Só lyk dagvaarding teen voormalige Eskom-hoës

Die dagvaarding van 73 bladsye lank wat Eskom en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) Maandag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het, werp heelwat meer lig op hoe verskeie voormalige senior amptenare by Eskom – asook die omstrede Gupta-broers – glo geheul het om die sukkelende kragvoorsiener tot voordeel van die Guptas te plunder.

Die respondente, naamlik Brian Molefe, Anoj Singh, Matshela Moses Koko, Suzanne Margaret Daniels, Mosebenzi Zwane, Ben Ngubane, Chwayita Mabude, Mark Vivian Pamensky, Rajesh “Tony” Gupta, Atul Gupta, Ajay Gupta en Salim Aziz Essa, het glo tussen 2012 en 2018 saamgesweer om die Guptas en die maatskappye onder hulle beheer – asook hulself – te verryk.

Eskom en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) probeer die enorme bedrae geld wat die kragvoorsiener glo weens die amptenare se optrede kwyt is, by hulle terugeis en is al geruime tyd besig met ondersoeke na onder meer die kontrakte wat die skuldbelaaide Eskom aangegaan het.

Die gesamentlike bedrag waarvoor die beskuldigdes luidens die klagstaat verantwoordelik gehou word, beloop nagenoeg R3,8 miljard.

Die dagvaarding stippel verskeie van die onderduimshede waarby die beskuldigdes glo betrokke was in meer besonderhede uit. Dit sluit in die betalings wat Eskom aan Trillian gemaak het, die ooreenkoms met Tegeta, die geld wat na die Estina-suiwelprojek gekanaliseer is, kontrakbreuk, fidusiêre pligsversuim en verliese wat gely is omdat voldoende steenkool nie verskaf kon word nie.

Die respondente het tien dae ná die indiening van die klagstaat om kennis te gee oor of hulle die aanklagte teen hulle gaan teenstaan.

Die parlement het vroeër die besluit om die voormalige hoofde, die Guptas én hulle meelopers te dagvaar, verwelkom. Khaya Magaxa, voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het die afgelope week gesê die saak gaan verseker dat diegene wat by die Eskom-korrupsie betrokke was, daarvoor aanspreeklik gehou word.

Die beskuldigdes

  • Brian Molefe: Eskom se voormalige groephoof.
  • Anoj Singh: Voormalige finansiële hoof by Eskom.
  • Matshela Moses Koko: ʼn Voormalige tussentydse uitvoerende hoof by Eskom en oudhoof van opwekking.
  • Suzanne Margaret Daniels: Eskom se voormalige algemene bestuurder van regsake en voldoening.
  • Mosebenzi Zwane: Oudminister van minerale hulpbronne.
  • Ben Ngubane: ʼn Voormalige raadsvoorsitter van Eskom.
  • Chwayita Mabude: Sakevrou en voormalige Eskom-raadslid.
  • Mark Vivian Pamensky: Sakeman en voormalige Eskom-raadslid.
  • Rajesh “Tony” Gupta: Voortvlugtige in Suid-Afrika wat tans in Doebai woon.
  • Atul Gupta: Voortvlugtige in Suid-Afrika wat tans in Doebai woon.
  • Ajay Gupta: Voortvlugtige in Suid-Afrika wat tans in Doebai woon.
  • Salim Aziz Essa: Voortvlugtige in Suid-Afrika wat tans in Doebai woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann ·

Die geleerdes moet my maar help hier Se die artiekel hulle word gedagvaar om die geld terug te betaal En dit het hulle waarskynlik nie meer nie Die dagvaardeging beteken nie hulle word vervolg vir diefstal en bedrog nie

Cherokee ·

Die geleerdes sal jou ‘n veel meer insiggewende antwoord gee, as hulle jou vraag lees.

LANA is ELANè ·

Gaan daar ooit iets van kom – ek persoonlik twyfel!

Fedup ·

Xcom can go stand outside with begging hands and wish for a miracle.
They can try trees, but they are all empty.

Pieter ·

Julle klomp komuniste laat ons lekker lag julle ANC is een groot grap n mens kry skaam om te se jy bly in suid afrika

Johanncb ·

Ek hoop werklik dat hier méér as nét vervolging gaan kom van hierdie dagvaarding! Suid-Afrika en sy mense wag baie lank dat ‘n voorbeeld van plunderaars gemaak word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.