Só lyk jou weer vir Nuwejaar

Argieffoto: Pixabay.com

Met die Nuwejaar-feesviering wat Sondag en Maandag landswyd gevier word, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ʼn kykie gegee na die weertoestande wat verwag kan word.

Die weerdiens het in ʼn verklaring gesê die grootste gedeelte van die land kan uitsien na voortdurende aangename warm tot baie warm temperature in die dae wat voorlê.

“Die bedompige oostelike gedeeltes van die land sal meestal warm temperature, sonnige weerstoestande en moontlik donderstorms in die middae ervaar. ʼn Kouefront oor die westelike gedeeltes van die land bring bewolkte, reënerige toestande met die moontlikheid van sterk wind langs die Kaap se Suidkus wat teen Nuwejaarsdag na die Ooskus gaan beweeg,” het die SAWD gesê.

Volgens die weerdiens gaan die meerderheid van die Laeveld-gebied, Limpopo en Mpumalanga taamlik warm wees met temperature wat die kwik by tye tot in die hoë 30-grade kan stoot.

“Hierdie weer is tipies vir die somerseisoen in die streek en tesame met die bedompige toestande kan mense, veral reisigers, ʼn mate van ongemak ervaar. Die toestande kan egter Nuwejaarsaand van plek tot plek afgewissel word met reënbuie en donderstorms, veral in die oostelike gedeeltes van die land.”

Strandgangers in KwaZulu-Natal kan Sondag bedompige toestande verwag met matige kuswinde en die moontlikheid van middag- en aandstorms.

Die westelike gedeeltes van Noordwes en die Vrystaat sal meestal sonnig en warm bly met ʼn geringe kans van reën. Maandag sal sonnige toestande oor Gauteng, die westelike gedeeltes van Mpumalanga, die suidwestelike gedeeltes van Limpopo en die Vrystaat heers.

“In die Oos-Kaap sal sonnige en warm tot baie warm toestande op Nuwejaarsaand vervang word met koeler reënerige toestande en sterk wind langs die kus.”

Die SAWD het gesê hy sal voortgaan om verwikkelinge in die weerstelsel te monitor en sal deurgaans nuwe inligting deurgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Reën ·

Ag as dit maar net orals kan reën, sal dit dan nie dan ‘n heerlike nuwejaarsdag wees nie?

nannie ·

Wens dit reën van môre tot wie weet wanneer vir al die droë plekke en dat daar geen klappers geskiet word nie.

Buitestander ·

Mag God met sy groot genade en baremhartigheid verlosing bring in ons mooi land van die hitte golwe breek en reën gee dat mens en dier kan uit jubbel en onse Here vir eer.
By onse God is niks ontmoontlik.
Dankie Here vir die uitkos.
Geloof sy God.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.