Só lyk die stryd om stemme op sosialemediaplatforms

‘n Bord in die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria toon die voorlopige uitslae soos data van die verskillende stemlokale af inkom. (Foto: ANA)

As Suid-Afrika se verkiesing op sosiale media uitgespook is, sou die ANC, die EFF en die BLF loshande die voorlopers in die 2019-verkiesing gewees het en sou die DA die vierde grootste party gewees het.

Só sê Tonya Khoury van Acumen Media, ʼn maatskappy wat handelsmerke se profiele in die media en sosiale media ontleed. Khoury en haar span het politieke partye en hulle ondersteuners se bedrywighede op die grootste sosialemediaplatforms op stemdag gevolg en ontleed.

Volgens die navorsing het verskeie partye en hulle ondersteuners hulle na sosialemediaplatforms gewend om nog vir oulaas stemme vir hulle partye op stemdag te werf. Die partye en hulle ondersteuners se bedrywighede word egter nog nie heeltemal weerspieël in die voorlopige stemresultate van die betrokke partye nie.

Talle politieke partye en kenners meen die speelveld waar politici kiesers se harte kan wen, skuif deesdae wêreldwyd toenemend na sosialemediaplatforms oor.

Die TV-komediant Volodymyr Zelensky is in April vanjaar as die nuwe president van die Oekraïne verkies. Zelensky was ʼn onkonvensionele kandidaat met geen politieke agtergrond nie, wat ʼn onkonvensionele veldtog in die verkiesing gevoer het.

Hy het ʼn paar groot byeenkomste gehou maar het selde met die media gepraat. In plaas hiervan het hy hoofsaaklik deur die land getoer met komediegroepe om in sketse op te tree en gehore te laat skater van die lag. Volgens Vox.com het Zelensky verder hoofsaaklik op sosiale media gesteun om direk met kiesers te praat en sy boodskap aan hulle oor te dra.

Khoury sê hulle ontleding van sosialemediaplatforms oor die afgelope 24 uur sedert Woensdagoggend 09:00 het getoon dat pres. Cyril Ramaphosa en die ANC sosialemediagebruikers se tydlyne oorheers het, terwyl die EFF ongelooflike groei getoon het.

“Die hutsmerke #ANC en #EFF het 60% van die verkeer op sosiale media veroorsaak. Kort op hulle hakke was partye soos die BLF, die DA, die UDM en die Suid-Afrikaanse Kapitalistiese Party (ZACP). Die IVP, Agang en Cope is ook genoem, maar het nie naasteby soveel verkeer soos die ANC, die EFF, die BLF of die DA veroorsaak nie.”

Volgens Khoury het die ANC en sy ondersteuners die hardste gewerk in ʼn finale poging om kiesers te oorreed om vir dié party te stem in vergelyking met die ander partye op stemdag self. Ramaphosa het ook alle ander politieke leiers se stemme op sosiale media uitgedoof.

“Interessant genoeg voel sosialemediagebruikers duidelik verskillend oor pres. Ramaphosa en die ANC. Sosialemediagebruikers is lief vir Ramaphosa maar hulle is beslis nie blind vir sy party se foute nie en daarom sien ʼn mens meer gemengde reaksie op sosiale media oor die ANC.”

Khoury sê volgens sosiale media is daar min Suid-Afrikaners wat meer invloedryk is as die EFF se leier Julius Malema. “Ek haal my hoed af vir sy uitstekende bemarking op sosiale media maar die retoriek om sy party is hoofsaaklik negatief. Dit is ook duidelik dat die meerderheid van Suid-Afrikaners nie die soort retoriek ondersteun nie.”

Nog ʼn partyleier se stem wat sterk op verkiesdag in sosiale media vertoon het, was dié van Bantu Holomisa, die leier van die UDM. “Holomisa het al die regte dinge op sosiale media gesê en gedoen maar dit lyk of daar steeds kommer by kiesers is dat sy party eintlik maar net ʼn eenmanparty is.”

tonya-khoury-02

Tonya Khoury het sosialemediagebruikers se gevoel op verskillende platforms ontleed. Foto: Acumen Media.

Khoury meen die DA het alles in hulle veldtog vir die verkiesingstryd gewerp maar hulle het eenvoudig net hulle teiken gemis.

“Terwyl Mmusi Maimane se stem ook steeds op stemdag op sosiale media te hore was, het dit met 10,1% afgeneem. Helen Zille, voormalige leier van die DA en premier van die Wes-Kaap, het egter baie gedoen om stemme vir haar party op sosiale media te werf en haar inskrywings op sosialemediaplatforms het met 35,6% toegeneem.”

Sy reken Suid-Afrikaner het die foute van die DA raakgesien en gevoel dat die party nie werklik voornemende kiesers se bekommernisse getakel het met hulle veldtog of op verkiesingsdag nie.

Die navorsing het ook na temas gekyk wat op die stemdag bespreek is. Volgens Khoury het hutsmerke soos #TakeBLFtoParliament, #Elections2019, #VoteANC, #AfterVotingIExpect en #VoteBLF sterk na vore getree.

“Onderwerpe soos #OurLandAndJobsNow en #EFFFinalPush se bespreking op sosialemediaplatforms het egter afgeneem soos die dag gevorder het. In die onderwerpe se plek het die fokus verskuif na die resultate van die 2019-verkiesing met die hutsmerk #ElectionResults wat na vore gekom het.”

Khoury sê ook talle sosialemediagebruikers het met trots aangekondig vir wie hulle gestem het dié dag met hutsmerke soos #IVoteANC, #IVotedANC en #IVotedEFF wat die sterkste vertoon het.

Nog ʼn verskynsel op sosiale media wat Khoury se span opgeval het, is dat die VF Plus goeie resultate behaal het al het die party eintlik weinig gedoen het om hulle op sosialemediaplatforms te bemark voor die verkiesing of op stemdag.

“In teenstelling hiermee het die BLF daarin geslaag om ʼn reusagtige bohaai te maak maar die retoriek om die party was heeltemal te negatief.”

Die ZACP, of die sogenaamde Pers Koei-party, is volgens ʼn Khoury ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn party wat daarin geslaag het om sosiale media te gebruik om die ZACP van ʼn heeltemal onbekende party na ʼn huishoudelike naam te groei met baie min finansiering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Ek sal my nie te veel stuur aan mense op Facebook se opinie nie, hulle soek aandag dit is al.
Vat die berig maar met `n knippie sout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.