Só lyk Covid-19-situasie in Gauteng

(Foto: LUCA SOLA/AFP)

Die Gautengse gesondheidsdepartement sê daar is ʼn bestendige toename in die getal nuwe Covid-19-infeksies in die provinsie en alle aanduidings is dat die derde vlaag op hande is.

Die Gautengse departement van gesondheid sê die getal bevestigde Covid-19-gevalle in die provinsie het teen Donderdag op 426 380 gestaan, met 10 728 mense in die provinsie wat reeds weens die virussiekte gesterf het.

Tot dusver het 411 549 mense van die siekte herstel, ʼn koers van nagenoeg 27%.

Die daaglikse getal nuwe Covid-19-gevalle het sedert die begin van die maand begin toeneem tot ver bo 300 mense per dag.

Volgens die departement word die meeste gevalle steeds in Johannesburg (168 134 gevalle tot dusver) aangemeld, gevolg deur Tshwane (altesame 112 122 gevalle tot dusver), Ekurhuleni (90 892 gevalle), Sedibeng (26 580 gevalle sedert die uitbreking) en die Wes-Rand (25 058 gevalle tot dusver).

Altesame 3 371 mense in die Johannesburg-streek het reeds weens Covid-19 gesterf, gevolg deur 3 063 sterftes in Tshwane en 2 501 sterftes in Ekurhuleni. In Sedibeng en die Wes-Rand is onderskeidelik 889 en 827 pasiënte reeds weens die virus dood.

Hospitale, beddens, personeel

(Argieffoto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Volgens die departement word 1 362 pasiënte – onder wie 435 in intensiewe- en hoësorgeenhede – tans in verskeie hospitale vir Covid-19 behandel.

Daar is die afgelope week 276 mense in hospitale opgeneem. Dit is 315 minder opnames as die vorige week. Dit vergelyk ook met die 4 536 opnames wat in die week van 2 tot 9 Januarie – tydens die kruin van die tweede vlaag – aangemeld is.

Die provinsie het tans 4 064 beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar, nadat 311 beddens tydens die brand wat twee weke gelede in die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg uitgebreek het, vernietig is.

Maroela Media het vroeër berig die Charlotte Maxeke-hospitaal is steeds gesluit ná die brand. Die departement sê die hospitaal sal geleidelik weer vir pasiënte oopgestel word. Die departement beoog om eerste die onkologie-, verloskunde- en ginekologie-afdeling oop te stel.

Die departement sê ʼn strukturele assessering van die gedeelte van die gebou wat nie deur die brand geraak is nie, is afgehandel en ʼn volledige verslag reeds saamgestel. Die verslag verklaar dat hierdie gedeeltes van die gebou in ʼn goeie toestand is. Die ondersoek na die brand is ook afgehandel.

Inentings

‘n Gesondheidsorgwerker word by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ingeënt. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Gauteng loop ver voor met die getal gesondheidswerkers wat tot dusver ingeënt is – met altesaam 90 346 gesondheidswerkers wat teen Donderdag ingeënt is.

Die departement beoog om Fase 1b en 2 van die entstofprogram op 17 Mei af te skop en dan ʼn verdere 61 600 gesondheidswerkers, tradisionele genesers en begrafnisondernemers in die provinsie met die Pfizer-entstof in te ent.

Altesame 235 202 mense in Gauteng het reeds deur die regering se aanlyn stelsel om entstowwe te monitor vir die ontvangs van entstof in Fase 1b geregistreer.

Tydens Fase 1b word daar 285 entstofsentrums, waaronder 187 in die openbare sektor en 98 in die private sektor, in die provinsie beskikbaar gestel.

Sowat 235 202 mense ouer as 60 jaar het ook aanlyn geregistreer om die entstof tydens Fase 2 en 3 van die entstofprogram te kry.

Die departement doen ʼn beroep op mense ouer as 60 jaar om nou aanlyn vir die entstof te registreer. Klik hier om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanncb ·

Die Regering probeer hulle magsvertoon en magsvergrype voort te sit, deur moontlik wéér streng inperkingsmaatreëls in te stel! Die mens en die ekonomie is reeds die afgrond afgejaag!

Ben ·

Is dit te veel gevra om die persentasie-voorkoms of getal nuwe gevalle per duisend van die bevolking te gee?
Hierdie soort berigte wat net totale noem skep net wanindrukke. Klein getalle in klein plekke is meer beduideng as groter getalle in plekke met bevolking van miljoene.
Wat beteken 2000 nuwe gevalle in die praktyk?
Wat is die kans dat iemand wat aansteeklik is met jou in aanraking sal kom – direk of indirek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.