Só lyk die weer vir Kersdag

reenboog-stiltetyd-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Suid-Afrikaners in die grootste gedeelte van die land kan ’n sonnige Kersdag verwag terwyl die noordoostelike en oostelike dele van die land na verwagting teen die middag ’n goeie bui reën sal ontvang.

Die Kersweek skop in die meeste dele van die land met goeie reën af.

Lehlohonolo Thobela, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW), sê daar is ’n kans van 60% tot 80% vir reën Dinsdag vir die sentrale gedeeltes van die land. Hierdie reënwolke het reeds Maandag begin saampak en sal van Woensdag stadig begin opklaar.

Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes sal na verwagting Dinsdag gedeeltelik bewolk en warm wees met geïsoleerde tot verspreide reënbuie en donderbuie. Wydverspreide reën word vir die suidweste van die Noordwes verwag.

In KwaZulu-Natal is dit ook gedeeltelik bewolk en warm met verspreide buie en donderbuie wat in die verre suide verwag word. In die Wes-Kaap is dit ook bewolk met enkele buie en donderbuie, wat meer verspreid in die ooste van die provinsie sal voorkom.

Die Oos-Kaap sal bewolk en koel wees met wydverspreide reën.

Reën in Gauteng (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

’n Kans van 60% tot 80% vir reën word teen Woensdag vir die noordoostelike en oostelike gebiede van die land voorspel. Teen Donderdag sal dié moontlikheid tot 30% afneem.

Teen Vrydagmiddag kan buie en donderbuie in gedeeltes van hierdie provinsies uitsak.

“Daar word veral swaar geïsoleerde donderstorms vir Pretoria vir die middag voorspel,” sê Thobela.

Die sentrale gebiede van die land kan verál na ’n warm sonskyn-Kersfees uitsien terwyl temperature aan die kus in die lae 20’s bly.

Die kwik sal Vrydag in gebiede in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga tot in die lae 30’s styg. ’n Maksimum temperatuur van 30 ˚C en 28 ˚C word vir onderskeidelik Pretoria en Johannesburg voorspel. Vir Polokwane word ’n maksimum temperatuur van 32 ˚C voorspel en Mbombela ’n maksimum van 29 ˚C.

In die Vrystaat sal Bloemfontein ’n maksimum van 34 ˚C ervaar terwyl ’n maksimum van 29 ˚C vir Bethlehem voorspel word.

In die Noord-Kaap gaan kwik tot 35 ˚C en 36 ˚C styg in onderskeidelik Kimberley en Upington.

Koeler weer word langs die kus verwag met ’n maksimum van 23 ˚C vir Kaapstad en 25 ˚C vir Port Elizabeth. ’n Maksimum van 25 ˚C en 26 ˚C word onderskeidelik vir Durban en Pietermaritzburg verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.