Só lyk Noordwes se Jongboer van die Jaar

Hansie Viljoen, Marnus Bothma, JP van den Berg (middel), Gerhard Strydom en Herman van Schalkwyk (Foto: Verskaf)

Paneellede vir dié jaar se Jongboer van die Jaar-kompetisie het behoorlik gewik en weeg om tussen tientalle suksesvolle boere die jong boer van die jaar aan te wys, maar die paneel het pas bekend gemaak dat ʼn boer van die Vergeleë-distrik in Noordwes met die louere weggestap het.

JP van den Berg (31), wat hoofsaaklik met saadaartappels boer, het ʼn mielie- voerkraalboer van die Mareetsane-distrik en ʼn besproeiing-, bees-, eksotiese wild- en skaapboer van die Ventersdorp-distrik uitgestof.

Van den Berg boer op ʼn gedeelte van die plaas in Vergeleë en bestuur die hele boerdery. Die boerdery bestaan uit ʼn 70% saadaartappels, 25% kommersiële veldbeeste en verder ook Brahmaanstoetery, hoenderslagpale en wild.

Hy het in sy aanvaardingstoespraak gesê landbou is die hartklop van enige land se ekonomie en dat jong boere op hoogte moet bly en moet fokus op die snelveranderende tegnologie en die toepassing en implementering daarvan in hul ondernemings.

Dr. Herman van Schalkwyk, hoof uitvoerende beampte van Suidwes, het tydens die geleentheid gesê landbouprodusente- en maatskappye staar deesdae meer uitdagings in die gesig as ooit tevore.

“Dit is belangrik dat ons mekaar in hierdie tyd ondersteun, help en bystaan,” het hy gesê. “In die verlede het die landbousektor verskeie aanslae oorleef en selfs sterker aan die ander kant uitgekom. Ons jong boere is belangrik, want hulle is ons toekoms. Juis daarom is dit belangrik dat ons hulle met inligting, kennis, advies en ondersteuning bemagtig. Hulle moet nie net die volhoubaarheid van die landbousektor en voedselsekuriteit verseker nie, maar dit selfs tot hoër hoogtes neem.”

Van Schalkwyk het gesê hy bewonder die ywer waarmee jong boere steeds hul werk aanpak – dít te midde van talle onstuimighede in die land en in die ekonomie. “Ek het volle vertroue in ons jong boere. Daar steek iets in hulle. Ek sien ambisie, harde werk en uithouvermoë en alles wat nodig is om ʼn sukses van ʼn boerdery te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Sjoe, om al op 31 jarige ouderdom al n hele plaas te kan besit wat jy self voor gewerk het wil gedoen wees. Ek haal my hoed af vir hierdie ouens. Maroela media kan jul dalk die suskesverhale opvolg asook kan uitbrei oor hoe hul tewerk gegaan het om op so n jong ouderdom so baie te kon opbou vanuit niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.