Só lyk DA se alternatiewe begrotingsplan

Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook

Die DA het vandag ʼn alternatiewe mediumtermyn-begrotingsraamwerk ter tafel gelê wat na die amptelike opposisie se mening R235,85 miljard oor die volgende drie jaar kan spaar, waaronder R168 miljard aan die staatsdiens-salarisrekening.

Die DA se skaduminister van finansies, Geordin Hill-Lewis, het die DA se alternatief ter tafel gelê aan die vooraand van die minister van finansies, Tito Mboweni, se mediumtermyn-begrotingsverklaring.

Die mediumtermyn-begroting sit die beplande inkomste vir en besteding deur die staat vir die volgende drie jaar uiteen en vind Woensdag in die parlement plaas.

Hill-Lewis het gesê die DA se wesenlike uitgangspunt is dat staatsdienssalarisse in niegespesialiseerde rigtings besnoei moet word om die lewering van dienste deur die staat te verseker.

Tito Mboweni. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die DA het gewaarsku dat die lewering van basiese openbare dienste deur die staat aan die rand van ʼn ineenstorting staan, maar dat die regering weier om moeilike besluite te neem en deur te voer.

Die ekonomie groei nie vinnig genoeg om ʼn werklike invloed op armoede en werkloosheid te hê nie.

“Groei, en slegs groei, kan Suid-Afrika uit sy huidige spiraal bevry. Die getal werklose Suid-Afrikaners staan nou op 10,2 miljoen, wat 600 000 meer is as verlede jaar,” het Hill-Lewis uitgewys.

Die DA stel dus voor dat die staatsdiens se salarisrekening met R168 miljard oor die volgende drie jaar besnoei word. Hiervan sal R138,6 miljard bespaar word deur salarisverhogings vir niegespesialiseerde poste (dus bestuurders, administrateurs, en so meer – nie verpleegsters, polisiepersoneel of onderwysers nie) te bevries.

Voorts sal 9 200 hoogs betaalde posisies in departementele hoofkantore afgeskaf word, wat ʼn verdere R29,4 miljard oor drie jaar sal spaar.

Die DA stel ook voor dat die digitale spektrum opgeveil word, wat R32,5 miljard eenmalig kan inbring, dat Telkom-aandele verkoop kan word om eenmalig R14,5 miljard by te dra en dat die seinverskaffer Sentech verkoop kan word vir ʼn eenmalige inkomste van R1,8 miljard.

Voorts sal die DA wil hê dat Suid-Afrika hom aan die Brics-lande se Nuwe Ontwikkelingsbank onttrek, wat R13,25 miljard oor drie jaar sal spaar en dat nasionale gesondheidsversekering afgeskaf word vir ʼn besparing van R5,8 miljard oor drie jaar.

Die DA is nie ten gunste van verdere reddingsboeie vir sukkelende staatsondersteunde ondernemings nie. Die DA-LP Ashor Sarupen het uitgewys dat Eskom-reddingsboeie deur die staat daarop neerkom om een te betaal met ʼn ander kredietkaart.

Die DA wil dus hê Mboweni moet ʼn geloofwaardige plan daarstel om onder meer die begrotingstekort te takel, ʼn keuse te maak tussen die staatsdiens en die lewering van basiese dienste, asook op te hou om mislukkende staatsondernemings van peperduur finansiële lewensboeie te voorsien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
schaun

Die DA sê een ding maar bedoel n ander en in elk geval is hulle tyd verby so gaan weg.

TDW

Hier is die DA in die kol.

Manie W

Ongelukkig is dit te naby aan die waarheid en sal dit die rowers van inkomste ontneem.

mar-nee

Wie is die DA nou weer?

pieter

DA IS IN DIE KOL