Só lyk moontlikhede vir Moreletapark-gemeente

(Foto: pixabay)

Die Moreletapark Gemeente (MPG) in Pretoria sê daar is neigings en besluite in die NG Kerk oor Skrifgesag en -interpretasie wat hom bekommer en hy moes daarom besin oor sy rol en posisie binne dié kerkverband.

“Die kwessie waarmee MPG worstel is die onderwerping aan ’n gesagstruktuur wat moontlik die Skrif op ʼn postmodernistiese en liberale wyse interpreteer en die gesag daarvan bevraagteken. MPG is oortuig dat bogenoemde strominge ʼn negatiewe en verdelende uitwerking binne die NG-kerkverband kan hê,” lui ʼn inskrywing op die gemeente sy webtuiste.

Maroela Media het vroeër berig die gemeente oorweeg dit om sy bande met die NG Kerk te breek. Hy het ook vroeër al met die NG Kerk se algemene sinode oor die moontlikheid vergader. Die kerkraad vergader weer oormôre en ʼn besluit oor die verdere proses sal dan geneem word.

In ʼn inligtingstuk sê die gemeente hy is bekommerd oor verskeie kwessies binne die NG-kerkverband wat hy met die leierskap binne die kerkstruktuur opneem.

Dit sluit in Skrifgetrouheid en -gesag en die “risiko dat liberale en humanistiese besluite geneem word sonder dat die waarheid van die Skrif daarin weerspieël word. ʼn Toenemende ontkenning van Skrifgesag en die belydenisskrifte van die kerk in aspekte soos die maagdelike geboorte, fisieke opstanding, bestaan van Satan en voorskrifte vir die huwelik is vir MPG kommerwekkend.”

Die gemeente het ook sy kommer uitgespreek oor ʼn onlangse hofsaak waar “onkerklike wyses in ʼn wêreldse hof gebruik is eerder as om die kerklike weg en Bybelse beginsels te gebruik om die saak te besleg. Die hofuitspraak het na ons mening die onderhewigheid van die Skrif aan die land se Grondwet versterk.”

Kerkbode, die amptelike mondstuk van die NG Kerk, word ook gebruik om liberale standpunte te steun en uit te dra deur dié standpunte veel meer ruimte te gee as gereformeerde denkwyses, sê die gemeente.

Luidens die webtuiste sê hy verskeie faktore, waaronder finansies, hou nié verband met sy besluit nie.

Hy sê ook die selfdegeslagverhoudingshofsaak het nie ʼn direkte rol gespeel nie. “Dit het wel ʼn indirekte rol gespeel, aangesien dit die gebrek aan Skrifgetrouheid en -gesag binne die NG-kerkverband beklemtoon het. Die Skrif is duidelik oor selfdegeslagverhoudings. Net so is die ignorering van die Skrif se voorskrifte oor die hantering van hofsake ook ʼn rede tot kommer.”

Die gemeente het reeds met die proses begin om ondersoek in te stel oor die gevolge as hy besluit om die NG-kerkverband te verlaat.

Die gemeente sê die kwessie kan binne kerkverband op drie moontlike maniere hanteer word.

  1. Tree uit die NG Kerk. Kerkordelik kan ʼn gemeente dit nie “as gemeente” doen nie. Die leraars moet uit die NG Kerk bedank en ʼn nuwe, onafhanklike gemeente stig. Lidmate moet dieselfde proses volg. In dié geval is die leraars se bevoegdheid, MPG se geboue en bankrekening in die gedrang. Laasgenoemde twee bly binne die NG Kerk terwyl die leraars hulle bevoegdheid binne die NG Kerkverband verloor en nie verder binne die NG Kerk aansoek kan doen vir poste nie.
  2. Doleer as gemeente. Dié proses beteken dat die MPG binne die NG Kerk bly, maar in ʼn staat van treur gaan oor wat in die NG Kerk gebeur en daarmee ʼn dispuut verklaar. Formele gesprekke word oor die bekommernisse gehou en die NG Kerk moet dan aandui of hy daaraan aandag gaan gee of nie. Die besluit om uit die NG Kerk te tree kan in dié geval later geneem word. Ander gemeentes, wat met die MPG saamstem, kan ook by hom aansluit en saam doleer.
  3. ʼn Buitengewone Oostelike Sinode-sitting kan opgeroep word waar net dié saak agter geslote deure aangehoor word. Al die gemeentes in die Oostelike Sinode se verteenwoordigers word genooi om die sitting by te woon. In dié geval is daar weer eens verskeie moontlikhede.

