Só kan hoër onderwys befonds word

SFS-befondsingsmodel-01

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, dr. Danie Brink, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum het Dinsdag ʼn alternatiewe model voorgelê vir hoe behoeftige student gehelp kan word om te studeer. Foto: Marlien van der Westhuizen.

Gratis hoër onderwys kan die staat, konserwatief gereken, ʼn bykomende R34,6 miljard uit die sak jaag in die eerste jaar van die implementering daarvan.

Hierdie koste sal ook aansienlik in die tweede, derde en vierde jaar van die implementering van die plan toeneem soos wat inflasie, stygende studentegetalle en groeiende studentverwagtinge toeneem.

Dit is iets wat die staat met sy buitensporige hoë skuldvlakke tans eenvoudig nie ook nog kan bekostig nie, meen Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep.

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) het Dinsdag ʼn verslag bekendgestel waarin die sentrum ʼn volhoubare model vir die finansiering van tersiêre onderwys voorlê.

Pres. Jacob Zuma se beloftes van gratis tersiêre onderwys in Desember vanjaar tydens die ANC-leierskapkonferensie het onderwyskenners en ekonome bekommerd oor presies hoe die staat beplan om die planne te finansier.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van SFS, moet die staat veel eerder fokus op ʼn model wat rentevrye studielenings vir studente moontlik maak as kommersiële banklenings omdat die rentekomponent van die soort lenings dit moeilik maak vir studente om hulle skuld te delg.

“Ons het ʼn volhoubare pad uit armoede en die model is al vir die afgelope dekade suksesvol getoets. Met ʼn rentevrye lening leer dit studente die verantwoordelikheid om terug te betaal maar sonder die las van drie tot vier jaar se opgelope rente wat hulle moet terugbetaal,” het Pieterse gesê.

Die sentrum het op hierdie wyse reeds R164 miljoen se rentevrye studielenings oor die laaste nege jaar aan 8 281 studente beskikbaar gestel.

SFS se model is daarop gegrond dat ʼn donateur, hetsy ʼn maatskappy, persoon, instelling of trust, ʼn student deur die sentrum finansieel help om te kan studeer. Sodra die student sy of haar studie voltooi het, moet die student die lening terugbetaal en op dié manier word die volgende student se studies weer gefinansier.

“Dit is ʼn model wat al oor en oor bewys is en uitstekend werk. Dit is baie meer volhoubaar as ‘gratis’ hoër onderrig,” het Pieterse bygevoeg.

Roodt het gesê hy beaam die syfers van die ekstra skuldlas van gratis hoër onderwys op die staatskoffers.

“Ek is bevrees ons span die kar voor die perde in en gee aandag aan die mense wat die meeste lawaai maak. Ons het beslis ʼn krisis met onderwys maar die nasionale ramp lê by primêre onderwys.”

Roodt meen dat die swak primêre onderwysstelsel al gaande swakker studente na universiteite sal deurgee, wat ook gaan beteken dat uitvalle van studente op dié vlak al groter sal word.

“Die baie geld wat nou aan tersiêre onderwys gespandeer gaan word sal uiteindelik bydra tot groter armoede en net daarin slaag om die gaping tussen rykes en armes te vergroot. As jy ongelykheid in die land wil takel moet jy begin by primêre onderwys.”

Hy het verder gesê mense moet eerder daarop fokus om vaardighede te kry sodat hulle hul eie ondernemings kan begin.

Roodt meen dit sou soveel makliker wees as maatskappye studente kon identifiseer en vir hulle studies kon betaal sodat hulle dan daarna die studieskuld kon terugbetaal deur by die maatskappy self te werk. Hy het gesê dit gebeur deesdae al hoe minder na mate die staat die maatskaplike rol begin inneem het.

“Die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) is ʼn reusegemors want die staat is ʼn reusegemors, daaroor kan ek ure praat. Die staat se finansies is in ʼn krisis en daar is te veel skuld, daar is nie geld vir hierdie plan nie. Zuma was heeltemal onverskillig om hierdie aankondiging oor gratis hoër onderwys te maak.”

Dr. Danie Brink, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het gemaan dat ʼn mens nie ligtelik met die woord ‘gratis’ moet omgaan nie: “Tersiêre onderrig kan nie gratis wees nie, al wat dit beteken is iemand anders gaan daarvoor moet betaal.”

Volgens Brink het hulle gaan navorsing doen onder studente wat uit die JD Kestell-fonds by die sentrum gehelp is, om te bepaal of dit werklik gehelp het om armoede by die studente te voorkom.

“Ons het bevind 80% van die studente voel hul studies het hul loopbaan bevorder terwyl 76% gesê het hulle voel veiliger in hul beroep nadat hulle hul studies voltooi het. Soveel as 97% van die studente het ook gesê hulle sal hul familie en vriende aanbeveel om verder te studeer.”

Brink het bygevoeg dat 45% van die studente wat aan die verslag deelgeneem het en tussen 2013 en 2017 studeer het se posisie finansieel reeds “definitief” verbeter het.

“Ons by die SFS fokus eerder op gelyke geleenthede as gelyke uitkomste. Die navorsing met die JD Kestell-verslag het getoon dit is wat ons regkry om gelyke kanse vir behoeftige studente te verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Eish ·

Ek is daarvan oortuig dat die voorgestelde model deeglik nagevors en beproef is. Dit is egter n perd van n ander kleur om dié sisteem aan die meerderheidsregering en sy paternalistiese navolgers te verkoop. Politiek loop dik en taai dwarsdeur logika en beginsels.
” … want die staat is n reuse gemors…”
Dit is eenvoudig wat die staatsentiteite in ontaard het. Spaar jul asem en moenie die pêrels vir die varke gooi nie.

