Só kan kerke hulself beveilig

‘n Kerk in Suid-Afrika. (Foto: X)

Toenemende misdaad by kerke, waartydens gemeentelede in sekere gevalle selfs tydens die diens aangeval en beroof word, het die afgelope tyd drasties toegeneem. Daarom, sê AfriForum, het sy afdeling vir gemeenskapsveiligheid ʼn assesseringsdokument uitgereik wat kerke as riglyn in die verskerping van hul veiligheid kan gebruik.

“Rowers beskou kerke dikwels as ʼn sagte misdaadteiken en die toenemende voorkoms van aanvalle by kerke is sprekend daarvan,” sê Jacques Broodryk, AfriFroum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Hy wys daarop dat meer as 1 500 gemeentes Faith Mazibuko, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, net in November verlede jaar genader het om juis bewustheid oor die voorkoms van misdaad by kerke te skep.

In Oktober verlede jaar het vier gewapende mans tydens ʼn aanddiens by die Gereformeerde Kerk Daspoort in Pretoria ingestorm en lidmate beroof. Die boewe het die slagoffers een vir een met hul wapens genader en hul selfone, beursies en juwele gesteel. In Julie 2020 is twee verdagtes tydens ʼn rooftog by ʼn kerk in Centurion doodgeskiet.

Volgens AfriForum word die basiese reg op ’n veilige omgewing deur hierdie misdade ondermyn en kan daar nie net toegekyk word hoe die regering en wetstoepassers ongeërg hierteenoor staan nie.

“In die verlede het die regering sy verantwoordelikheid ten opsigte van die beveiliging van gemeenskappe nagekom en dit was nie nodig vir sekuriteitsmaatskappye of ander instansies om kerke te beveilig nie. Kerkleiers fokus dus nie noodwendig op die ontleding van risiko’s en die daarstel van veiligheidsmaatreëls nie,” sê Broodryk.

“Dié leemte ten opsigte van beveiliging moet gevolglik dringend hanteer word, aangesien misdaad aan die toeneem is en daarom het AfriForum hierdie assesseringsdokument uitgereik.”

AfriForum wil kerke graag ook so bemagtig om proaktief op te tree deur ’n oudit te doen van die veiligheid van die kerk en sy lidmate, en deur maatreëls gereed te hê om die veiligheid van lidmate in kerke te verbeter.

Die handleiding gee onder meer leiding oor hoe om op te tree in geval van ʼn brand, gewapende roof, mediese insident of ontvoering.

Die organisasie nooi ook kerke om kontak te maak met AfriForum-buurtwagte in hul gemeenskappe om groter samewerking ten opsigte van veiligheid te bewerkstelling.

“Voorvalle van misdaad by kerke het die afgelope tyd gewys dat kerke nie voorbereid is op die gevare wat misdaad inhou nie. Daarteenoor is ’n voorbereide kerk – wat die nodige veiligheidsmaatreëls het én volg – ’n moeilike teiken vir misdadigers en sal die kriminele heel moontlik hul fokus verskuif. Boonop kan ʼn voorbereide kerk die risiko’s en impak van misdadige aktiwiteite doeltreffend verminder,” sê Broodryk.

Die assesseringsdokument is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Ai, dis darem tragies dat dinge in hierdie land tot so n vlak gedaal het… Kerke!?

Piet Snot ·

“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.”
Matt 10:16.
Ons moet maar versigtig wees.

Danie ·

Skiet eers. Vra dan enige vra. Dan het jy in elk geval die ontmoeting bewerkstellig. Kans is dan ook uiters goed dat die misdadiger baie warm gaan kry as gevolg van die ontmoeting en uitslag.

Michael ·

Tye het verander dit het tyd geword dat cz,baretta en sig sauer voorgestel word en saam die dienste bywoon.

Vrijburger ·

In Texas is daar by elke diens ‘n polisie beampte of twee. Van die kerke maak ook gebruik van gewapende gemeentelede tydens die diens (gewoonlik ex-milliter ens). Vermoed dit is SA se voorland – behalwe die polisie beampte sal eerder ‘n private veiligheidswag wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.