So lui EFF se mosie om onteiening te versnel

Julius Malema. Foto: ANA.

Die EFF het hul voet op die versneller geplaas om onteiening sonder vergoeding vinniger ‘n werklikheid te maak.

Die EFF-leier, Julius Malema, sal Dinsdag ‘n mosie by die parlement indien om ‘n veelpartykomitee daar te stel wat die Grondwet moet wysig sodat artikel 25 (die eiendomsklousule) geskrap kan word en die staat grond kan onteien sonder vergoeding.

Luidens die jongste weergawe van die mosie wat Maroela Media gesien het, maar wat dalk nog aangepas kan word, moet die veelpartykomitee openbare verhore hou en teen 11 Mei aan die Nasionale Vergadering terugrapporteer.

Die verwagting is dat die meeste opposisiepartye die mosie sal teenstaan, maar dat dit die ANC in ‘n baie moeilike posisie gaan plaas. ‘n Jaar gelede nog het die ANC ‘n mosie deur Malema om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak teengestaan, maar sedertdien het die party se nasionale konferensie in Desember die beginsel van onteiening sonder vergoeding as partybeleid aanvaar, hoewel met die voorbehoud dat daar eers navorsing gedoen moet word om te verseker dat dit nie die ekonomie, die landbou en voedselsekerheid sal skaad nie.

Hierdie voorbehoud kan die struikelblok wees wat die ANC daarvan weerhou om Malema se mosie te steun.

Die voorlopige bewoording van die mosie lui as volg:

“- Die Nasionale Vergadering neem kennis dat Suid-Afrika ‘n unieke geskiedenis het van die brutale afneem van grond van swart mense deur die wit minderheid koloniale setlaars;

– Die Nasionale Vergadering neem verder kennis dat die afneem van grond ‘n onuitwisbare nalatenskap op die maatskaplike, politieke en ekonomiese landskap van die land gelaat het, en ‘n gemeenskap help daarstel het wat berus op die uitbuiting van swart mense en die behoud van wit dominasie;

– Die Nasionale Vergadering neem kennis dat die swart meerderheid beperk is tot 13% van die grond, en dat wit mense teen die einde van die apartheidstelsel in 1994, 87% van die grond besit het;

– Die Nasionale Vergadering erken voorts dat die huidige grondhervormingsprogram sedert 1994 deur groot probleme gekenmerk word, en dat die pas van grondhervorming stadig was met slegs 8% van die land se grond wat sedert 1994 aan swart mense oorgedra is, en dat die onlangse grondoudit bevind het dat swart mense minder as 2% van landelike grond en minder as 7% van stedelike grond besit;

– Die Nasionale Vergadering erken dat artikel 25 van die Grondwet, die “eiendomsklousule”, wat private eiendomsreg beskerm en die staat verplig om vergoeding te betaal wanneer grond onteien word in die openbare belang en vir ‘n openbare doel, die kern vorm van die huidige krisis om die grondkwessie op te los;

– Die Nasionale Vergadering erken voorts dat hierdie eiendomsklousule dit in die praktyk onmoontlik maak vir diegene wat van hul grond ontneem is om geregtigheid te kry, gegewe die ongeregtighede wat teen hulle gepleeg is;

– Die Nasionale Vergadering neem kennis dat pres. Ramaphosa in sy staatsrede die onderneming gegee het dat die regering ‘n radikale grondhervormingsprogram van stapel sal stuur wat onteiening sonder vergoeding sal insluit;

– Die Nasionale Vergadering erken voorts dat enige wysiging van die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding sal toelaat, eers ‘n parlementêre proses moet deurloop omdat die parlement die enigste instelling is wat die Grondwet kan wysig;

– Die Nasionale Vergadering stel dus ‘n ad hoc-komitee aan in terme van parlementêre reël 253 (1) (a).

– Die ad hoc-komitee moet artikel 25 van die Grondwet hersien en wysig om dit moontlik te maak om grond in die openbare belang te onteien sonder vergoeding;

– Die ad hoc-komitee moet openbare verhore hou om die menings van gewone Suid-Afrikaners, beleidmakers, gemeenskapsorganisasies en akademici te peil oor die noodsaaklikheid van onteiening sonder vergoeding, en die meganismes om dit daar te stel;

– Die ad hoc-komitee moet die nodige grondwetlike wysigings voorstel met betrekking tot die tipe toekomstige grond-verblyfstelsel wat benodig word, en om ‘n stelsel daar te stel waarvolgens die staat die voogdyskap oor alle Suid-Afrikaanse grond sal hê;

– Die ad hoc-komitee moet bestaan uit 11 lede, waarvan die ANC 6, die DA 2, die EFF 1 en ander partye 2 lede kan nomineer;

– Die ad hoc-komitee sal magte kan uitoefen kragtens parlementêre reël 167 soos hul taak dit van hulle vereis, en moet aan die Nasionale Vergadering terugrapporteer teen nie later nie as 11 Mei 2018.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

73 Kommentare

jongste oudste gewildste
GrondeieNAAR

Ek hoop die staat gaan eers bewys dat die bevraagde grond wel in die geskiedenis onteien is voor hulle dit nou summier afvat…

Jerry

Ek het menigmale vir Afri-Forum gese om nie konflik na te streef nie, maar versoening. Hulle wou nie luister nie en het inisiatiewe bly loods om die EFF tot verantwoording te roep vir Malema se uitsprake, uitsprake wat in elk geval nie n verskil maak met die aanvalle op blankes, want dit is n histories en huidige feit dat dit “Payback Time” is. So, waar staan ons nou? Die EFF het Afrikaans as voertaal by universiteite gestop! Die EFF gaan nou die Afrikaner se teespoed met grondonteiening verhaas! Dankie, julle domastrante slimjanne! Nou waarsku ek Afri-Forum weer! Stop die vervolgingswaan… Lees meer »

GM

Word die grond waarop plakkerskampe gebou is bygetel by hierdie statistieke? En al die grond wat in staatsbesit is? Hulle moet maar kom vat wat nie aan hulle behoort nie. Ek hoop hulle het baie brandblussers. En geld iewers in kluise, want die banke gaan nie baie gelukkig wees as mense eweskielik ophou om verbandlenings en huispaaiemente te betaal nie.

Elsabe Otto

Ek bevraagteken al die statitieke. Al die gronde is nie afgeneem nie maar ten duurste gekoop. Ook is afgeneemde grond voor betaal. Ons moes ook ons plaas ontruim vir nie-blanke ontwikkeling maar is betaak daarvoor. Daar moet ook m duidlike lyn getrek word oor gronde verkoop na apartheid. Baie boere het eers daarna plase gekoop en begin boer. Alle gronde en eiendomme is voor betaal en geen skenkings was by boerdery betrokke nie.

Elize C

Tussendeur die gesprekke wat oor jare heen oor hierdie onderwerp gemaak is, het ek dalk iets gemis, maar verduidelik asb hoe voel die banke hier oor? As die spesifieke grond/eiendom wat die staat wil onteien, nog onder ‘n lening is by ‘n finansiële instansie, gaan die boer as hy met sy persoonlike besittings in sy sakkie op sy rug sy eiendom moet verlaat, beslis ook nie die bank verder betaal nie! Waarmee moet hy dit doen as hy sonder ‘n sent kompensasie die pad iewers heen moet vat? En die Akte van Registrasie in die huidige eienaar se naam? Dis… Lees meer »