“Hierdie proses kan lank neem en is ons onseker teen wanneer dit afgehandel sou kon wees. Ons gaan egter nie afsien van ons bekommernisse nie en die pad stap om by ʼn oplossing te kom, wat uiteindelik sou kon beteken dat ons die NG-kerkverband verlaat,” sê die gemeente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

79 Kommentare

Schalk ·

Verder is julle doodsteek nelis janse van rensburg. Wat ewe verkondig dat gay wees n gawe uit die hand van God is. So lei hy duisende derduisende soekende siele die hel in.

Akademi Buktu ·

Die Sinodale Vakverbond voel vrede vir die waarheid. Korporatiewe politieke korrektheid beteken veel meer. Ek dink aan die oormatige publisiteit wat die later “Nuwe Vervormingsnetwerk” se professore uit die pen van Neels Jackson in Beeld en Rapport geniet het. En toe sien ek Jackson het redakteur van Die Kerkbode geword. Nou ja, 1 + 1 = 2 (in hierdie verband ook bekend as post-modernisme). Die NG Kerk en soveel ander het myle der myle ver weggedwaal van die Nuwe Testament evangelie en ekklesia wat Christus en sy apostels verkondig het.

LJ ·

Well Done, Moreleta!! Hou by die skrif – julle sal seën ontvang!!!

Louis ·

Ek stem saam met jou lj. Dit hoog tyd dat gemeentes in die NG kerk is wat nie saamstem met die leër van die kerk wegbreek daarvan.

toy ·

Ja mense wil die Bybel verander sodat dit by die mense pas en nie soos die woord se dit moet wees nie.

Anon ·

Interessant… Die Fariseërs het óók ‘n hoog heilige siening oor Skrifgetrouheid/die Skrif gehad en het Jesus hulle nie keer op keer reg gehelp nie? Die mens sal nóóit leer dat God se weë aan ons onbekend is en ons nie die Leermeester kan leer nie.Dit wonder ek wel, as MPG skrifgetrou wil wees moet die dominee en gemeente ook terugkeer na die Skrif se voorskrifte oor kleredrag. Moet bv. vroue se hoofde nie bedek wees nie. So, by watter voorskrifte hou ons en hou ons nie?

Jessica ·

Dagsê,

Ons moet ingedagte hou dat toe die Bybel geskryf was dit nie geskryf is vir die moderne era se materialistiese behoeftes nie. Hul kleredrag was anders en oor 2000 jaar van nou af as Jesus nog nie gekom het nie sidder ek om te dink hoe die mens dan gaan aantrek.

Toe Jesus die dissipels se voete gewas het was dit gewees uit liefde. Hulle het ver gestap. Hulle het nie motors gehad nie. Dit was n act of kindness. N voorbeeld hoe ons moet maak en liefde wat ons teenoor ander moet hê.

Dus wanneer ons die Bybel lees moet ons hulle era waarin hulle geleef het in ag neem om die gaaping tussen daardie tyd en nou te oorkom.

God se woord verander nooit maar die mens doen en dit is waar sonde inkom.

GeSeënde Oraniër ·

Sterkte broers en susters
Ons hoop julle kan suksesvol losbreek.
Voorbidding vir julle vanuit die Afrikaanse Protestantse kerk.

Jan Brand ·

Ek stem, Anon.
As MPG dan nou skrifgetrou is, wil ek graag weet wat doen hulle met die Tien Gebooie. Hou hulle die Sabbatdag, of dryf hulle handel en speel of kyk sport? Ek hoop nie enige van hulle het die verbod op egbreuk dalk gebreek deur seks buite die huwelik te hê nie.

