Só lyk 2021-skoolkalender nou

(Argieffoto)

Suid-Afrikaanse leerders en onderwysers kan steeds uitsien na slegs een week vir die Aprilvakansie en twee weke vir die wintervakansie vanjaar. Onderwysers se Desembervakansie sal wel nou op dieselfde dag as leerders s’n begin.

Die departement van basiese onderwys het Dinsdag die voorlopige skoolkalender vir 2021 bekend gemaak. Dié kalender sal binnekort in die Staatskoerant gepubliseer word en bevat byna geen van die wysigings wat die onderskeie onderwysvakbonde aan die aangepaste 2021-skoolkalender voorgestel het nie. Vakbonde oorweeg nou hul regsopsies.

Die kalender moes aangepas word aangesien die datum vir die heropening van skole vir die 2021- akademiese jaar met twee weke tot 15 Februarie uitgestel is.

Die departement volstaan daarby dat die eerste kwartaal op 23 April eindig, waarna die tweede kwartaal op 3 Mei afskop en tot 9 Julie duur. Die derde kwartaal duur van 26 Julie tot 1 Oktober en die vierde kwartaal strek van 11 Oktober tot 15 Desember.

Leerders kan hulle dus staal vir 192 skooldae wanneer hulle volgende week terugkeer na die skoolbanke. Die skooljaar bevat gewoonlik 200 skooldae. Onderwysers is reeds sedert die begin van die maand by die skool en sal vanjaar altesaam 202 skooldae in die klaskamer deurbring.

Die departement het wel besluit om weg te doen met die voorgestelde “administratiewe dag” op 17 Desember vir onderwysers, nadat onderwysvakbonde hul ongelukkigheid hieroor uitgespreek het.

Onderwysers se jaar eindig dus nou saam met leerders op 15 Desember.

Dit is egter die enigste aanbeveling waarop die departement ag geslaan het, sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

Daar is onder meer gedurende die konsultasieproses aanbeveel dat die wintervakansie met drie weke verleng word en dat die skooljaar reeds einde November eindig.

Klopper sê dit is “onbegryplik” dat die departement steeds die tradisionele 200-skooldaekalender wil handhaaf te midde van die Covid-19-pandemie, aangesien daar geen formele eksamens gaan plaasvind nie maar slegs ’n stelsel van formele toetse. “Daarvolgens wen skole minstens vier tot vyf weke lange onderrigtyd,” wys hy daarop.

“Die algehele onderwysgemeenskap van vakbonde en beheerliggaam-organisasies het die kalender verwerp. Dit kom nou voor of die departement doodgewoon lippediens aan die beginsel van samesprekings doen.”

Volgens Klopper win vakbonde tans regsadvies in oor die konsultasieproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

MAGRIETHA ·

En wat van die mense wat hu; vakansies gereel het rondom die ou kalender word hul en ouers nie in ag geneem nie , Dis net dept maak nes hul wil

Lesley ·

Wow …. die kinders het in 2020 vir maande by die huis gesit en “home-schooling” gedoen, wat nie dieslefde is as om by ‘n actual skool te wees nie. Nou wil julle kla oor ‘n vakansie? Ek sal eerder seker maak dat my kinders by die skool is so lank as moontlik. Daar is altyd tyd vir vakansie later – onderrig kom eerste in ons huis ….

Dapper Patriot ·

As u gelees het wat die dame hierbo geskryf het sal u kan sien sy kla oor die Departement wat maak soos hulle wil. En as u al ooit ‘n vakansie gereël het sal u weet dat mens ‘n DEPOSITO moet neer sit.
Enige iemand wat nie ‘n kneg van die staat is nie, sal saamstem dat die Departement nie kan maak soos hulle wil nie. Hulle werk vir ons!

H ·

ek werk nie vir die staat nie en ek stem nie saam met jou nie AI …… kry asb iets beters om oor te worry ??

