Só ketting ons óns aan monumente, sê Solidariteit en AfriForum

Sunette Bridges. Foto: Phillip Bruwer

Sunette Bridges. Foto: Phillip Bruwer

“Ons sal die vernietiging van die standbeelde met alles tot ons beskikking teenstaan.” Só sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, na aanleiding van die herrie wat op die sangeres Sunette Bridges se Facebook-blad losgebars het.

Om hierdie standpunt te ondersteun het die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, vandag ʼn tienpuntplan vir die beskerming van Afrikanerbeelde bekendgestel [lees die volledige plan hier].

Dit volg nadat Bridges verskeie organisasies, waaronder AfriForum, gekritiseer het na aanleiding van Woensdag se byeenkoms by Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein, waar honderde mense bymekaar gekom het in protes teen die vernietiging van Afrikaners se erfenisskatte. By dié geleentheid is Bridges simbolies aan Kruger se standbeeld vasgeketting. Bridges het dié organisasies gekritiseer oor hul besluit om nie by die byeenkoms betrokke te wees nie. Instansies soos AfriForum, Solidariteit en die Orania Beweging het besluit om nie die byeenkoms te ondersteun nie.

Bridges het op Facebook geskryf: “Kyk, ek hou nou al lank my mond oor die spulletjie, maar vandag is ek klaar daarmee. Ek verwys nou na die AfriForum/Solidariteit/Orania Beweging/FW de Klerk Stigting-bedmaatjies op hul kamma morele hoëgrond-perdjie wat NIKS en NIEMAND steun as hulle, in hul eie woorde, nie die aksie SELF geloods het nie. Eintlik is dit maar net ander woorde vir “As ons nie ’n geldjie uit ’n SMSie kan maak nie. [sic].”

Kriel het gesê AfriForum neem kennis van die samesweringsteorieë wat Bridges oor hulle en ’n paar ander Afrikaner-organisasies versprei. “Bridges se bewerings is eenvoudig vals. Ons het probeer om die feite op haar Facebook-blad te stel, maar sy het dit summier verwyder.

“AfriForum respekteer ander organisasies se reg om aksie ter beskerming van standbeelde te neem,” het Kriel gesê. “Daarom is daar van AfriForum se kant af geen openbare ‘aanval’ op Bridges se aksie by Kerkplein in die Pretoriase middestad nie.”

Dit is egter ʼn feit dat AfriForum nie aan Bridges se byeenkoms deelgeneem het nie, het hy gesê. “Die rede is dat AfriForum nie gemaklik is met selfaangestelde ‘offisiere’ wat bekend is vir hulle uitsprake, wat Afrikaners se beeld benadeel, en met militêre uniforms by die aksie opgedaag het om die aksie te diskrediteer nie.”

Volgens Kriel moet Afrikaners se billike aansprake nie ondermyn word deur die ondeurdagte optrede van ʼn paar individue nie. “Dit gee aan ons opponente skietgoed om ons saak te benadeel. Kom ons red nie net Afrikaners se standbeelde nie, maar ook Afrikaners se beeld.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê hy beleef die skending van monumente ook as ʼn aanval op hom. “Soos die meeste van julle kook my bloed hieroor. Die EEF en die ANC tree op soos oorwinnaars wat alle simbole van ʼn vorige orde wil vernietig. Die ironie is dat hulle soos kolonialiste optree wat wil oorneem, inlyf en vergryp.

“Paul Kruger simboliseer die teenoorgestelde, naamlik ʼn lewe wat gewy was aan teenkanting teen koloniale oorname en dié van ’n mens wat gestaan het vir vryheid. Kruger het gesê dat uit die verlede geneem moet word wat goed is en dat ʼn toekoms daarop gebou moet word.”

Die vraag is hoe hulle as Solidariteit op die monument-debakel antwoord, het Hermann gesê. “Uit Oom Paul se idees weet ons dat ons uit die verlede moet neem en ʼn toekoms moet bou. Ons moet dus aktief ons verlede in beskerming neem en Oom Paul en sy idees beskerm. Oom Paul word die simbool van alle monumente en van ons historiese erfenis. Ons gaan hier bly, maar ons gaan nie stilbly nie.”