Sim ·

Terugbetaal na studies? Dis seker ‘n grap. Als sal afgebrand word as daar geeis word vir terugbetaling.
Jy praat van mense wat dink alles word verdien en as jy nie kry wat jy glo jy verdien dan brand jy dit af.

Jack Klok ·

As almal wat so lustig op die trein van korrupsie en bedrog aangekla word, al die geld wat hulle onwettig bekom het teruggevorder word, al die geld wat deur swak en onbevoegde bestuur verlore gegaan het terug geeis en gevorder word van wie ook al verantwoordelik was, ja as die steeds voortsuwende vermorsing op ‘n oorbemande en opgeblase staatsdiens ingekort kan word, die koste van regering met sy honderde Ministers en duisende raadgewers, aanhangers en mede kripvreters ingekort kan word … ja dan behoort ons gratis onderwys te kan bekostig.

In elk geval, iets wat jy gratis ontvang word minder waardeer as wanneer jy dit in die sweet van jou aanskyn verdien het.

Sarie ·

E k stem saam as mens alles verniet ry waardeer niemand dit nie en daai bakand word al hoe bakker en al hoe dieper en alles moet maar net aanhou verniet wees. Ek stem vir rentevrye lenings wat nadat hulle afgestudeer het, dan terugbetaal word. Miljoene studente het al so gestudeer en die stelsel werk al vir baie jare uitsetekend

Casper Labuschagne ·

Hier is ‘n plan om gratis onderwys, gratis gesondheidsorg, vet salarisverhogings vir staatsamptenare en wat nog te befonds – koppel dit alles aan die BTW koers. Hoe meer bestee word, hoe hoër die BTW koers en laat die omgekeerde ook geld waar die koers afkom as staatsuitgawes besnoei word. Miskien sal die boodskap dan die een of ander tyd verstaan word.

Gemaskerde Sopbeen ·

Gaan dieselfde stelsel dan in plek wees vir ouers met kinders in hoërskole……..waar ‘n Gr8 – Gr12 matrieksertifikaat kursus ‘n ouer tot R160 000,00 kos? (En dis NET skoolfonds…..NIE al die ander “must haves” nie!!)

Gemaskerde Sopbeen ·

As die regering begin my “gratis onderwys” by publieke skole……..sal ouers geld hê om kinders universiteit toe te stuur…en te betaal. As jy 3 kinders deur Hoërskool het…..is daar nie meer geld oor vir verdere studie nie!! Nou sit jy met 3 Hoërskool kinders met 3 nuttelose matrieksertifikate…….wat jou amper ‘n half miljoen gekos het…….en jou kinders kan nie verder studeeer nie………..

Albaster ·

Die oplossing le in tegnologie, aanlyn leer. Die universiteite soos die op Coursera wat Wits insluit, is die universiteite wat gaan oorleef. Dit is die oplossing, so eenvoudig soos dit.

B-man ·

Ja, en die ‘behoeftiges’ kan dan net ‘n toestel en data gegee word wat baie goedkoper is as klasdraf, behuising en voedsel. Die geld moet dan eerder gefokus word op grondslagfase onderwys. Gr.1-leerlinge gaan gratis skool, die jaar daarop Gr.1 en 2 en so aan. Wanneer daardie kinders Gr.12 klaar maak, is hulle baie meer bemagtig om suksesvol te kan studeer. Maar tot dan word die massas net meer en meer, bly onbemagtig en oningelig… en stem ANC.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die regering kan begin met “gratis opvoeding” by publieke skole!! As ‘n ouer 3 kinders deur hoërskool het, teen ongeveer R500 000,00, sit jy met 3 kinders met 3 nuttelose matriek sertifikate waarmee hulle nie werk kan kry nie, en daar is net eenvoudig nie meer geld om verder te gaan studier nie. Maak skoolfonds NUL………dan sal ouers geld hê om universiteite mee te betaal vir hoër onderwys!!!

Kopbeen ·

Sopbeen, dalk moet sommige ouers eerder net 2 kinders hê???
Nee, ek het nie net 2 kinders nie, ek het genadiglik geen kinders nie. :):)

Anoniem ·

Dis ‘n pragtige idee… Maar… Wis eers korrupsie uit dan praat ons weer! Die klem was op GRATIS studies, nie STUDIELENINGS nie… Hulle sal daaroor ook oproerig raak! Wag en kyk!

Anton ·

Probleem is dat om arm te wees is nie n meriete nie. Gee gratis opleiding aan kinders wat konstant van graad 8 tot 12 deur hoerskool hoer as 80% vir beide regte wiskunde en wetenskap behaal het. Om te begin bied dit net aan die wat Ingenieuerswese wil studeer. Maak die imkomste perk van ouers hoer. As die model werk brei dit uit na meer vakrigtings wat die n tekort aan het. Studente moet die belegging terug betaal met tyd in diens van die staat. Die rede hoekom dit en beter oplossings nie toegepas word nie is hoekom wil die regerende party dan nou n klomp slim kiesers he wat vir hulself kan dink?

Anton ·

Op die oomblik verloor die land al die beste talent aan oorsese weivelde omdat hulle nie “behoeftig” genoeg is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.