Só lyk Mosselbaai se Covid-19-getalle

Thys Giliomee, Mosselbaai se munisipale bestuurder (Foto: Mossel Bay Advertiser)

Mosselbaai se munisipale bestuurder, Thys Giliomee, sê hy is uiters bekommerd oor die toenemende aantal gevalle van Covid-19 op die kusdorp en in die nabye munisipale omgewing.

“As die statistieke in ag geneem word en die getalle met die res van die streek en die provinsie vergelyk word, wys dit dat ons as inwoners van die groter Mosselbaai munisipale gebied duidelik op die verkeerde spoor is,” sê Giliomee in ʼn e-pos wat laat gisteraand aan die belastingbetalers gestuur is.

Die eerste geval van Covid-19 in Mosselbaai is op 27 Maart bevestig. Volgens berigte het ‘n vrou wat op 13 Maart uit Gauteng gereis het, ná haar aankoms positief vir die virus getoets. Op 1 April was daar reeds ses inwoners van die gebied wat die nuwe koronavirus opgedoen het.

Gesondheidswerkers het op 6 April begin om die inwoners van Kwanonqaba, Mosselbaai se swart woonbuurt, vir die virus te toets en vyf dae later, op 11 April, het die bevestigde gevalle op 18 gestaan, ʼn toename van 300%.

Nóg ʼn persoon het Sondag positief getoets, wat die getal na 19 opgeskuif het.

Mosselbaai het tans meer as 32% van bevestigde gevalle op die Tuinroete en meer as 3% van die gevalle in die Wes-Kaap. George en Knysna, wat ook deel van die Tuinroete is, het tans elk 13 bevestigde gevalle.

Volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid het 57 inwoners van die Tuinroete teen Sondag positief getoets vir Covid-19 terwyl die totale aantal bevestigde gevalle in die Wes-Kaap op 599 staan.

Giliomee het by die inwoners van Mosselbaai gepleit om dringend en onmiddellik hul gedrag te verander. Hy het hulle ook versoek om hul besoeke aan kruidenierswinkels deeglik te beplan en ʼn afstand van 1,5 meter te handhaaf.

“Ek versoek julle om tuis te bly. Hou jou kinders tuis, keer dat hulle in die strate ronddwaal. Stop die ongehoorsaamheid. Die nasionale inperking is nie ‘n vakansie nie,” het hy gesê. “Eenvoudig gestel; ons moet almal tuis bly. Neem verantwoordelikheid, neem eienaarskap van jou gesondheid en die veiligheid van jou kinders.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wim ·

Adv. Giliomee ek stem 100% met u saam.

Hierdie inperking is vir niemand aangenaam nie, maar dit is ingestel in belang van elke burger van hierdie land en hoe gouer ons ons hieraan onderwerp hoe gouer kan ons weer ons normale daaglikse lewens hervat.

Daar is egter baie mede landsburgers wat moedswillig is en hulle nie aan die voorwaardes steur nie. Ons woon bv. in ‘n geslote gebied en hier is daagliks van die inwoners wat gaan stap of hulle honde vir ‘n wandeling neem. Daar is selfs voertuie wat teen ongeveer 22:00 by ons woning verby ry.

Ek sou graag deur Adv. Giliomee se kantoor ‘n verdere verskerpte voorstel t.o.v. die beperkings maak en dit is dat besighede Sondae gesluit moet word. Die moontlikheid om bv. in ‘n supermark deur covid-19 besmet te raak kan met ongeveer 14% verminder deur eenvoudig net minder aan die risiko blootgestel te word.

Johanncb ·

Lank nadat die inperking aangekondig is, was daar heelwat gerugte van etlike mense wat in Mosselbaai rondloop asof niks verkeerd is nie!

Nico ·

Sê ook hoeveel in watter woonbuurte. Die gebied wat onder Mosselbaai val is groot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.