Lorraine ·

MPG bevraagteken nie skrifgetrouheid nie, hul ken die waarheid en bevraagteken NG Kerk se skewe beoefening daarvan. As jy weet wat die waarheid is, kan jy nie anders as getrou wil wees daaraan nie. Wat jy aantrek, wat jy eet is wetties en ons is vrygemaak daarvan Anon. Maar morele hartkwessies… Jy beter 100% sekermaak jy stap die regte pad daar en lei nie skape saam met jou op n verkeerde wee nie. Well doen Moreletapark! Julle staan nog altyd uit bo die res!

Schalk ·

Anon. Jy het op n baie subtiele wyse jou oortuiging as aties hier probeer oordra. Gelukkig is dit moontlik om deur jou en jan brand te sien.

Deon ·

Anon, jy slaan die spyker op die kop. Dan moet die Skruf deurlopend getrou nagevolg word, nie selektief nie. Dus is die NGKerk en MPG maar die twee kante van dieselfde munt.

Charles ·

Moreletapark- ek ondersteun julle 100%

Al die punte wat julle noem en opper slaan so na aan die hart van die saak!

Die verfoeilike liberale tendense van die eens sterk en konserwatiewe NG is die rede waarom mense wegbly en die eens trotse instelling van God verfoei, en nie omdat die NG kerk skriftuurlike stukke as stawing gebruik het vir die regverdiging van afsonderlike ontwikkeling nie – die meeste Afrikaners in my opinie gaan juis akkoord daarmee! (Ons is ‘n konserwatiewe en behoudende volk) Die liberales dink smalend dat dit daarom gaan (dat die NG te konserwatief en tradisioneel was) , maar dit gaan juis om die Afrikaners se vervreemding van die instelling as gevolg van die instelling se halsoorkop omhelsing van die sondige tendense (vyande van die mensdom op sy ligste gesien!) van globalisme, humanisme en idealisme (SE DANKIE AAN HEGEL!) wat sy kop verloor het, en die onverdraagsame en politiese korrekte “liberalisme” en die ergste van alles – daardie gonswoord van volkere wat behoudend is en hul kulture en tale wil red van ondergang en ondermyning: multikulturalisme (lees vernietiging van die Weste, sy diversiteit van tale en algemene diversiteit en sy Joods- Christelike erfenis).
DOE SO VOORT!
Baie dankie.

Ek is Sam ·

Die kerke van ons tyd wat deur wêreldsienings en -politiek meegesleur word, sal val. Die Woord is duidelik daaroor en maan: Kom uit haar uit, My volk!

Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.
~ Joh. 12:43

As ons by die Woord en God se wette en ordes gehou het, was hierdie land die Eden wat dit bedoel was om te wees.

marous ·

Die dwaling van die ngk ruk alles uitmekaar. Breek totaal weg asb!

JB ·

Bly daar word standpunt ingeneem. Ek glo nog gemeentes sal volg.

Ja-JB ·

JB, reeds in 1993 het die Sinode Wes-transvaal die gemeente De Deur uit die NGKerk geskop gekry. Die Gemeente De Deur, ‘n eie afsonderlike gemeente is gestig. Ons moes afstand doen van die kerkgeboue, pastoriee, ens. Alles het oorgegaan in die hande van ‘n oorblywende paar mense wat steeds lidmate wou wees. Ons predikant, ds. Gert van Heerden, is hof toe gesleep en uit die kerk en pastorie gedwing. Geen genade gegee nie.
Lees ook gerus die protesstuk: “Die damwal breek” en wie van die predikante van die NGKerk dit destyds al onderteken het. Die Algemene Sinode het die beswaarskrif van hierdie gemeente nie eers behoorlik hanteer nie. ‘n Kommissie het dit hanteer en sy aanbevelings is goedgekeur. Daar bestaan dus reeds verskeie afsonderlike gemeentes (kerke) wat so ontstaan het. Op De Deur, in Brakpan, in Pretoria.
MPG julle is op die regte spoor en gaan voort met die pad wat julle ingeslaan het. Onthou: hier gaan dit nie oor geboue, geld of watse besittings julle opgebou het nie. Dit gaan oor die WAARHEID VAN DIE WOORD en die GESAG VAN DIE SKRIF.
Bestry so die dwalende NGKerk hierargie.

