So lyk matrieks se eindeksamenrooster

(Foto: Maroela Media)

Vanjaar se matrieks sal op 21 Oktober met hul eindeksamen begin en op 28 November hul penne neerlê.

Die departement van onderwys het dié datums Vrydag aangekondig.

Vanjaar se eksamenrooster lyk baie dieselfde as verlede jaar, met slegs enkele veranderings.

Die praktiese eksamens vir rekenaartoepassingstegnologie (RTT) en inligtingstegnologie (IT) sal in die eerste week van die eksamen afgelê word, en nie ʼn week voor die amptelike aanvang van die eksamen nie. Vraestel 1 van dié eksamens is vir 22 Oktober en 23 Oktober geskeduleer. Die herskryfgeleentheid sal op 28 November plaasvind.

Vraestel 3 vir al die amptelike tale (Engels, Afrikaans, Zoeloe, Xhosa, Ndebele; Sesotho, Setswana, Sepedi, siSwati, Tshivenda en Xitsonga) sal ook tydens die eerste week geskryf word en word voor vraestel 1 en 2 afgelê.

Die lewensoriëntering (LO)- algemene assesseringstaak sal op Maandag 2 September geskryf word, en die herskryfgeleentheid is geskeduleer vir Donderdag 3 Oktober.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal die uitslae van die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat op Woensdag 15 Januarie 2025 bekend maak.

Die provinsiale onderwysdepartemente sal die finale uitslae op Donderdag 16 Januarie 2025 aankondig.

Dié departemente is versoek om die vrystellingsdatum van die 2024 NSS Oktober/November-resultate deur hul normale kommunikasiekanale te kommunikeer.

Die amptelike eksamenrooster kan hier afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.