Só lyk beurtkragvooruitsig

(Foto: pixabay)

Geen beurtkrag word Maandag verwag nie hoewel die vraag na elektrisiteit later vandeesweek mag toeneem, meen Eskom.

Die kragvoorsiener het vanoggend in ’n verklaring gesê bykomende kapasiteit oor die naweek het hom in staat gestel om sy noodreserwes aan te vul. Dié reserwes sal dus op kort kennisgewing ingespan kan word indien nodig.

Luidens die verklaring het onbeplande onderbrekings Maandag omstreeks 07:30 op 11 712 MW gestaan. “Ons span werk hard daaraan om dié onderbrekings te verminder na minder as 9 500 MW om sodoende beskikbare kapasiteit te vermeerder en die risiko van beurtkrag te verminder.”

Dít volg nadat die kragvoorsiener Sondag sy eerste vergadering onder die leierskap van prof. Malegapuru William Makgoba, tussentydse voorsitter van Eskom, gehad het.

Prof. Malegapuru William Makgoba (Foto: Twitter)

Luidens ’n verklaring bly Eskom daartoe verbind om sake by die sukkelende kragvoorsiener om te draai.

“Die raad sien uit daarna om voort te gaan met die uitdagende taak om Eskom tot volhoubaarheid te herstel onder die tussentydse leierskap van Makgoba en met die voortgesette ondersteuning van ons aandeelhouers.”

Makgoba neem waar ná die onlangse bedanking van Jabu Mabuza.

Mabuza het vroeër vandeesmaand onverwags sy bedanking ingedien nadat hy gesê het hy kon nie daarin slaag om sy verbintenis tot pres. Cyril Ramaphosa en Suid-Afrikaners na te kom nie, naamlik dat die land nié tussen 11 Desember en 13 Januarie beurtkrag sou ondervind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Feite ·

Beurtkrag was maandagoggend reeds weer ingestel vanaf 03h30 tot 05h15!

johan ·

Wat is die verskil as daar nie beurtkrag is nie dat get n substasie ontplof of aan die brand geraak die verskonings hou nooit op verkoop eskom aan n privaat instansie met bekwame mense wat die plek kan regruk soos toe dit nog Evkom was

Asjas ·

Ek wens dit was finansieel moontlik vir meer mense om “off grid” te gaan maar die solar companies wil munt slaan uit ons verknorsing, vinnig en baie geld maak. Dus is ons maar geskroef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.