EKKE ·

Soos geskryf staan. In die laaste tye sal dit wat REG is, as verkeerd geoordeel word, en dit wat VERKEERD is, as aanvaarbaar gehanteer word. Ons almal is sondige mense en strewe na die regverdige verkondiging, en gehoorsaamheid aan die woord van God.

Chris Liebenberg ·

Om onder die leiding van die Heilige Gees die Woord te interrepteer en op die gesag vd Woord te staan, sal teenkanting ontlok. Om weg te breek van die NGK is beslis nie om weg te breek uit God se koninkryk nie. Om sogenaamde predikant status te verloor beteken nie dat jy jou roeping verloor nie dalk eerder dit net vaster maak aan die EEN wat jou geroep het. Moenie dat menslike vrese ons terughou om die Here met volle oorgawe te dien nie.

ED ·

Het God & Jesus die Bybel geskryf of dit selfs net deurgelees en beaam “dis goed en waar”? Nee! MENSE het dit geskryf en MENSE het besluit dit is waar. — “En die grootste hiervan is die liefde!” Lééf DIT!!

Jessica ·

Dagsê,

Die Heilige Gees “God se gees by ons” het die Bybel geskryf. Natuurlik is God se mense gebruik maar die Heilige Gees het deur hulle gewerk. Dus is die Bybel God geinspireerd en daarvolgens sal ons eendag geoordeel word as ons voor Jesus staan.

Louis ·

Tipies Suid-Afrikaner. As ons stry dan stig ons ‘n nuwe kerk.

Manie van Worcester ·

NGK is nie meer n kerk, dis wat NGK 40 jaar terug n sekte sou noem

Kiskar ·

Die meeste NG Kerk leraars glo ook nie meer aan ‘n letterlike 6-dag skepping nie. Is dit dus enige wonder hulle trap so klei as dit by die huwelik kom??? Die huwelik is deur God in die Tuin van Eden tussen 1 man en 1 vrou ingestel.

kolla ·

Daai manne van die bybel het baie vrouens gehad jong, definitief nie net die een man een vrou scenario nie.

jakes ·

Die onlangse gebeure in MPG is maar n bewys dat die kerk deur liberale denke oorheers word en sodanig afgewater raak dat dit selfs deur n hof besleg word. Hierdie tendens is nie net van toepassing op die NG Kerke nie maar het feitlik op alle denominasies betrekking. Die bybel as sulks is nie meer vir sogenaamde christene belangrik nie want hulle wil in hul gehoor gestreel word vanaf die preekstoel en dit is die kerk se ondergang.

Wakker ·

Voorwaar die eindtye wat ons beleef…. Die NG Kerk is nou reeds baie jare lank by ‘n kruispad en met die nuwe linkse moderne sienswyses wat nou binne hul geledere posvat, nog erger so! Dit is dus prysenswaardig van Moraleta dat hulle uiters onrustig is oor die nuwe “demoniese” tendens.

Die NGK bevraagteken onder andere die bestaan van die duiwel?? So, lieg Jesus dan ook in die Bybel wanneer Hy self die duiwel aanspreek en na hom verwys en of duiwels uitdryf?

Nieteenstaande al hierdie dinge, sal die afval groter word en die aanval teen God en Sy kinders baie erger word – so staan dit ook geskrywe…. totdat die aangewese tyd kom! Prys die Here! (Volg maar die Israel Folau sage in rugby om een van derduisende gevalle uit te lig….)

Moraleta en die ander wat nog in die Gees van die Here leef – laat ons saam waak en bid.

Stap weg in vrede ·

Skitterend Moraleta
Baie trots op julle.

Stap weg en offer die geboue en geld, die NG kerk gaan binnekort ineenstort.