Klik hier om die volledige plan te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anton Visser ·

Ek is jammer maar ek glo nie meer wat Solidariteit en of Orania meer se nie! As julle se julle sal “alles in julle vermoee doen” moes julle daar gewees het woensdag! Maar nee julle skuil agter jul eie verwaandheid weerspieel deur Mr Jaco en nog n tienpunt plan om van ons geld te vra! Dan sit julle op julle gemakstoele en deel ons geld uit en se julle het dit en dat gedoen! Jammer maar ek val nie meer vir daai slenter nie as daar mense is wat al jul sms veldtogte glo en wil sponser laat hulle dit doen maar nie ek nie!
Tot julle groot menere van jul troointjies afklim en moue oprol en saam werk met die volk dan eers sal ek glo wat julle se tot dan kobaai!

Bruno Stef ·

Maak julle maar reg vir n stryd wat nie gou gaan eindig nie.Die kommuniste toets net die water deur te begin met hoofsaaklik koloniale beelde en die reaksie daarop wat sal lei tot uiteindelike verwydering.Hulle is deeglik bewus wat koloniaal en Afrikaner beelde is maar ek wil n beroep op die partye wat ons ondersteun weerhou julle om mekaar aan te val dit is presies wat die Liberale Media wil bereik om n onderlinge twis te bewerkstellig.

Jan ·

Klink alles pragtig, maar julle mis die hele punt! Die aanslag is nie teen die beelde as sulks nie, maar teen elke blanke in die land! Hierdie is ‘n “softhands” strategie wat boggerol gaan help. Al word al die beelde afgebreek, die aanslag bly! Skrik wakker !

Herman ·

Anton, ek stem tot n groot mate saam met jou. Netso saam met Afriforum en Netso saam met Sunet en Steve. Ek dink egter ons moet die verskille tussen drie kan identifeseer en sodoende as een groot groep “Afrikaners” saamstem om te verskil. Wat ons nodig het is n ware leier, soos Oom Paul of De La Rey. Daar was die KKNK alweer n groot sukses en dit nadat hulle ons as Afrikaners die reg op vryheid van spraak ontneem het. Ek is bevrees tot die gemiddelde ou op straat nie geleer het dat om SELF n verskil te maak nie, kan Steve, Solidariteit en Oom Paul ook maar vergeet daarvan.
Ek sal NOOIT weer KKNK toe gaan nie.
Ek het nie meer n TV in my huis nie. So ek kla nie oor DSTV en SAUK nie.
Ek behoort aan die buurtwag. Ek verwag absoluut niks van die polisie nie.
Ek eet nie meer by restaurante waar buitelanders en engelsprekendes my bedien nie.Daar is genoeg goeie restuarante wat my as n klient respekteer en my taal praat.
My vrou maak self die huis skoon.
Ek werk self in my tuin. As jy dit nie kan doen nie, pave die hele bleddie plek, maar ek gaan nie misdaad so na my huis toe nooi nie.
Gee eerder vir Solidaritiet R10 as vir die wit ou by die verkeerslig.
Ons kan net verskil maak as almal tuis begin, Solidariteit kan help met sulke aksies.
Steve kan die verkoopsman wees vir sulke aksies en dalk net hopelik kom daar binnekort n Oom Paul te voorskyn.

Ian ·

Solidariteit en Afriforum se dae is getel. Ons is moeg daarvoor dat ons geld goed genoeg is maar ons velkleur is nie. Die blankes het julle gebring tot waar julle nou is en sal julle weer afbreek tot niks. Om n leeuaanval teen te staan gebruik jy nie n poeierkwas nie. Word wakker en doen waarvoor julle betaal word.

Rudi ·

Geagte kritici: as julle dink dat AfriForum en Solidariteit niks doen nie, net omdat hulle by een geleentheid noe teenwoordig was toe Steve Hofmeyr wel daar was nie (al is die teenoorgestelde situasie die norm), dan maak julle ‘n fout.

Ek self dra ongelukkig nie meer tot AfriForum se SMS-veldtogte by nie, want elke keer as ek dit doen dan kom kla hulle call center by my en vra dat ek ‘n lidmaat moet word en ‘n debietorder teken al kan ek dit tans (sonder ‘n vaste salaris) glad nie bekostig nie. Ek wens dit sou verander sodat ek weer kan bydra sover as ek dit kan bekostig, sonder dat iemand my elke keer bel en om my ore sanik.

