Só lyk finansiering vir Covid-19-entstof

Miljarde rande word vir die entstofprogram bewillig. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die nasionale tesourie het Woensdag meer duidelikheid gegee oor die finansiering van die Covid-19-entstofprogram.

Die tesourie sê die program gaan ʼn deurslaggewende rol speel om lewens en inkomstes te red en ekonomiese herstel te steun.

“Om toegang tot Covid-19-entstof te verseker, is die regering se onmiddellike prioriteit.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër gesê die program sal in drie fases in werking gestel word en die regering hoop om oor ʼn bestek van 12 maande 67% van die bevolking in te ent.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede gesê meer as R10 miljard oor die volgende twee jaar word vir die aankoop en verspreiding van die entstof beskikbaar gestel.

Die gebeurlikheidsreserwe word van R5 miljard tot R12 miljard verhoog om voorsiening te maak vir die verdere aankoop van entstof en om op enige noodgevalle te reageer.

Die tesourie sê toegang tot die entstof sal gratis wees en finansiering vir die aankoop van die entstowwe en die verspreidingsprogram kom uit die nasionale begroting.

“Omdat die staat entstof namens die private en openbare sektor aankoop, gaan sommige inkomste na die fiskus terugkeer wanneer private verskaffers entstof van die staat aankoop.”

Volgens die tesourie word R9 miljard op mediumtermyn vir die entstofprogram toegewys.

Hiervan kry die departement van gesondheid R6,5 miljard om die entstof aan te koop en te versprei. ʼn Bedrag van R100 miljoen word vir die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad gegee om navorsing oor die entstof te doen. Provinsiale gesondheidsdepartemente ontvang R2,4 miljard om die administrasie van die program te hanteer.

Die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS) ontvang R50 miljoen vir ʼn inligtingsveldtog.

Die tesourie sê toewysings vir die nasionale departement word afgekamp.

Die regering het vanjaar R1,3 miljard vir die aankoop van entstowwe opsy gesit.

“Gegewe onsekerheid oor die finale koste, kan ʼn geraamde R9 miljard uit die gebeurlikheidsreserwe of uit noodtoewysings bekom word.

“Dit bring die algehele moontlike finansiering vir die entstofprogram op R19,3 miljard te staan.”

Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, sê die finansiering is “hopeloos onvoldoende”. Hy sê om genoeg geld te voorsien sodat elke Suid-Afrikaner die entstof kan ontvang, was die mees ooglopende en basiese saak wat die minister vandag moes regkry.

“Dit is nie net die regte ding om lewens te red nie, maar is die beste ekonomiese herstelplan waarvoor die regering kon hoop. Dit is duidelik dat die regering mik na ʼn drie jaar lange entstof-inwerkingstelling. Dit is te min, te laat,” sê Hill-Lewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish Sowaar ·

die entstof is ‘n absolute onnodige verkwisting van geld. Daar sit die EU nog met miljoene se varkgriep inentings. Maar as die geldmag het die politici net waar hulle, hulle wil hê.

Kokerboom ·

Dit skep ook gapings vir korrupsie in provinsies. Onthou ook net geld het GEEN waarde vir die mense!!

My siening ·

En dit van n minister wat kriminele vriende bevoordeel. Sies net die ANC kaders glo jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.