Geen baksteengeboue of geld in die bank kan die NG kerk red nie.

Stap weg in vrede en moenie omkyk nie.

God3 sal self voorsien in jul behoeftes.

Slotsom ·

Ag jere dankie tog so die eindtye is nou uiteindelik 8 geslagte later hier?

Dries du Toit ·

Gehoor van die ou wat alleen op n eiland bly. Hy bou toe 3 geboue. Toe iemand hom vra waarvoor is die eerste gebou. Toe se hy dit is sy huis waarin hy bly. Toe vra hulle hom waarvoor is die 2e gebou. Toe se hy dit is sy kerk. Toe vra hulle hom waarvoor is die 3e gebou toe se hy dit is ook n kerk. Op die vraag hoekom nog n kerk was sy antwoord. Dit is wanneer ek afstig

Karen ·

Afstig of de nie, in die laaste dae gaan daar baie vals profete kom en ons is nou daar. Punt is, as hulle (NG kerk) nie volgens God se Woord lewe en handel en wandel meer nie, dan het dit beslis tyd geword om n ander kerk te kies of weg te skeur van hulle. Help nie mens bly daar omdat daar n stigma aan afstig is nie. God se Woord is die lig op ons pad en n lamp vir ons voet en as iemand verdraai of dinge so maak om ander (gelowe of sienings) gelukkig te maak is dit tyd on n ander kerk te soek. As God sê n ding is verkeerd is dit, as jy wonder, gaan soek dit in die oorspronklike teks en vind uit wat daar staan. Ds is daar om ons te voed, maar res van die week, moet ons self eet, so vat self God se Woord en leer dit, bestudeer dit, maar om net soos n donkie agter hulle aan te stap is verkeerd.

A ·

Ek besef geen mens is 100% korrek nie en daarom ook geen kerk nie. Wat my bekommer is dat net sekere Skrif gedeeltes ‘n probleem is. Die wet sê ook dat die sabbat ‘n rusdag moet wees en ek hoor Moreletta het ‘n winkel/snoepie waar mense elke Sondag eers kan sorg vir die maag tydens die diens? Waar trek mens dan die streep. Op die ou einde gaan alles maar net oor geld.

OWO ·

Sondag is nie ‘n Sabbat nie.Sondag,die opstandingsdag was die groot verlossingsdag.En juis daarom het die Christene die dag gevier en nie gerus nie.Sondag is ‘n dag met heeltemal ‘n ander karakter as die Sabbat.Die Sabbat was ‘n rusdag,Sondag is ‘n feesdag.As jy feesvier,rus jy nie,jy juig.

Leon Stevens ·

Skande! Walglik! Om die Skrif te probeer moderniseer om by humanistiese oortuigings te probeer klank vind. Die NG Kerk het reeds sy eie lot bepaal. NG Kerk gemeentelede, bekeer julle en kom weg van die NG Kerk. Slegs God se Woord is die Absoulute Outoriteit. Enige wegbeweeg van dit lei tot die verderf en ewige dood. Moenie God se Woord probeer verdraai om die res van die wereld te probeer paai nie.

Koskas ·

Walglik dat vrouens deesdae nie meer hoedens dra en in die amp is nie.

Johanna ·

Moreletapark Gemeente het baie lidmate en kan beduidende besluite neem en ook uitvoer. Wat doen die NG-lidmaat (wat nie met die NG Sinode-besluite saamstem) maar wat deel is van n klein plattelandse gemeente. Waar sluit jy aan? Waar pas jy in?

Erick ·

Het dieselfde probleem gehad toe ek in ‘n Karoo-dorp vir ‘n paar jaar gewoon het. Natuurlik net een kerk vir die blankes (NGK) Die sogenaamde kerkraad het almal ten gunste van G-huwelike gestem. Van die kerkraadlede glo nie eers in God nie en suip dat die biesies bewe, maar dis hulle beurt en as jy op die platteland nie deel is van die kerk nie word jy afgesny en skeef aangekyk. Was lid van ‘n selgroep maar almal daar het ook maar Sondae kerk toe gegaan, oor bogenoemde redes. Beste in my opinie is om soortgelyke denkers te kry en ‘n huiskerk te stig. Dit is moeilik. Bid vir julle.

