Só kan regering Covid-19-lyers naspoor

‘n Argieffoto ter illustrasie van ‘n selfoontoring. (Foto: Pixabay)

Die rampregulasies maak dit moontlik vir die regering om selfoontegnologie te gebruik om diegene wat na verwagting aan die koronavirus blootgestel word, te monitor ten einde hulle op te spoor en te laat toets.

Die maatreëls verbied die regering spesifiek om die tydperk te gebruik om mense se selfoongesprekke af te luister of hul SMS’e te lees. WhatsApp-boodskappe is in elk geval gekodeer en word nie onderskep nie. Hoe dit werk, is dat selfone voortdurend in verbinding bly met selfoonmaste, waar ʼn mens ook al in die wêreld is. Die regering gebruik dus dié inligting om individue na te spoor. Google Maps en die taxidiens Uber maak van soortgelyke tegnologie gebruik.

Elkeen wie se bewegings deur die owerhede in samewerking met die selfoonmaatskappye nagegaan is, moet luidens die regulasies binne ses weke ná die einde van die afsonderingstydperk skriftelik daarvan in kennis gestel word.

Die regering gebruik lankal selfoontegnologie om mense se bewegings en kommunikasie te monitor, maar tot dusver is dit slegs deur die polisie en intelligensiedienste gebruik, asook streng gereguleer. Met die instel van die tydperk van algehele afsondering is hierdie regulasies uitgebrei om die bewegings van diegene wat met koronavirusdraers in aanraking was, te monitor.

Wetgewing bepaal dat sodanige monitering slegs kan plaasvind met die toestemming van ʼn toesighoudende regter of afgetrede regter, wat spesifiek vir daardie taak aangewys word, vir ʼn beperkte termyn, sodat nie sommer enige regter so ʼn bevel kan uitvaardig nie, en sodat die toesighoudende regter kan agterkom as die regte deur herhaalde versoeke misbruik word.

Oudregter Kate O’Regan. Foto: Oxford

Maroela Media het die naweek berig dat afgetrede regter Kate O’Regan aangestel is om dié optrede te monitor.

Sy kry elke week ʼn verslag van presies wie se selfone wanneer gemonitor is, en hoekom.

Die toesighoudende regter moet jaarliks ʼn verslag uitreik om te verseker die wet word gehoorsaam. Dit het al vantevore meermale uit hierdie verslae, wat by die parlement ingedien word, geblyk dat die korrekte prosedure nie deur die owerhede en selfoonmaatskappye gevolg is nie, en dat ʼn onaanvaarbaar hoë persentasie selfoonmoniterings agter die toesighoudende regter se rug gebeur.

Die versekering dat streng by hierdie voorskrifte gehou sal word, is wel gegee deur die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van polisie, genl. Bheki Cele, en die minister van justisie, Ronald Lamola.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandy

Is dit nie lyers nie – of verstaan ek die berig verkeerd?

Jack

Natuurlik sal dit verkeerd gebruik (misbruik) word, want Cele is betrokke. Hy is magsbehept en maak sy eie reëls. Dus word onskuldiges getrack en dan geforseer om hulle te laat toets. Natuurlik is hierdie die begin en deel van die Nuwe Wereld Orde agenda van beheer !!!!!!

Deon

As hulle jou nommer het om jou op te spoor, hoekom bel hulle jou nie net nie?