Só kan Dag Zero ook in 2019 vermy word

Ian Neilson, adjunk-burgemeester van Kaapstad. Foto: ANA

Indien die gepaste waterbeperkings volgehou word, is dit moontlik dat Dag Zero ook nie in 2019 sal aanbreek nie.

Só het Ian Neilson, adjunk-burgemeester van Kaapstad, Dinsdag by ʼn mediakonferensie gesê. “Die vlakke van die damme wat water aan Kaapstad voorsien, het oor die afgelope ses weke voortdurend en aansienlik gestyg. Vandag staan die totale damberging op net meer as 43% en ons het nog twee maande se verwagte reënval wat voorlê.”

Volgens Neilson was die gesamentlike watergebruik vir Kaapstad oor die afgelope paar maande ongeveer 520 miljoen liter per dag. Teen die einde van die winter verlede jaar was die watergebruik 600 miljoen liter per dag – en die damvlakke op 38%.

“Ons is nou in ʼn posisie waar ons kan verklaar dat ons dit nie net reggekry het om Dag Zero in 2018 af te weer nie, maar dat ons ook veilig deur die somer van 2019 sal kan kom,” het hy gesê.

“Ons hoop dat ons in ʼn stadium binne die volgende paar maande in ʼn posisie gaan wees om die huidige beperkings te verslap, asook die tariewe wat daarmee gepaardgaan. Hierdie besluit sal egter moet wag tot die nasionale regering die beperkings op vrystellings uit die waterverskaffingstelsel verslap.”

Neilson het gesê hy het ʼn dringende vergadering met Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, versoek om hierdie kwessie te bespreek, asook ander sake rakende die stad se toekomstige waterbestendigheid.

Noudat die stad hul pad deur die onmiddellike droogtekrisis gevind het, is ʼn hersiening van sy waterverskaffingstrategie en aanvullingsplanne nodig om te verseker dat die maatreëls wat gedurende die waterkrisis gewerk het ook gepas is vir langtermyn-volhoubaarheid.

“Ons is besig om ons Nuwe Waterprogram te hersien, in besonder ons toekomstige watermengsel en die rol van permanente ontsouting in die toevoermengsel. In hierdie verband werk ons ten nouste saam met ʼn aantal plaaslike en internasionale vennote, insluitend die Wêreldbank, die Stockholm International Water Institute en die 100 Resilient Cities, om te verseker dat ons hersiene program die beste moontlike reaksie op ons realiteit is,” het Neilson gesê.

Die stad sal ook saam met die nasionale regering sit om kwessies uit te sorteer rakende hulpbron-toekenning om die volhoubaarheid van waterbronne te verseker, asook ander probleme wat gedurende die droogte aan die lig gekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.