Annelize ·

Magrietha, die Onderwys en die kinders is in ‘n absolute krisis. 2020 was ‘n ramp wat akademie aanbetref, alles moet nou in die stryd gewerp word om te red wat te redde is, en die kinders terug op standaard te kry. Die nadraai van 2020 gaan nog bitter lank gevoel word wat ons kinders se skoolopvoeding aanbetref.

Ouers sal nou moet besluit, wat is die belangrikste, hulle kinders se opvoeding of ‘n vakansie.

Plig en verantwoordelikheid sal hierdie akademiese jaar beslis bo plesier gestel moet word, en hoe vinniger party ouers dit besef, hoe beter en makliker sal dit wees vir hulle kinders, want hierdie jaar, gaan beslis nie maklik op ons kinders wees nie. Hulle gaan elke bietjie hulp en ondersteunig nodig he wat hulle kan kry, en ‘n gekerm en gekla oor vakansies, is die laaste wat baie van die kinders nodig het.

Hennie J ·

Kan jy nou meer………..nou win vakbonde regsadvies in weens die nuwe skoolkalender want hulle wil minder dae werk. Hulle moet versigtig wees, as hulle nog minder wil werk dal hulle die departement moet betaal!!!

Gemsbok ·

En dit nadat hulle amper n jaar by die huis was teen volle salarisse terwyl ouers moes werk teen verminderde of geen salarisse en nog alternatiewe toesig vir hul kinders moes kry.

Lola88 ·

Die unies moet versigtig wees waarvoor hulle wens…gaan nie so lekker wees as te veel ouers besluit om tuis onderrig te doen en helfte van die onderwysers hulle werk verloor nie? Kan hulle nie vir eens net die belange van die kinders in ag neem nie? Het die kinders nie verlede jaar genoeg tyd verloor nie? Nou wil hulle baklei vir nog?

Penelopi ·

Die Departement van Onderwys flous hulself. Sodra leerders hul laaste vak skryf tydens nie eindeksamen kom hul nie weer skool toe nie. Dus sluit die skool eintlik al einde November vir die leerders. Die Departement vereis ook dat alle punte en dokumentasie alreeds teen einde November ingelees word.

LANA is ELANè ·

Ag toggie, wanneer gaan die kinders weer werklik skoolgaan?
Baie skole is steeds verdeel in groepe wat net op alternatiewe dae skoolgaan.
Hierin SA is meeste mense bekommerd oor hul vakansies terwyl horde kinders deel van ‘n agtergeblewe groep gaan raak, omdat soveel skoolgaan tot niet is danksy die besluiteloosheid van soveel betrokke partye ~ en niemand blykbaar lus is dat die kinders volstoom skooltoe kan gaan nie. Behalwe natuurlik as jy een van die gelukkiges is wie se kinders in privaatonderrig is en al die nodige vorme van onderwys rakende tegnologie kan bekostig.
Kyk om julle, werkloosheid is ‘n realiteit, kinders hoort in die skool en ouers hoort hul deel in die ekonomie by te bring.
Hou op om die kinders wat aan die regering blootgestel is dom te hou deur eerder vakansie te wil hou‼️

Danie ·

Toe die vakansies te lank was het ons gekla oor skool tyd wat verlore gaan. Nou dat vakansie verkort is om plek te maak vir ekstra skooldae, nou kla ons weer oor dit!

Alet ·

Ek stem nogal saam. Werk met die suurlemoene wat die lewe jou gee. As jou kind by die huis is trek jou vinger uit jou agterent en help met skoolwerk. As dit vakansie is geniet die tyd saam jou kind en as jy kan bekostig gaan op vakansie. Hou op om te kyk wat buurman doen. Die lewe gaan nie daaroor nie. Die lewe gaan oor die kwaliteit tyd wat jy saam jou familie deurbring. Of jy besig is met skoolwerk of vakansie goed. Maak net die beste daarvan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.