesê die Stad kan inwoners se vrese besweer deur goeie verslagdoening oor vordering en weeklikse opdaterings, terwyl dit sommer ook ʼn kans is om ʼn sterker band van vertroue tussen die munisipaliteit en inwoners te bou.

“Ons verwag van die Stad se amptenare om nou sinvol op te tree, risiko’s noukeurig te evalueer en om vinnig op te tree om Dag Zero te vermy. Hulle sal ook aanspreeklik gehou word as hulle sou misluk.”

ʼn Openbare verbintenis

Winter het gesê dit is nou die tyd vir koeler koppe om beheer te neem.

“Ons het ʼn openbare verbintenis van alle Kapenaars nodig om Dag Zero te vermy en kan nie toelaat dat waterhulpbronne die welsyn van inwoners, die ekonomie en die ekologie weer in gevaar stel nie.

“In die tussentyd, laat ons kyk na hierdie vyf tekens van vordering – dit het die potensiaal om die verskriklike gevolge van ʼn Dag Zero te voorkom.”

  • Hierdie artikel is met die vergunning van die Universiteit van Kaapstad geplaas. Lees die oorspronklike Engelse artikel op die universiteit se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JA wohl ·

ARME Boere, daar gaat hulle weer, nou moet hulle weer ‘n ‘geskenk’ aan di emense in die stad maak, hulle lewens is permanent in gevaar, daar is reeds droogte, nou moet hulle nog die bietjie water wat hulle gebruik om produkte te verbou wat kos verskaf aan die honger mae OOK ophou gebruik. Julle is besig om die land te SINK, julle moes vroeer aan die ontsoutingsaanlegte gedink het, julle is sedert 2009 reeds gewaarsku. Vroeer ook, maar 2009 was daar ERNSTIGE waarskuwings wat die nuwe regering GEIGNOREER het, want solank daar water by ‘n kraan uitkom kan dit mos nie opraak nie NE?

Boer ·

“Die boere se geskenk aan die stad Kaapstad”
Onthou net die boere gebruik nie die 47% water persoonlik nie.
Dit word gebruik vir produksie wat weer werksgeleenthede skep.
Hier by ons in Limpopo is dit ook droog.die boorgat wat vir die huis en arbeidershuise water voorsien het, het ook opgedroog. Een van die boorgate wat vir produksie gebruik word moet nou die opgaartenk vir die huis ook volmaak.
Ons en die werkersmag bespaar. Die blomme in die tuin hang verlep en hulle groente- tuin vergaan ook. Die grasperk is vaal .
Dit is baie plekke droog. Die hele land smag na reen.

Ella ·

En wat gaan.ons eet? Julle moet beter na die boere kyk. Dis n skande wat met hulle gebeur. Draai nywerhede en myne se water toe. Ons kan nie steenkool en plastiek eet nie.

bgj van der westhuizen ·

as die stad net doktor de winte se raad na luister en sy voorstelle na kyk en begin was op n kursus waar hy toe gespreuk het oor water maar stad kaapstad luister na niemand nie hulle weet mos alles en bly se dit is net die mense wat nie bespaar nie ja daar is maar daar is baie wat bespaar maar as ons sien hoe water gemors mee word in die minderbevoorreg mense woon areas en al wat die stad se dit is nie so nie en op dag zero gaan hulle net die ou wit areas se water af sit maar dit is ook net ons wat betaal vir water die wat dit verniet kry gee glad nie om oor water nie

Daan ·

N stad wat 2 oseane het en hulle het nie water ,Ek is seker die onnosel een en nou moet die boere se water verminder word om nog n probleem te skep geen….kos

Niel ·

Interresante artikel.. Eks net bekommerd oor die voedsel sekerheid as boere moet ophou water gebruik.. Ek dink die grootste les wat ons nou leer is hou politiek uit dept van waterwese. Gee hulle die volse reg om mees ervare mense te gebruik in so n departement, dalk landbou ook. Geen BBBEEE mag hoegenaamd toegepas word op hirdie twee departemente, en ook geen besnoeing aan hulle begrotings. Dink dis die oorsaak van wanbestuur ens dat daar nie lankal werk gemaak was om te kyk na die lang termyn gevolge/beplanning/uitvoer van pligte. So ja, dis my wens dat hierdie 2 departemente outonoom moet wees en nie n politieke instrument mag wees of so iets in der voege.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.