Só lyk 2020 se beste uit die parlement

(Argieffoto: Siyabulela Duda)

Ons lees soveel oor wangedrag en moeilikheid in die parlement dat ʼn mens soms vergeet hoeveel goeie werk daar gedoen word.

Kom ons kyk wie het vanjaar die mees uitstaande bydraes tot ons parlement gelewer.

Die jaar 2020 was die vreemdste en moeilikste jaar in Suid-Afrika se parlementêre geskiedenis en daar is min hoogtepunte uit te haal; ons het dus soms maar gesukkel om ʼn wenner daar te stel.

Minister van die jaar

Minister Thoko Didiza. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Wenner: Thoko Didiza (landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming)

Didiza het ʼn taai portefeulje wat ongewildheid waarborg, maar sy doen dit na die beste van haar vermoë. Sy staan aan die voorpunt van die klemverskuiwing om staatsgrond eerste beskikbaar te stel vir grondhervorming en het baie gedoen om te verseker dat groot dele van die boeregemeenskap nie te erg deur die inperkingsmaatreëls geraak is nie.

Vergelyk haar bydrae met die van die ministers van toerisme en kleinsakeontwikkeling.

Natuurlik was daar steeds foute, met veral die wynbedryf wat swaar getrek het. Onthou egter dit gaan hier om die beste minister in die huidige kabinet; nie noodwendig hoegenaamd ʼn perfekte minister nie.

Naaswenner: Jackson Mthembu (presidensie)

Jackson Mthembu, minister in die presidensie. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die erkenning gaan weliswaar deels aan Mthembu omdat hy uit hoofde van sy portefeulje gesorg het dat die media die kans gekry het om deur vrae by inligtingsessies ministers op hul tone te hou sover dit oorsig en verantwoordelikheid betref. Maar eintlik gaan die erkenning daarvoor dat hy as waarnemende minister van kommunikasie (toe Stella Ndabeni-Abrahams genadiglik geskors was) gesorg het dat joernaliste vryelik met permitte kon rondbeweeg tydens selfs vlak 5 van die afsonderingstyd en die regering verantwoordelik kon hou.

Voorsitter van die jaar

Wenner: Mkhuleko Hlengwa (staande komitee oor openbare rekeninge – Skoor)

Mkhuleko Hlengwa is die voorsitter van Skoor. (Foto: Twitter)

Hierdie was jare lank ʼn ietwat tandelose waghond oor staatsbesteding, met departemente wat eers ʼn jaar of twee nadat gebeure afgeloop het, hul verantwoording kom doen het. Teen daardie tyd het die skuldiges reeds aanbeweeg. Die jonge Hlengwa klap egter die sweep in só ʼn mate dat Skoor-sittings die hoogtepunt van die parlementêre week geword het en gevrees word deur lakse staatsamptenare.

Naaswenner: Thandi Modise (Nasionale Vergadering se programkomitee)

Hierdie komitee vergader douvoordag elke Donderdagoggend, maar dit is ʼn byeenkoms wat geen politieke dier wat sy sout werd is durf mis nie. Onder voorsitterskap van Modise is dit nie meer die flou makou wat dit onder leiding van Baleka Mbete was nie – behoorlike oorsig word uitgeoefen met behulp van al die politieke partye se hoofswepe.

Modise is baie geneig om in te stem tot debatte van openbare belang oor onderwerpe wat vir die regering ongemaklik is. Dit maak die parlement die forum vir openbare debat wat dit behoort te wees.

Parlementêre toespraak van die jaar

Wenner: Geordin Hill-Lewis (DA)

Sy toespraak in veral die tweede begrotingsdebat was ʼn sobere en noodsaaklike opsomming van die land se ekonomiese uitdagings. Dit is nie asof die regering na hom gaan luister nie, maar ná daardie knap opsomming sal niemand kan beweer dat hulle nie geweet het wat aangaan nie. Hy het presies uiteengesit wat die syfers toon en wat gedoen moet word.

Naaswenner: Thandi Modise (ANC)

Haar toespraak die laaste keer dat die parlement in Maart byeengekom het voordat Covid-19 parlementslede oor die land versprei het, was aangrypend. Sy het geweet daar is sommige van die lede wie se lewens deur die virus geëis sou word, en sy was reg – sommige kollegas sou mekaar nooit weer sien nie.

Parlementslid van die jaar

Wenner: Siviwe Gwarube (DA)

Siviwe Gwarube. (Foto: Facebook)

Sy is ʼn jong parlementslid wat vir die tweede jaar agtereenvolgend as beste aangewys word. Dit is op grond van twee punte. Eerstens betrap haar ingeligtheid oor die gesondheidsdepartement nasionaal en in provinsies amptenare dikwels onkant. Sy hou hulle dus aanspreeklik, ook wat die koronavirus betref.

Tweedens beveg sy nasionale gesondheidsversekering op so ʼn doelgerigte en feitelike wyse dat dit dalk die hele onbekostigbare ideaal kan stop.

Naaswenner: Veronica Mente (EFF)

Sy is een van die hardwerkende en bes voorbereide parlementslede, wat dien op sowel Skoor as die staande komitee oor die ouditeur-generaal. ʼn Voorbeeld van beskaafde diplomasie en doelgerigtheid, ook vir lede van haar eie party.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.