Só lyk moontlikhede vir Moreletapark-gemeente

(Foto: pixabay)

Die Moreletapark Gemeente (MPG) in Pretoria sê daar is neigings en besluite in die NG Kerk oor Skrifgesag en -interpretasie wat hom bekommer en hy moes daarom besin oor sy rol en posisie binne dié kerkverband.

“Die kwessie waarmee MPG worstel is die onderwerping aan ’n gesagstruktuur wat moontlik die Skrif op ʼn postmodernistiese en liberale wyse interpreteer en die gesag daarvan bevraagteken. MPG is oortuig dat bogenoemde strominge ʼn negatiewe en verdelende uitwerking binne die NG-kerkverband kan hê,” lui ʼn inskrywing op die gemeente sy webtuiste.

Maroela Media het vroeër berig die gemeente oorweeg dit om sy bande met die NG Kerk te breek. Hy het ook vroeër al met die NG Kerk se algemene sinode oor die moontlikheid vergader. Die kerkraad vergader weer oormôre en ʼn besluit oor die verdere proses sal dan geneem word.

In ʼn inligtingstuk sê die gemeente hy is bekommerd oor verskeie kwessies binne die NG-kerkverband wat hy met die leierskap binne die kerkstruktuur opneem.

Dit sluit in Skrifgetrouheid en -gesag en die “risiko dat liberale en humanistiese besluite geneem word sonder dat die waarheid van die Skrif daarin weerspieël word. ʼn Toenemende ontkenning van Skrifgesag en die belydenisskrifte van die kerk in aspekte soos die maagdelike geboorte, fisieke opstanding, bestaan van Satan en voorskrifte vir die huwelik is vir MPG kommerwekkend.”

Die gemeente het ook sy kommer uitgespreek oor ʼn onlangse hofsaak waar “onkerklike wyses in ʼn wêreldse hof gebruik is eerder as om die kerklike weg en Bybelse beginsels te gebruik om die saak te besleg. Die hofuitspraak het na ons mening die onderhewigheid van die Skrif aan die land se Grondwet versterk.”

Kerkbode, die amptelike mondstuk van die NG Kerk, word ook gebruik om liberale standpunte te steun en uit te dra deur dié standpunte veel meer ruimte te gee as gereformeerde denkwyses, sê die gemeente.

Luidens die webtuiste sê hy verskeie faktore, waaronder finansies, hou nié verband met sy besluit nie.

Hy sê ook die selfdegeslagverhoudingshofsaak het nie ʼn direkte rol gespeel nie. “Dit het wel ʼn indirekte rol gespeel, aangesien dit die gebrek aan Skrifgetrouheid en -gesag binne die NG-kerkverband beklemtoon het. Die Skrif is duidelik oor selfdegeslagverhoudings. Net so is die ignorering van die Skrif se voorskrifte oor die hantering van hofsake ook ʼn rede tot kommer.”

Die gemeente het reeds met die proses begin om ondersoek in te stel oor die gevolge as hy besluit om die NG-kerkverband te verlaat.

Die gemeente sê die kwessie kan binne kerkverband op drie moontlike maniere hanteer word.

  1. Tree uit die NG Kerk. Kerkordelik kan ʼn gemeente dit nie “as gemeente” doen nie. Die leraars moet uit die NG Kerk bedank en ʼn nuwe, onafhanklike gemeente stig. Lidmate moet dieselfde proses volg. In dié geval is die leraars se bevoegdheid, MPG se geboue en bankrekening in die gedrang. Laasgenoemde twee bly binne die NG Kerk terwyl die leraars hulle bevoegdheid binne die NG Kerkverband verloor en nie verder binne die NG Kerk aansoek kan doen vir poste nie.
  2. Doleer as gemeente. Dié proses beteken dat die MPG binne die NG Kerk bly, maar in ʼn staat van treur gaan oor wat in die NG Kerk gebeur en daarmee ʼn dispuut verklaar. Formele gesprekke word oor die bekommernisse gehou en die NG Kerk moet dan aandui of hy daaraan aandag gaan gee of nie. Die besluit om uit die NG Kerk te tree kan in dié geval later geneem word. Ander gemeentes, wat met die MPG saamstem, kan ook by hom aansluit en saam doleer.
  3. ʼn Buitengewone Oostelike Sinode-sitting kan opgeroep word waar net dié saak agter geslote deure aangehoor word. Al die gemeentes in die Oostelike Sinode se verteenwoordigers word genooi om die sitting by te woon. In dié geval is daar weer eens verskeie moontlikhede.

“Hierdie proses kan lank neem en is ons onseker teen wanneer dit afgehandel sou kon wees. Ons gaan egter nie afsien van ons bekommernisse nie en die pad stap om by ʼn oplossing te kom, wat uiteindelik sou kon beteken dat ons die NG-kerkverband verlaat,” sê die gemeente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

79 Kommentare

jongste oudste gewildste
Schalk

Sterkte. Wat ookal, breek weg en hou by die waarheid.

LJ

Well Done, Moreleta!! Hou by die skrif – julle sal seën ontvang!!!

toy

Ja mense wil die Bybel verander sodat dit by die mense pas en nie soos die woord se dit moet wees nie.

Anon

Interessant… Die Fariseërs het óók ‘n hoog heilige siening oor Skrifgetrouheid/die Skrif gehad en het Jesus hulle nie keer op keer reg gehelp nie? Die mens sal nóóit leer dat God se weë aan ons onbekend is en ons nie die Leermeester kan leer nie.Dit wonder ek wel, as MPG skrifgetrou wil wees moet die dominee en gemeente ook terugkeer na die Skrif se voorskrifte oor kleredrag. Moet bv. vroue se hoofde nie bedek wees nie. So, by watter voorskrifte hou ons en hou ons nie?

Charles

Moreletapark- ek ondersteun julle 100% Al die punte wat julle noem en opper slaan so na aan die hart van die saak! Die verfoeilike liberale tendense van die eens sterk en konserwatiewe NG is die rede waarom mense wegbly en die eens trotse instelling van God verfoei, en nie omdat die NG kerk skriftuurlike stukke as stawing gebruik het vir die regverdiging van afsonderlike ontwikkeling nie – die meeste Afrikaners in my opinie gaan juis akkoord daarmee! (Ons is ‘n konserwatiewe en behoudende volk) Die liberales dink smalend dat dit daarom gaan (dat die NG te konserwatief en tradisioneel was)… Lees meer »