Wes- en Noord-Kaapse kiesers kan verspreide donderbuie verwag wanneer hulle Woensdag hul kruisies in die sesde nasionale en provinsiale verkiesing gaan trek.
Volgens die weerdiens kan donderbuie oor die oostelike en suidelike dele van die Noord-Kaap voorkom en verre oostelike dele van die Wes-Kaap. Daar is ook ʼn moontlikheid van donderbuie in die westelike dele van Noordwes, die Vrystaat, die Oos-Kaap en die verre suidelike dele van KwaZulu-Natal.
In die oostelike dele van die Noord-Kaap, westelike dele van Noordwes en die Vrystaat en die Oos-Kaapse binneland kan daar sterk winde voorkom.
Weeropsomming volgens provinsie:
Wes-Kaap
ʼn Kouefront sal na verwagting oor die suidwestelike dele van die Wes-Kaap beweeg wat sal lei tot bewolkte en koel toestande met ligte reën oor die suidwestelike dele van die provinsie vir die grootste deel van die dag. In die res van die provinsie kan daar gedeeltelik bewolkte en koel toestande verwag word.
Oos-Kaap
Verspreide donderbuie word oor die grootste dele van die provinsie verwag met sterk winde wat vir die westelike en sentrale deel van die provinsie voorspel word te midde van die kouefront wat op pad is.
Noord-Kaap
Gedeeltelik bewolk met donderbuie wat in die ooste en suide van die provinsie verwag word.
Vrystaat
Dit sal warm wees in die noorde en verder gedeeltelik bewolk en warm oor die res van die provinsie met donderstorms en sterk winde in die weste waar dit koel sal wees.
Noordwes
Gedeeltelik bewolk en warm met sterk winde in die weste en moontlike donderbuie.
KwaZulu- Natal
Warm oor die grootste dele van die provinsie met sterk winde in die noorde. Geïsoleerde donderbuie kan teen die aand in die suide voorkom.
Gauteng
Matig en warm.
Mpumalanga
Bewolk in die ooste, andersins sonnig en koel maar warm in die Laeveld.
Limpopo
Bewolk in die ooste, andersins matig en warm.