Kallie ·

Erick, jy moet jou wedervarings in die Karoo in woord vasvang en aan KykNet verkoop vir ‘n TV reeks!

Liamari ·

Welgedaan. Staan op vir die waarheid. Die Bybel is baie duidelik daaroor. Ons kan nie die huwelik soos God dit ingestel het gaan herdefinieer nie. So ook kan seksuele uitlewing tussen dieselfde geslag nie geskrap word as sonde nie. Jesus kom terug as Regter om te oordeel, en dan gaan veral die kerkleiers moet antwoord as hulle die wereld bo Sy wil gekies het.

Ronel ·

Ek ondersteun julle 100%. Ek is so bly julle doen dit. Darem ‘n stukkie hoop vir hierdie vrot wêreld.

Pieter h ·

Sal n blye dag wees as mense kerke tot die besef kom dat dat groot probleem ongehoorsaamheid aan God se woord is. Mense en kerke is so vas aan tradisie dat die waarheid van die Skrif en ja die hele by hulle vebygaan. Sondag aanbidding het die die werlike Shabbat(7de dag) lank lank gekede agv die Rooms katolieke vervang terwyl dit onbybels is en alle pastore en predikante weet dit.

OWO ·

Ek kan nie met jou laaste reel betreffende die Sabbat en Sondag saamstem nie.Die Sabbat en die Sabbatsgebod het heeltemal verdwyn uit die lewe van die vroee Christene.Voor die opstanding van Jesus is die onderhouding van die Sabbat nog in volle swang,in sy eie lewe en die van sy volgelinge.Sy verskille met die godsdienstige leiers gaan nie oor die feit van die Sabbat nie,maar oor die wyse waarop dit onderhou moet word.Maar na sy opstanding verander die situasie drasties sodat daar nooit weer ‘n verwysing is na die onderhouding van die Sabbat deur Christene of na die gebod om dit te doen nie.’n Goeie voorbeeld is Efesiers 4-5.

Stormrider ·

Ek het die oplossing! As die geskille NIKS met geld te doen het nie, ondersteun dan die NGK nog steeds finansieël maar beweeg uit van onder die NGK en doen julle eie ding. Wen-wen situasie! Of speel die geldjies tog maar ‘n rol?

Boer-in-die-Wind ·

Uiteindelik – ‘n NGK gemeente wat standpunt inneem. Hallelujah!

Ek is Sam, hier bo se stelling (“Die kerke van ons tyd wat deur die wereldsienings en -politiek meegesleur word, sal val”) is ‘n groot waarheid. Ek sien dit duidelik hier in die VSA waar ons tans tydelik woon. Die teendeel is ook waar hier, soos gesien kan word in groei van skrifgebonde kerke.

Nel ·

Die Bybel som die hedendaagse situasie in die kerk goed op: “… daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2 TIMOTHEUS 4:1-4)

Frans C ·

Die probleem is dat mense die Bybel ook as ‘n wetenskaplike handboek beskou en dan op grond daarvan bly vasklou aan ‘n 6 dag skepping en 6000 jaar oue aarde.So’n siening is mi verkeerd en kan ‘n mens die Skepper van die heelal en alles wat daarin is nie vasketting aan ‘n 6 dag skepping en 6000 jaar oue aarde en dan Jesus Christus deur wie alles ontstaan het, daarin toesluit nie.

Christus is nie ‘n tydgebonde wese nie ,maar het ewig in die oneindigheid waarin ons heelal geskep is bestaan.Die oerknal teorie is die mees aanvaarbare en wetenskaplike
teorie oor hoe ons heelal ontstaan het en die evolusieteorie die mees wetenskaplike teorie oor die ontstaan van die mens,

Trouens hoe meer ontdekkings daar is ,’n mens ontdek slegs goed wat bestaan, hoe groter word die verstommende verhaal van die totstandkomming van die mens.
In Genesis gaan dit dus mi nie oor die hoe nie maar wel oor die WIE-die oorsaak agter die ontstaan van die heelal.

