Só lyk beurtkrag-vooruitsig tot Woensdag

(Foto: pixabay)

Eskom het beurtkrag Dinsdagaand voorlopig opgeskort, net om dit Woensdagmiddag weer voort te sit.

Die kragvoorsiener het gesê fase 1-beurtkrag is Dinsdagaand opgeskort nadat hy vier van sy opwekkingseenhede voldoende herstel het en die opwekkingskapasiteit verbeter het.

Fase 1-beurtkrag sal egter weer Woensdag van 16:00 tot 22:00 van toepassing wees.

Volgens Eskom gaan twee van sy opwekkingseenhede môre weer in diens gestel word. Nog twee eenhede gaan vanaand aan die stelsel onttrek word vir dringende instandhoudingswerk.

Eskom het onderneem om verbruikers op die hoogte te hou indien enige veranderinge in die netwerk plaasvind. In hierdie stadium word die netwerk egter steeds as onbetroubaar en kwesbaar bestempel.

Onbeplande instandhoudingswerk het 9 424 MW uit die netwerk gehaal, terwyl 5 246 MW weens beplande instandhoudingswerk nie beskikbaar is nie.

“Ons spanne werk onverpoosd om al die opwekkingseenhede so vinnig moontlik in diens te stel.”

Eskom het verbruikers gevra om elektrisiteit spaarsamig te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerrie ·

Maar die straatligte waar ons woon in Woodgrange-On-Sea, Hibberdene, brand al sowat drie jaar dag en nag. My rapporterings – die laaste net na meneer De Ruiter se diensaanvaarding as Eskomhoof – het geen reaksie tot gevolg gehad nie.

Elize ·

Gerrie hulle sal niks doen nie want dit is te veel moeite en energie om die groen knoppie te druk

Vriendelike Frikkie ·

Ons het net so ‘n interessante instandhoudings afdeling in Pretoria. Vir maande brand nie een straatlig nie maar die huise se krag is stabiel. Gedurende die inperking kom maak hulle die straatlampe reg en vir die eerste keer in meer as ‘n jaar brand die ligte elke aand nou al vir ‘n paar weke. Die buurt se krag was egter nou al seker 10 keer onderbreek weens een of ander instandhoudings probleem sedert die straatligte reggemaak is. Ons kry nie beurtkrag nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.