Só lyk kragsituasie in Pretoria

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

Die kragtoevoer na dele van Pretoria-Oos is herstel. Dié buurte is sedert Saterdagaand sonder krag ná ’n ontploffing by die Wapadrand-substasie. Van die buurte wat geraak is, sal egter moontlik tot Donderdag nog sonder krag sit.

Die krag het Maandagaand in groot dele van Wapadrand, Equestria en Silver Lakes aangegaan.

Daar is steeds dele van dié buurte wat nog nie krag het nie. Dit sluit in Wapadrand – oos van Solomon Mhlangu-rylaan; die Equestria-hooflyn – Vergelegen-rylaan, Meerlust-straat, Stellenberg-straat en die oostelike dele van Cura-rylaan; die Boschkop-hooflyn; Six Fountains; Wapadrand – Speekstraat en omliggende gebiede; Tygerpoort en die Zwavelpoort-hooflyn.

Volgens Phillip Nel, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die Tshwane-metroraad, het die tegniese span van die metro se energie- en elektrisiteitsafdeling Maandagaand probleme ondervind toe hulle van die kabels getoets het. Sodra dié probleme opgelos is, sal bogenoemde buurte se kragtoevoer ook herstel kan word.

Faerie Glen, Olympus en Boardwalk sal nog moontlik tot Donderdag sonder krag sit.

Nel het bevestig opruimingswerk by die substasie is voltooi. Die metro beoog om Dinsdagoggend met die vervanging van die uitgebrande kragpanele te begin. Herstelwerk aan beskadigde kragkabels het ook reeds begin.

“Die metro beoog om die herstelwerk binne twee dae klaar te maak. Daarna sal die oorblywende woonbuurte dan ook weer krag hê,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pampoen ·

Dankie vir die manne wat onverpoos werk om dit reg te stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.