Dus was die oorlede Pous mi nie verkeerd toe hy tot die slotsom gekom het,dat God
die mensdom geskep het,manlik en vroulik,Adam en Eva en dit deur die werking van die Heilge Gees so aan die skrifskrywers geopenbaar het,veral as ‘n mens inageneem dat die 1ste skeppingsverhaal geskryf is tussen 586-539 vC,dus tydens die ballingskap,waarskynlik as teenvoeter vir die Babiloniese skeppingsverhale.

wet ·

Tussen genesis 1:1 en 1:2 het miljoene jare verloop. Alles is net herskep. Help nie om net die nuwe afrikaanse vertaling te lees nie. Die bybel praat dan self van die konings van die aarde het gesien hoe die duiwel soos ‘n weerlig straal op die aarde neer gewerp is; en dit is lank voor adam en eva.

Boerseun ·

Ok vergeet van 2500 jaar van christen geskiede is. Wat se die ander oud wereld mense china van die storie. Ons weet ausies was lank in die tronk knik knik

Se maar net ·

Daar is al vir baie jare n kerk in die land waar hulle met weinig aanpassing sal kan tuis voel. Net nog n klompie afwykings van die NGK ook erken

Magaretha van heerden ·

Alles goed en wel. Maar as ons by die Skrif wil bly moet ons lyl na Mattheus 28:19 “gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies en doop hulle ” maw Doop kom na bekering en babas is dus nie ingesluit nie. “bekeer jou en laat jou doop” Die doop is die grootste struikelblok ooit wat die NG kerk moet hanteer. Hoekom stry hulle so daarteen? Die woord baptiso beteken onderdompel. My ouma het altyd gese ” ek sal my nog bekeer, maar doop nooit” Dit was totdat die Here deur Sy Heilige Gees met haar gepraat het en sy haar laat doop het. Daardie jare moes jy die NG kerk verlaat. Aangesien die kerk nou sulke groot besluite wil neem, voeg dan sommer die waarheid ook in. Sterkte en ek vertrou hulle sal luister na die Heilige Gees se stem.

Chrisjan ·

Help my reg asseblief. Waarom word daar na MPG as “hy” verwys? Ek weet daar word gewoonlik na die kerk in die vroulike vorm verwys. Ek wonder regtig net wat/hoe en waarom.

Help ·

Prof. Piet Naudé, wil jy nie asseblief jou pen optel en skryf nie.

Basie ·

Uitgelaat om die heel absurdste twak weg te steek vir die skapies.

Koskas ·

Ja en na die tuin van Eden gee hy hul vroue en slavinne en laat die hele spul kinders baar. Voorwaar uitsonderlike huwelik

Se maar nat ·

Wegbreek gaan niks verander vir Moreleta Park gemeente nie. Dit is die hof wat respek vir gays en vrouens afdwing en dit gaan vir alle kerke geld. As die Bybel nie liefde vir jou naaste kan afdwing nie sal die hof dit doen.

Andre ·

Die NG Kerk is deurspek met Vrymesselaars wie hul liberalistiese sienings afdwing ten einde die NWO se doelwitte te bevorder.

Genoeg is genoeg. ·

Dit verbaas my dat daar nog hoegenaamd mense na die Ng kerk gaan- slaap hulle of is hulle verblind of dalk gebreinspoel?
Ek het reeds in die 80’s die kerk verlaat, amptelik, sonder om doekies om te draai- oor die nuwe vertaling en hul boekie “kerk en samelewing”
Die Evangelies Gereformeerde Kerk, as iemand dalk n geestelike tuiste soek, is n behoudende kerk wat net die 1933/53 vertaling gebruik en Geloftedienste hou. Hul boodskappe is ernstig oor sieleredding en bekering. Liede is pragtig!
Breek weg mense- dis sonde om daar te bly en nog geld te gee ook.
As jul nie n EG kerk kan vind nie- die Afrikaanse Protestante kerk is waarlik ook n kerk van die Here Jesus Christus.
Dis hoog tyd ons standpunt inneem en n slag saamstaan met n duidelike boodskap aan die Ng kerk. Sinagoge van satan.
Die wederkoms is naby daar is nie meer tyd om te mors nie.

