Só lyk energiekomitee se plan

Argieffoto ter illustrasie van beurtkrag. (Foto: Robert Weidemann/Unsplash)

Die nuwe nasionale energiekrisiskomitee (Necom) het Maandag meer inligting bekendgemaak oor hul plan om beurtkrag tot ʼn einde te bring en energiesekuriteit vir die land te verseker.

Beurtkrag plaas die grootste druk op Suid-Afrika se ekonomiese groei. “Die regering wil stappe doen om die onmiddellike krisis op te los en om seker te maak beurtkrag is iets van die verlede,” het Mondli Gungubele, minister in die presidensie, gesê. “Ons mobiliseer ook alle hulpbronne tot ons beskikking en sal alles in ons vermoë doen om energiesekuriteit te verseker.”

Die president het onlangs Necom aangestel uit verskeie staatsdepartemente en Eskom, onder leiding van die direkteur-generaal in die presidensie, Phindile Baleni. Dié struktuur sal verslag doen aan ʼn interministeriële komitee waarvan die president die voorsitter is. Dit bestaan uit die minister in die presidensie, die minister van minerale hulpbronne en energie, die minister van openbare ondernemings, die minister van finansies, die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, en die minister van handel en nywerheid.

Necom se korttermyn doelwit is om die erns en gereelde voorkoms van beurtkrag te verminder deur dringende maatreëls in te stel. Die langtermyn doelwit is om beurtkrag in sy geheel te beëindig.

Die regering sal eerstens fokus op die verbetering van Eskom se bestaande kragstasies en tweedens om so vinnig as moontlik soveel as moontlik nuwe kragopwekkingskapasiteit tot die bestaande netwerk by te voeg.

Verskeie stappe is reeds gedoen om die tekorte in die verskaffing van kragtoevoer te takel. Dit sluit in veranderings aan die regulasies op nuwe kragopwekkingskapasiteit om toe te laat dat munisipaliteite onafhanklik elektrisiteit kan aanskaf. Verskeie munisipaliteite is reeds besig om bykomende kragtoevoer te bekom.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook die herwinbare energieaanskaffingsprogram laat herleef. Dit stel 2 205 MW van bodvenster 4 vry tot konstruksie. Die grootste deel hiervan is reeds aan die netwerk gekoppel.

ʼn Verdere 6 800 MW sonkrag en windkrag word aangeskaf kragtens die huidige ministeriële bepaling. Dié bykomende kragopwekkingskapasiteit sal teen die einde van 2023 aan die netwerk gekoppel word. ʼn Bykomende 3 000 MW gas en 513 batterystoorkrag sal ook tydens die volgende bodvenster aangeskaf word.

Die lisensiëringsbeperking is in 2021 van 1 MW tot 100 MW verhoog. Dit maak ʼn pyplyn beskikbaar van meer as 80 bevestigde privaat projekte in ontwikkeling met ʼn gekombineerde kapasiteit van meer as 6 000 MW. Konstruksiewerk aan talle van dié projekte begin later vanjaar.

Necom het reeds gereeld begin vergader om seker te maak dat dié stappe vinnig ingestel word. Agt werkstrome is reeds opgerig om samewerking in die regering te verseker en gesprekke duur voort met die privaat sektor en ander vennote om seker te maak dat die beste beskikbare kennis en ervaring in die land betrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elizabeth ·

Minister van Gwede Matashe? Rerig? Wie vertrou hom nog?

Nico ·

Laat die krag toevoer na sy huis gestop word vir ten minste ‘n maand, sodat hy kan voel wat is om sonder elektrisieteit te wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

By Necom gaan baie gepraat word, maar min sal gedoen word.

Witbaard ·

Vir my snaaks dat ons deesdae nie meer hoor onder watse druk die kragstelsel is nie. Die “plan” het nou seker die regte uitwerking gehad. Nou is daar weer n klomp kaders wat groot gaan skep.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons weet nie wat is eintlik aan die gang nie. Die regering en Eskom verkondig krag stories en die publiek vreet dit maar op.

Theuns ·

So? Hoe? Wanneer? Wie? Net nog ‘n gebrabbel uit die ramposa kindertuin. NIKS buiten praat praat praat mompel mompel kerm.kerm blameer blameer. Beteken minder as ‘n wind gelos in die loop.

Jack ·

Wel sien is glo. Die president hou baie van kommissies. Die een rapporteer aan die ander en almal trek n vet tjek daaruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.