Maar genoeg gekla. Kyk bietjie om julle hoe baie AfriForum werklik doen. Mense wat dink AfriForum doen nie genoeg nie, dra net hulle eie onkunde op die mou.

Albert ·

Sunette se argument dat AfriForum/Solidariteit/Orania Beweging/FW de Klerk Stigting-bedmaatjies is en dat hulle NIKS en NIEMAND steun as hulle nie die aksie SELF geloods het nie is nie vreemd nie aangesien ek self al tot dieselfde gevolgtrekking gekom het en dit al van verskeie mense en instansies gehoor het.

Drieks ·

AfriForum veg vir ONS ALMAL in die land. Ons is baie volke hiersaam en moet almal die land help werk. Ek verstaan wat Sunet en Steve doen. Ek het al saam met hul gestap en AfrForum. AfriForum staan vir Suid Afrika glo ek en nie net vir my omdat ek wit is nie. En dit is die leiers wat hierdie land help.

Lisa ·

Ek stem saam Sunette… Daardie organisasies alles wat hulle doen moet jy SMS…SMS…SMS! Ek het hulle al geondersteun in die raskwotas en die bevryEskom…tot hulle my eendag gebel het en gevra het ek moet nog meer geld gee maandliks….En dit nadat ek klaar Solidariteit elke maand ‘n bedrag betaal net om by hulle aangesluit te wees… Hulle kan niks doen of ondersteun deur nie van SMS gebruik te maak nie!! Sies man skaam julle…

Leendert van Oostrum ·

Ek het ook eenkeer een van die aksies ondersteun (die een oor die voorlegging aan die VN oor die Renate-Barnard-saak – was ‘n SMS vir ‘n klein bedraggie, as ek ek reg onthou).

En toe begin die telefoonoproepe. Op elke moontlike on onmoontlike tyd.

Ek neem aan daar was een of ander kwytskeldings- of waarskuwingsklousule, maar die gekarring was te erg. Laaste keer.

Grassie ·

Ek het regtig gedink hierdie gebeure van die afgelope tyd gaan ons Afrikaners laat begin saamstaan. Ek is erg teleurgesteld in die optrede van die organisasies wat nie wou meedoen nie. Die verskillende groepe en organisasies se raakpunte is meer as hul verskilpunte. Hulle moet mekaar se klein verskilletjies en gewoontetjies oor die hoof begin sien en begin saamstaan vir die baie groter saak, die hoofsaak, nl die voortbestaan van ons volk in hierdie land. Solank ons so twis lag die vyand hul agterente af vir ons. Sies vir almal wat hul neuse optrek vir hul eie mense.

Jan ·

Om hoogdrawend op te gee oor die paar ouens wat in uniform daar was doen niks vir die volk se saak nie. Ek het dit ook al uit vele oorde gehoor dat Soliforum ‘n beleid handhaaf van “as ons dit nie beheer nie neem ons nie deel nie.” Sulke geveinsdheid gaan nie ongemerk verby nie.

Neptunus ·

Bly kalm mense. Watter verpligting rus daar op AfriForum om Sunette se protesaksie te steun? Het nog nooit gehoor AfriForum kla dat Sunette nie hulle veldtogte ondersteun nie. Dis elkeen se keuse. Wat het Sunette in elk geval al reggekry behalwe om omstrede te wees? Sy is net suur omdat AfriForum/Solidariteit beter georganiseer is as sy. Is diegene wat kla se geheue werklik so kort? Al gehoor van die fliek Treurgrond wat volgende maand begin draai, waarin Steve en AfriForum saam gewerk het?

Jammer, maar Sunette sal nooit vir my ‘n leiersfiguur wees nie, sy is net te omstrede en meer verdelend as inspirerend. Ek kan net nie iemand wat al 5 of 6 keer getroud is as die moeder van die volk sien nie, dankie maar nee dankie. Die Vierkleur is ‘n pragtige vlag, maar die vertoon daarvan saam die ou vlag langs Oom Paul is net olie op die beeldhaters se vuur. Dit bevestig dan juis wat die oproermakers almal wil laat glo, naamlik dat die beelde simbole van apartheid is. Die mense wat daar in militêre uniforms geparadeer het was ook nie juis effektief of baie vreesaanjaend nie. Hierdie beeldvandalisme is baie, baie kommerwekkend, maar koelkoppe is nodig in hierdie situasie.

