Só lyk brandstofpryse vir Januarie

Mbongeni Nzama, ‘n petroljoggie van iNanda. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Die prys van petrol sal Dinsdag om middernag effens daal, terwyl motoriste duurder vir diesel en paraffien sal betaal. Só sê die departement van minerale hulpbronne en energie.

Volgens ʼn verklaring wat Saterdag uitgereik is, sal die prys van 93 oktaan met 4c per liter daal, terwyl die prys van 95-oktaan-petrol 14c per liter minder sal wees. Die maksimum prys van gas neem ook af met 24c per kilogram.

Die verkoopprys van diesel met ʼn sulfaatinhoud van 0,05% sowel as die prys van dié met 0,005% sulfaat sal egter met 9c ʼn liter styg. Die prys van paraffien styg ook, hoewel dit nog nie seker is met hoeveel nie.

Luidens die departement se verklaring het die internasionale prys van petrol ook afgeneem, terwyl diesel en paraffien gedurende November en Desember duurder geword het.

Minister Gwede Mantashe het ʼn toename van hoogstens 5,6c per liter in die kleinhandelsprys van alle grade brandstof goedgekeur, wat geldig is vanaf 1 Januarie. Dié toename in verkoopprys was nodig om voorsiening te maak vir die styging van petroljoggies en administratiewe personeel se lone.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.