Só lyk KKNK se reëlings vanjaar

Sandra Prinsloo is in “Die Naaimasjien” te sien. (Argieffoto)

Verlede jaar het die koronavirus beteken die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het glad nie plaasgevind nie, maar vanjaar is die fees voluit aan die gang in ʼn aangepaste formaat.

Liefhebbers van ons kuns en kultuur kan gereedmaak vir aanbiedings uit die boonste rakke, van toneel tot musiek, van visuele kuns tot debatte tussen topkenners oor aktuele sake van die dag wat ons almal raak.

Vanjaar se KKNK-program is vandeesweek by ʼn keurige funksie in die Labia-teater in Kaapstad bekend gestel, en die gaste het ʼn vertoning van die klassieke toneelstuk Die Naaimasjien deur Rachelle Greeff beleef, met Sandra Prinsloo in die hoofrol.

Die uitdaging in hierdie virustyd is dat dit nie sal loon of deug nie om ʼn toneelstuk op ʼn verhoog binne ʼn teater op te voer, met ʼn veelheid spelers, musikante, gespesialiseerde klank, beligting en al die ander aspekte wat teater so ʼn betowerende ervaring maak.

Die rede waarom dit nie sal loon of deug om produksies soos gewoonlik op die planke te bring nie, is die inperkingsreëls wat die aantal mense wat tydens ʼn produksie in ʼn teater toegelaat word dermate beperk dat die betalende gehoor nie genoegsaam is om te kan wins maak nie.

Daarom vind die KKNK vanjaar grootliks op jou rekenaar, selfoon, televisie en ander toestelle plaas – in jou sitkamer, as jy wil, oral oor die land. So is die gaste dus by vandeesweek se programbekendstelling getrakteer op ʼn verfilmde weergawe van Die Naaimasjien, wat op die Labia se silwerdoek vertoon is.

Dit is belangrik om te weet dat dit nie ʼn film is nie. Dit is die toneelstuk presies soos jy hom op die verhoog sou sien, met die stelinkleding, bewegings en Prinsloo se aangrypende, genuanseerde spel wat die verdelende en banale eindelik so laat uitloop op die ontroerende maar darem gedeelde universele – ja, die liefde neem ʼn duisend vorme aan.

So, dit is nie ʼn rolprent- of televisievertoning nie, dit is veel meer, en veel nader aan toneel en verhoog, want dis ʼn tegnies perfekte opname van ʼn verhoogstuk. Terselfdertyd moet mens erken dit is ten ene male nie so onmiddellik, so opwindend of so onvoorspelbaar soos ʼn ware toneelaanbieding nie.

Maar dis fenomenaal, en dis die beste wat mens tans kan doen.

Beproef dit dus gerus – dis regtig maklik en jy kan sommer nou, en nog tot 27 Junie, op die webwerf quicket.co.za bespreek. Waar daar staan “Search for events” tik jy net Die Naaimasjien in (sonder aanhalingstekens) en die vertoning kan begin. Kaartjiepryse wissel en om Die Naaimasjien te kyk, kos R150.

‘n Toneel uit “Queenie-hulle”. (Foto: Verskaf)

Die res van die program is op die webwerf kknk.co.za beskikbaar, met verskillende aanbiedings wat op verskillende tye van die jaar hul beurt sal kry.

Van die toneelstukke wat oor die verloop van volgende jaar ʼn beurt sal kry, sluit in Samsa Masjien deur Willem Anker, Asem deur Reza de Wet, Queenie-hulle deur Christo Davids en Lloyd Davids, Opdrifsel deur Philip Rademeyer en Sê groete vir ma deur Hannes van Wyk.

Op 31 Mei om 18:00 is daar ʼn uitsonderlike – en gratis! – aanbieding wanneer ʼn sterbelaaide span ʼn voorlesing doen van Neil Coppen se verwerking van Hamlet deur William Shakespeare.

Daar word deur die hele jaar opvou-vertonings (pop-up theatre) landwyd beplan soos omstandighede dit toelaat. Hierdie vertonings sal regstreeks wees, nie aanlyn of opnames nie.

Verskeie ontwikkelingsprojekte en gemeenskapsaktiwiteite word beplan, waaronder die ReWOLusie-projek en die Hekel Saam-projek, waarvoor meer as duisend mense landwyd al geregistreer het om deur hul hekel- en breiwerk uitkoms en warmte te bied aan ons land se kwesbaarstes in die lewensgevaarlike ysige winter.

In Junie verskyn ʼn digbundel genaamd Maskers en Mure, terwyl die Absa KKNK Visuele Galery ook op die webwerf kknk.co.za te siene sal wees.

ʼn Spesiale hoogtepunt is die aanbieding van die opera La Bohème later vanjaar in Oudtshoorn. Daar sal verskeie ander klassieke musiekkonserte wees en as die jaar amper op sy rug lê, span Coenie de Villiers en Deon Meyer saam vir die produksie Karoo-Kersfees, om ʼn boordensvol KKNK-aanbod af te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Is dit die nuwe permanente normaal, of gaan die lewe soos voor inperking darem eendag terugkeer? Onthou net, KKNK op jou foon en op die internet gee nie een sent inkomste vir Oudtshoorn se gastehuise en eetplekke nie.
GEEN toeskouersport, GEEN kunstefeeste, GEEN nagklubs, so te sê GEEN kerkdienste (250 toelaatbare mense in geboue wat gewoonlik 2000 op ‘n Sondag het, los kwalik die probleem op).
Ook GEEN toerisme.
En so kan my lys oor alles wat “verby” is, nog LANK word. Wat ek wil weet is, is inperking hier om te bly? Soos in vir die volgende 50 tot 100 jaar?