Só lyk kortlys vir nuwe ouditeur-generaal

Die ouditeur-generaal Kimi Makwetu. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die parlementêre ad hoc-komitee wat ʼn nuwe ouditeur-generaal (OG) vir Suid-Afrika moet aanbeveel, het Dinsdag ʼn voorlopige kortlys van kandidate bekend gemaak vir dié sleutelpos.

Die posisie raak eersdaags vakant wanneer die ampstermyn van die huidige OG, die hoogs gerespekteerde Kimi Makwetu, verstryk.

Die kantoor van die OG moet deur oudits uitwys watter nasionale en provinsiale staatsdepartemente, munisipaliteite en staatsbeheerde instellings (waarvan daar meer as ʼn duisend is) se geld korrek bestee of wanbestee word, waar daar goeie en skoon, of swak en korrupte regering is – en deesdae ook wie vir oortredings vervolg moet word.

As sodanig speel dit ʼn absoluut kardinale rol in die Suid-Afrikaanse samelewing en staat. Indien die OG se werk nie op die hoogste peil is nie, sal die land ernstig verswak word.

Sedert 1994 is die kantoor van die OG – anders as ander instellings wat kragtens artikel 9 van die Grondwet die demokrasie moet ondersteun (soos die Menseregtekommissie, Geslagsgelykheidskommissie en Openbare Beskermer) – nog altyd as ʼn hoogs bekwame, streng en korrekte juweel in die kroon van die staat gesien.

Die kaliber van die ouditeurs-generaal sedert 1994 – Henry Kluever, Shauket Fakie (wat weliswaar kritiek gekry het oor een kwessie: Sy hantering van die oudit van die 1990’s se wapentransaksie), Terence Nombembe en Kimi Makwetu – was nog altyd onbesproke. Hul eerlikheid en politieke neutraliteit het elke toets deurstaan. Dit is ook in ʼn tyd dat die personeel van die OG se kantoor in sommige korrupte munisipaliteite gyselaar gehou word; daar is al op OG-werkers losgebrand; daar is pogings tot omkopery en die vernietiging van dokumente en bewyse deur korrupte amptenare en politici wat tronkstraf weens hul oortredings vrees.

ʼn Verdere kenmerk wat sedert 1994 enig in sy soort in die Suid-Afrikaanse staatsdiens is en heelwat bygedra het tot stabiliteit, kontinuïteit en strengheid, is dat elke OG sedert 1994 opgevolg is deur sy adjunk. Dié persoon was dus gewoond daaraan om die omvangryke taak en personeel te bestuur.

Die amptelike vereistes vir die pos is dat die OG ʼn Suid-Afrikaanse burger moet wees, ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester met spesialis-ervaring van oudit, staatsfinansies en/of openbare administrasie moet wees en aan verskeie tegniese vereistes vervat in die Ouditwet en die Wet op die Ouditeur-Generaal moet voldoen.

Al agt kandidate is dus geoktrooieerde rekenmeesters en twee (Tsakani Maluleke en Rachel Kalidass) is vroue. Die agt kandidate op die kortlys is:

  • Moses Gasela: Nie veel is oor hom bekend nie, behalwe uiteraard dat hy, soos almal anders, ʼn geoktrooieerde rekenmeester is;
  • Zakariya Hoosain: Hy is ’n direkteur van die ouditfirma Moores Rowland;
  • Rachel Kalidass: Sy dien tans op die SAUK-raad (waar sy soms onder kritiek moes deurloop en by tye omstrede was), sowel as op die rade van SANParke en die Suid-Afrikaanse Biblioteek (vir haar werk by albei hierdie instansies is daar net lof). Sy staan aan die hoof van ʼn Johannesburgse ouditeursfirma;
  • Shabeer Khan: Hy dien in die bestuur van die departement van handel en nywerheid – een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde staatsdepartemente;
  • Tsakani Maluleke: Die verwagting is dat sy die pos sal kry. Sy is tans adjunk-ouditeur-generaal, het dus ten nouste met Makwetu saamgewerk en het twintig jaar oudit-ondervinding in die openbare en private sektor;
  • Michael Sass: Hy is ’n voormalige finansiële hoof van Verimark; en
  • Edmond Shoko-Lekhuleni: Hy is ʼn adviseur vir die sambreelorganisasie van Afrika se ouditeurs-generaal.

Al agt kandidate se CV’s sal Donderdag deur die parlement bekend gemaak word vir openbare kennisname en insette.

Op 18 Augustus sal die komitee openbare onderhoude met die kandidate op die kortlys voer en op 25 Augustus sal hulle ʼn aanbeveling aan die Nasionale Vergadering (NV) doen.

Die (NV) sal dan die kandidaat aanwys en aan pres. Cyril Ramaphosa voorlê om die aanstelling te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Akhenatha ·

Siener het gesê: Die wat bo moet wees, sal onder wees, en die wat onder moet wees, sal bo wees. So gaan hierdie land aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.