Ons is nie in ‘n posisie om aggressief op te tree nie, ons kan dit glad nie bekostig nie. Al gehoor van die Reichstag en Kristallnacht in die jare voor die Tweede Wêreldoorlog? Ons vyande soek net ‘n vonkie, ‘n verskoning, so bly kalm. Hou op om mekaar op te sweep hier op sosiale media, samel eerder soveel moontlik inligting in oor hierdie situasie en sy rolspelers, dit kan eendag baie werd wees.

AndréB ·

Ek dink ons kan leer uit die UDF van destyds waar verskillende uiteenlopende organisasies – radikaal sowel as gematigd – ‘n suksesvolle verenigde front teen die destydse bestel gevorm het. Afriforum kan ‘n fasiliterende rol speel. Was die Solidariteitsbeweging van Pole wat die kommunisme tot ‘n val gebring het, immers nie soortgelyk nie?

martin ·

Alle Boere organisasies in suid afrika is klomp slap gate, soek geld en doen niks, soos klein honde, let wel ek skryf suid afika met klein letters want diut verdien niks meer nie.

Neptunus ·

Jong, jy het dalk op jy kop geval voor jy skool verlaat het, want die res van jou gebrabbel lyk nie veel beter nie. Slap gate? Soek geld en doen niks, soos klein honde? O ja, jou eie naam is ook met kleinletters gespel… martin.

Nou watter soort klein honde soek geld en doen niks nie? Whahahahahahaha!

Jannie Nell ·

Dit is met erge frustrasie en hartseer dat ek ook nou my opinie bekendmaak. Ai, die meerderheid van ons Afrikaners kan nou maar eenmaal nie saamstaan nie. Nee die meeste wil op sy eie mishoop koning kraai. My beskeie mening is dat ons as mense geensins in staat is om hierdie enorme probleem of liewer probleme, want dit kom voor in elke faset van ons huidige samelewing, kan oplos nie. Al manier is om te smeek, te vra en te pleit in gebed en alles in die Hande van ons Skepper oor te laat. Hiermee wil ek nie voorgee dat ons wat ons ag as Afrikaanssprekende Blanke Suid Afrikaners nie ons gesonde verstand moet gebruik nie. Dit is in iedergeval aan ons gegee deur ons Skepper om te gebruik. Ek sal graag die volgende paar vrae beantwoord wil he deur die mense wat weet waarvan hulle praat. Is daar nie ‘n manier dat een van die instansies/opposisiepartye die huidige leierskap/regering wat op hulle manier voortploeter om toe te laat dat ons Vaderland vernietig word na een of ander Internasionale Hof/Instansie of Owerheid kan neem wat hulle kan dwing om die al die onsinnighede te staak nie? Indien dit moontlik is glo ek dit moes al gister gedoen gewees het aangesien dit wil voorkom asof almal en ek bedoel almal wat enige iets teen die huidige regering probeer regkry net gestoomroller word en aan die einde van die dag maar net weer sit waar hulle was voordat hulle begin het. Hoekom het ons as Wit Afrikaanssprekendes nog nie geleer by ons ander landsgenote nie? Staan saam en plaas genoeg druk en hulle is sukses gewaarborg. Die geskiedenis van die afgelope drie dekades in Suid Afrika bewys dit hard en duidelik. Ek glo met my hele wese dat ons niks gaan vermag of regkry sonder ‘n Vereenigde Front wat eerstens Godvresende Leiers met dieselfde volgelinge wat saamstaan vir een gemeenskaplike doel nie. Wat het geword van al ons Kerkleiers? Van hulle hoor of sien ek niks! Alle eer aan die wat nog bereid is om iets te probeer, maar ek is bevrees dit alles is tevergeefs. Bowenal Al Die Eer aan Ons Skepper dat ons nog leef onder die donker mag van satan. Ek vertrou daar is iemand wat hierdie vrae eerlik kan en gaan beantwoord. Sterkte aan almal wat omgee vir ons pragtige Vaderland, Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.