Só lyk dit in Guptas se herehuis, vertel Mentor

Voormalige ANC-LP Vytjie Mentor Maandag (27 Augustus 2018) by haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency

Voormalige ANC-LP Vytjie Mentor het Maandag ʼn prentjie aan lede van die kommissie van ondersoek na staatskaping geskets oor hoe die omstrede Gupta-familie se luukse herehuis in Saxonwold in Johannesburg lyk.

Marmertrappe, badkamers met goue afwerkings, asemrowende spieëls en ʼn persoonlike sjef is alles deel van die toneel wat Mentor begroet het toe sy agt jaar gelede by die Guptas se woning verwelkom is. Sy beweer dit is tydens hierdie geleentheid dat daar ʼn aanbod aan haar gemaak is om minister van openbare ondernemings te word.

Mentor het Maandag aan die kommissie, wat bewerings van staatskaping ondersoek, vertel dat sy vanaf die Gupta-familie se Sahara Computers-onderneming na hul huis in Saxonwold geneem is. Sy het daardie dag in 2010 by OR Tambo-lughawe geland en dit was ʼn paar weke nadat sy van China af teruggekeer het.

Lakela Kaunda, destydse president Jacob Zuma se assistent, het haar die vorige dag gebel en gesê sy sou die volgende dag die vergadering met Zuma hê waarvoor sy al so lank wag. Mentor beweer Lakela het aan haar gesê ʼn man sal haar bel om reëlings vir die vergadering te tref.

“Lakela Kaunda het vir my Atul se nommer gegee wat die man is met wie ek moes praat oor die logistiek. In daardie tyd was ek op krukke en ek is verseker dat daar na alle aspekte van my reisreëlings omgesien sal word en ek nie bekommerd moet wees nie, want Atul sal na my omsien,” het sy aan die kommissie gesê.

Sy is toe vanaf die lughawe na Sahara Computers se kantoor geneem waar sy Ajay ontmoet het. Mentor het gesê daar is vir haar gesê die vergadering met Zuma sal op ʼn ander plek plaasvind, maar sy het nie geweet dit sou by die Guptas se woning wees nie.

“Toe ek by die hekke aankom, het daar twee veiligheidswagte gewag. Die voertuig het ingery en ons het gestop by die trappe wat na die huis lei. Daar was verskeie ander huise op die erf, maar die een waarheen ek geneem is, was die grootste; soos ʼn herehuis. Binne die huis was daar baie kunswerke, twee rusbanke en ʼn koffietafel. Ek het op een rusbank gaan sit. Daar was ʼn reusevenster en ek onthou ek het daarvan gehou, want dit het baie sonlig in die vertrek ingelaat,” het Mentor vertel.

Mense kyk op ‘n skerm na die getuienis van voormalige ANC-LP Vytjie Mentor voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Karen Sandison/African News Agency

“Die huis het gelyk asof dit ʼn projek is wat nog aan die gang is, want vir ʼn huis van daardie grootte was dit yl gemeubileer, met die ontvangsarea wat net die twee rusbanke en ʼn koffietafel gehad het. Ek het probeer uitpluis of die kunswerk op die muur muurpapier was of ʼn regte kunswerk deur ʼn kunstenaar.”

Sy sê Rajesh Gupta het met haar aankoms daar in die huis in verdwyn. Atul het by haar aangesluit en gesê Ajay is nog by Sahara, maar sal ook binnekort by hulle aansluit. Sy het toe gevra om die badkamer te gebruik en is gewys waar dit is. Mentor het gesê sy kon nie help om die pragtige goue afwerkings op te merk nie.

“Ek het spesifiek na hierdie pragtige badkamer gekyk en gewonder of dit regte goud is. Die spieëls was ook so uitsonderlik. Ek hou van Franse spieëls en was mal oor die spieëls in hierdie badkamer. Daar was ook duur handerome in die badkamer.”

Sy sê met haar terugkeer na die ontvangsarea het ʼn jong man haar kom groet en hy is as die sjef voorgestel. “Ek het aanstoot geneem deur die feit dat die jong man wou buig om my te groet. Ek het vir hom gesê om regop te staan. Ek glo nie daarin dat mense moet kniel of buig voor ander nie. Die sjef kon nie Engels praat nie, so hy het deur Atul met my gepraat. Dit was middagete-tyd en hy het gevra wat ek wil eet. Ek het gesê kerrie en Chai-tee,” het Mentor gesê.

Sy sê nadat sy geëet het, het Ajay opgedaag en vir haar gesê: “Ons ontmoet weer.”

Sy het gewonder wanneer sy Zuma sou sien omdat sy nie haar vlug wou verpas nie.

Mentor se getuienis duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

TW ·

Dis als goed en wel. Maar vraag is, wie het die Guptas in eerste plek soveel mag in SA gegee? Laat die veraaiers van SA boet.

Lukie Carelsen ·

Ek wil net weet hoekom sy nou eers NADAT Zuma gefire is praat?

Ander Annie ·

Tant Vytjie ek wonder ook mos oor al die goue afwerkings. Die ouer garde het mos altyd gesê, blink van bo en stink van onder. Ek giggel ook oor die kerrie en chai tee. Luke, tant Vytjie het al lankal stof begin opskop oor die storie. Tant Vytjie, sterkte hoor.

Knapie ·

Lukie, Sy was een van die eerstes, indien nie díe éérste wat geraas gemaak het nie.

Cherokee ·

Daai mense kaap nie ‘n Hyundai met 4 passasiers of Porche met 2 passasiers nie, nee hulle kaap ‘n land met 60 miljoen passasiers! En julle gee geen erkenning maar kritiseer net!

Elsa ·

Ek is nou baie nuuskierig om te sien hoe die badkamer gelyk het.

Sophia ·

Ai, tannie Vy, ek hou ook mos so van mooi goed dis so jammer dat jy nie foto’s geneem het nie! Die herehuis wat jy beskryf is seker nog van die wat die ou mynmagnate of ryk sakemanne wat nou almal landuit is, gebou het.

LB S ·

Toemaar, wees verseker, sodra die Gupta besittings opgeveil word, sal ons fotos te siene kry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.