Só lyk Gauteng se Covid-19-prentjie

(Argieffoto)

Wetstoepassingsowerhede in Gauteng gaan in Desember en Januarie siftingstoetse by padblokkades by alle toegangspunte na Gauteng doen in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te stuit.

Die Gautengse provinsiale regering het Woensdag gesê die premier se advieskomitee oor Covid-19 waarsku dat die risiko van die oordrag van die virus in die feestyd kan toeneem. Die verwagte toename word onder meer toegeskryf aan meer interprovinsiale reise, Kersfees-samekomste van vriende en families, of besoeke aan ouer mense wat meer kwesbaar vir die virus is.

Stampvol plekke met swak ventilasie waar mense praat, skree of sing is ook die perfekte kans vir die virus om te versprei.

“Hoewel die toename in infeksies in hierdie stadium matig is, is ons bekommerd dat Gauteng ʼn moontlike oplewing of tweede vlaag in Januarie of Februarie kan ondervind wanneer mense terugkeer na die provinsie,” lui ʼn verklaring van die departement.

Teen Dinsdag het Gauteng 1 138 aktiewe gevalle van die virus gehad, terwyl altesaam 235 139 gevalle tot dusver in die provinsie bevestig is.

Landwyd het die getal aktiewe gevalle Dinsdag op 38 124 gestaan, wat beteken Gauteng is in hierdie stadium verantwoordelik vir slegs 3% van aktiewe gevalle. Altesaam 30% van aktiewe gevalle is in hierdie stadium in die Wes-Kaap, gevolg deur die Oos-Kaap met 25% van aktiewe gevalle.

Gauteng het tot dusver 5 014 bevestigde Covid-19-sterftes gehad. Hiervan was 53% mans (2 679 sterftes) en 47% vroue (2 335).

Altesaam 88% van diegene wat weens die virus gesterf het, was tussen 40 en 89 jaar oud.

Die meeste Covid-19-sterftes (55%) kom voor binne ʼn week nadat ʼn pasiënt in ʼn hospitaal opgeneem word. Uit dié syfer sterf 36% binne drie dae, 29% sterf binne twee dae, 10% sterf binne ʼn dag nadat hulle opgeneem is en nog 10% sterf skaars ure nadat hulle by ʼn hospitaal aangekom het.

Altesaam 38% van mense sterf meer as ʼn week nadat hulle vir Covid-19 in ʼn hospitaal opgeneem of die virus by hulle gediagnoseer is.

In hierdie stadium het Gauteng 10 631 beddens vir Covid-19-pasiënte in private en staatshospitale in die provinsie beskikbaar. Private hospitale het Dinsdag 789 beddens in hoësorgeenhede vir Covid-19-pasiënte beskikbaar gehad, terwyl dié syfer vir staatshospitale op 1 401 gestaan het.

Gauteng het ook ʼn ingrypingstaakspan, bestaande uit kenners en beroepslui met ervaring in openbare gesondheidsorg, saamgestel om die provinsie se reaksie op die pandemie te verbeter.

Gauteng sê bewerings van korrupsie en wangedrag het vordering in die stryd teen die pandemie ʼn gevoelige knou gegee.

“Die betrokkenheid van senior amptenare by die verkryging van goedere en dienste wat verband hou met die regering se reaksie op Covid-19, het die bestuurstruktuur van die gesondheidsdepartement erg verswak.

“Die departementshoof asook die hoof finansiële beampte het bedank, terwyl verskeie ander senior bestuurders voorlopig geskors is.”

Die provinsie sê hy benodig dringend hulp om sy stelsels te versterk en het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, reeds om hulp genader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christo ·

Gauteng het verlede week ‘n ‘ probleem ‘ gehad met die rapportering van sy getalle. Is dit ooit reggestel?

Anel ·

En hoeveel mense is op die oomblik in die hospitaal agv die virus? En hoeveel van hulle het ander onderliggende siektes?

Connie ·

Ag hierdie is n klug spel julle kan doen wat julle wil, of die land verder in die grond indruk, dit gaan niks aan die probleem doen nie. Die probleem le by die mense wat nie n duid omgee oor ander nie. Almal moet net hul kant bring en voorsorg tref vir hul gesinne en mense om hulle, op ons kniee bly, en tot ons Grote God bid vir leiding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.