Joe ·

Ek is oortuig dat die Gaum-hofuitspraak bekom is met knoeiery tussen die partye. Die NG leierskap wou die saak verloor en die hof só kry om die gay-agenda te help. Die Kerk het kritieke erkennings gemaak wat heeltemal onnodig was maar wat die Gaum-aansprake van onwettige diskriminasie ondersteun het. Alle voorspoed aan die moedige Moreletta leierskap.

Adam ·

Die NGK is bekend daarvoor dat daar gedwaal word en as MPG dink hulle is op die perfekte pad, dan dwaal hulle ook. Met meer as 3500 verskillende Protestantse kerkgroeperings is dit glashelder dat daar baie dwalendes is. Godsdiens is vir sommige kerke niks anders as besigheid nie. Die NGK het apartheid uit dieselfde Bybel regverdig waaruit dit dekades later verdoem is. Gays is verdoem totdat ‘n ampsdraer se seun bekend gemaak het hy is gay. Beyers Naude is verban net om later sy voete te was. Waar was MPG toe en hoekom is hulle nou van oordeel dat hulle skriftuurlik so getrouis?

Marie ·

Mag meer gemeentes se oë oopgaan en besef hulle word van kleintyd af gebreinspoel deur die NGK .
Well done & Sterkte aan Moreletta Gemeente! Bly gehoorsaam en julle sal geseën word.

Judge Dredd ·

Jy is reg – almal is sondaars.
Almal wat erken hulle is sondaars is welkom.
Maar hoekom aan ‘n kerk behoort as jy nie met hul leerstelling saamstem nie, of weier om van jou verkeerde wee as sonde te sien?
Jy is verkeerd as jy dink die kerk moet homoseksualiteit goedpraat/goedkeur of maak of dit nie sonde is nie.
Jy is verkeerd as jy dink die kerk moet mense in diens stel wat weier om hul gewoontes as sonde te erken – hoe kan die kerk mense in diens neem wat aktief teen kerk se leerstellings optree?

charmaine ·

Ons predikant wou nie my vriendin se boetie se buite egtlike baba doop nie maar hy trou toe sy swanger dogter wat toe ook buite egtlike kind verwag het, dis hoe van die NG Kerk predikante dit doen.

Boerseun ·

Dalk het die ouers nog nie beleidenis afgele nie so dan kan hulle nie doop nie.

hercu ·

Moreletta breek in geloof weg, Abba Vader en die HeiligeGees sal die res doen

Heb 11

Susan vl ·

Ek ht besluit dat in elke kerk is daar sondaars. Of my sonde drankvergryping in die geheim is of Piet gay is… dit is sonde. Of Sannie ń wit leuntjie vertel of Jannie porn kyk..dit is sonde. Sonde is sonde. Daarom is daar kerke sodat ons gereeld bymekaar uitkom en met liefde dien en na n boodskap luister om ons op koers te kry. Ons self moet toelaat dat die Heilige Gees ons binne dring. God is liefde. Ons mag nie judge nie. Net God mag.. ons mag ons distansineer van aanhoudende sondige broers en susters. Daarom kan ons nie aanvaar dat ñ sondige mens wat oor en oor dieselfde sonde doen vur my kom preek nie. Amen.
Ons is in moeiluke sutsuasies. Ons weet nie eens hoe oop en eerlik is elke Pastoor,Priester of ds… dus is ons in tammeletjie gedompel.
Gay toelaat en om te preek en trou en formalier nou te verander om by hulke aan te pas…jammer..ek begin nou kwaad te raak…waar is die ware woorde in die Bybel… hoekom moet ons als in die Bybel verander om by ons sondaars te pas. Dit is groot sonde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.