Só lyk jou weer vir Kersnaweek

Argieffoto: Pixabay.com

Terwyl talle Suid-Afrikaners hoop om hul Kersnaweek op die strand, in die swembad of voor die braaivleisvuur deur te bring, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) Donderdag ʼn kykie gegee na die weertoestande wat vir die komende naweek verwag kan word.

Die weerdiens het in ʼn verklaring gesê Desember word gewoonlik gekenmerk deur warm temperature, sonnige weerstoestande en af en toe ʼn donderstorm oor die vogtige oostelike dele van die land. In teenstelling hiermee heers daar in hierdie tyd gewoonlik droë weerstoestande in die Wes- en Noord-Kaap, met hoë temperature wat ook hier voorkom.

Volgens die weerdiens kan die meeste Suid-Afrikaners vanjaar weer uitsien na ʼn sonnige Kersnaweek wat voorlê met temperature wat by die hoë 20- en 30-grade gaan draai.

Die weerdiens het gesê die Laeveld in Limpopo en Mpumalanga kan warm temperature van in die 30’s verwag met vogtige weerstoestande. Daar word verwag dat enkele donderstorms op Oukersaand oor die noord-oostelike dele van die land kan voorkom, met koeler, bewolkte weer wat teen Dinsdag oor die Laeveld en aangrensende platorandstreke sal inbeweeg.

Strandgangers in KwaZulu-Natal kan warm en bedompige weer Saterdag en Sondag te wagte wees, met ʼn geringe kans op reënbuie in die middae en aande. Op Kersdag kan koeler suid-westelike winde al langs die kuslyn voorkom.

Die weer in Gauteng, die Noordwes en die Vrystaat sal oor die algemeen sonnig en warm wees, met baie min kans op reën. Indien enige storms in die gebied voorkom, sal dit op Saterdag en Maandag oor die noord-oostelike Hoëveld voorkom.

In die Wes-Kaap word matige temperature en sonnige weerstoetstande verwag. “Kouer, reënerige toestande kan van tyd tot tyd oor die Skiereiland en Boland voorkom, maar hierdie reënbuie sal waarskynlik lig en van korte duur wees,” lui die weerdiens se verklaring. “Vir diegene in Kaapstad sal 26 Desember na verwagting die beste dag wees om buite deur te bring.”

Saterdag en Sondag in die Oos-Kaap sal na verwagting droog en warm wees, alhoewel ligte reënbuie op Oukersaand moontlik is. Die SAWD meen ideale weerstoestande vir ʼn strand-dag aan die Oos-Kaapse kus sal eerder 26 Desember as Kersdag self wees, wanneer weerstoestande na verwagting meer sonnig en minder winderig sal wees.

Die SAWD het gesê hy sal voortgaan om verwikkelinge in die weerstelsel te monitor en sal nuwe inligting deurgee soos nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wil weet ·

Ek wil weet hoe lyk die weer by ‘Elders’. Daar is mos so ‘n plek op die weerkaart, of was daar ook ‘n naamsverandering?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.