Só lyk ‘n skool met ‘n 0%-matriekslaagsyfer

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (14 Februarie 2020) (Foto: Koppano Tlape/GCIS)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het in die parlement die sluier gelig oor die omstandighede in die 13 skole landwyd wat ‘n 0%-slaagsyfer in verlede jaar se matriekeksamen aangeteken het – dis skole waar al die matriek-kandidate verlede jaar gedruip het.

Motshekga het die besonderhede verskaf in antwoord op ‘n parlementêre vraag deur die EFF-LP Reneilwe Mashabela, wat wou weet of haar departement dié skole besoek en ondersoek het, en of daar departementele ingryping gaan wees om ‘n herhaling te voorkom.

Motshekga het gesê die mees opvallende gedeelde kenmerk van die 13 skole ter sprake is dat hul matriekgroepe so klein was – in totaal het die 13 skole net 113 matrikulante gehad.

Daar was onder die dertien byvoorbeeld twee private skole met onderskeidelik vier en vyf matrikulante, ‘n skool vir leerders met buitengewone onderwysbehoeftes, met drie matrikulante, en een sentrum vir volwasse geletterdheid waar 22 kandidate die matrieksamen afgelê het – almal onsuksesvol.

Die oorblywende nege skole was gewone staatskole met tussen drie en vyftien matrikulante elk.

Van die 113 druipelinge ter sprake het twaalf om tegniese redes gedruip – hulle het of nie opgedaag vir al die eksamens in al die vakke nie, of hul jaarpunte (amptelik bekend as deurlopende assesseringspunte of CASS-punte of skoolgebaseerde assessering) was onvolledig.

“Omdat hierdie skole so klein is, het hulle dikwels nie genoeg vakspesialiste op die personeel nie. Remediërende maatreëls sal ingestel word, en een van die moontlikhede wat ondersoek word, is om matrikulante eerder na buurskole te stuur. As hierdie swak uitslae voortduur sal die skole ter sprake beslis nie toegelaat word om in die vervolg matriek aan te bied nie,” het Motshekga gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Chris dupreez ·

Nou wil die eff geraas maak oor die slaagsyfer maar hulle is die voorbokke as dit by ontwrigting by skole kom

Hennie ·

Die foto van dié artikel is van ‘n leerder wat nie matriek agte haar naam het nie…nie moeilik om te sien nie, is dit?

Nie Verbaas ·

Laat my onwillekeurig dink aan Nontsasa Memela van SAAT wat n geoktrooieerde rekenmeester is?

Thelsa ·

Nee wat gee maar krediet waar dit toekom. Angi Motshekga beskik oor ‘n Meestersgraad behaal by Wits.

Tanniepetoors ·

Maw die arme leerders in die skole waar daar nie genoegsame vakkundiges was nie het nie ‘n kans gestaan om matriek te slaag nie. Absolute skending van hierdie kinders se menseregte en nog ‘n skandvlek op die rekord van die Dept van Basiese Onderwys

Alet ·

Aggg wat gee hulle maar matrieksertifikate. Gaan nie veel aan hulle saligheid kan doen nie en elk geval is die education system in RSA so op die afdraende pad vir jare al.

Androclus ·

Sou jy ook so gese het as daar een van jou familie betrokke was.?

Lood ·

Dit sal interessant wees om te sien hoe lyk hierdie minister asook die eff lede wat die vraag gevra het se Matriekpunte – indien hulle Matriek geslaag het,

Charl ·

Wáároor kerm hulle, met die aanhoudende verlaging in standaarde is ons eersdaags in elk geval by ‘n 0% slaagsyfer ?? Ek is nóu betrokke in die onderwys en sien élke dag hoe ‘n groot klug dit deesdae is, onderwyspersoneel wat te slég is om te doen waarvoor hulle betáál word, leerlinge wat absoluut maak wat hulle wil, wánneer hulle wil en jou hande is afgekap. Hoekom ? Want daar is géén dissipline meer nie !! Wat ‘n flippen sirkus.

Danie ·

Aag niks om oor te worrie nie.
Die 113 het almal binnekort net die beste jobs in die publieke sektor.

twaalfboor ·

Dood het ook ń oorsaak. Noem dit by die naam man…… “gebrek aan belangstelling en ń verwagting dat alles mahala is”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.