Só lyk Covid-19-getalle in Gauteng

Nooddienswerkers by ʼn mobiele toetseenheid in Yeoville, Johannesburg (3 April 2020) (Foto: AP Photo/Shiraaz Mohamed)

Die departement van gesondheid in Gauteng het Sondag ʼn uiteensetting gegee van die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) in die provinsie.

Altesaam 813 persone het reeds positief getoets vir die virus in Gauteng.
Johannesburg – 467 gevalle
Tshwane – 92 gevalle
Wes-Rand – 30 gevalle
Sedibeng – 6 gevalle
Ekurhuleni – 141 gevalle
Distrik onbekend – 77

Drie persone het in die provinsie gesterf.

Woordvoerder Kwara Kekana het gesê die provinsiale departement benadruk die boodskap deur die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, oor die aanbeveling en gebruik van lapmaskers vir die algemene publiek.

“Gesigmaskers word aanbeveel as bykomend tot die riglyne vir goeie higiëne en sosiale distansiëring. Die gesigmasker moet nooit bemark word as ʼn primêre voorkomingstrategie nie en moet altyd saam met handewas en sosialedistansiëringsmaatreëls aangewend word,” het Kekana bygevoeg.

Hy het gesê gesigmaskers word vir die algemene publiek aanbeveel sodat N95-maskers beskikbaar kan wees vir gebruik deur mediese personeel wat op die voorste linies staan in die stryd teen Covid-19.

Mkhize het gesê daar is voldoende bewyse dat die gebruik van ʼn lapmasker beduidend die moontlikheid verminder dat die virus oorgedra kan word.

Kekana het die volgende riglyne gegee wanneer lapmaskers gebruik word:

  • Die gesigmasker moet die neus en mond heeltemal bedek.
  • Gesigmaskers moet nie afgehaal word wanneer jy praat, hoes of nies nie.
  • Moenie aan gesigmaskers vat nie, omdat dit belangrik is dat jy nie aan jou gesig vat nie. Moet ook nie aan die binnekant van ʼn masker vat nie.
  • Was gesigmaskers met warm water en seep en stryk dit sodra dit droog is.
  • Gebruik ʼn ander gesigmasker as joune nat is.
  • Elke persoon sal minstens twee gesigmaskers benodig (sodat een gesigmasker beskikbaar is wanneer die ander een gewas word).

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Joe Olivier

Dit sou meer waarde gehad het as hulle meer spesifiek kon wees en noem waar in Tshwane bv.

Mieke

Ek twyfel sterk aan die Corona statistiek. Hoeveel mense met ligter simptome word eenvoudig weggestuur sonder ‘n toets of enige raad? En as hulle nie weet nie , -gaan hulle mos nie moeite doen om te isoleer nie? En indien hulle niks makeer het wanneer hulle kliniek toe gaan vir ‘n toets, wat is die moontlikheid dat hulle daar aangesteek het?

Anoniem

Ek kyk vanaand enuus en daar praat hulle van covid19 en wys die hospitaal maar wat my toe opval is dat van die mense kersvader pette dra nou vra ek hoe geloofwaardig is die nuus want wie dra n kersvader pet in April op paasfees.