Só lyk nuwe Covid-19-gevalle in SA

Argieffoto (Durban) (3 Maart 2020) (Foto: Leon Lestrade/African News Agency/ANA)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Sondag bevestig die getal gevalle van die nuwe koronavirus (Covid-19) in Suid-Afrika staan op 51. Dit is 13 meer gevalle sedert Saterdag se aankondiging.

Die minister en adjunkminister van gesondheid het Saterdagaand ʼn dringende nasionale gesondheidsraadsvergadering gehou saam met al die provinsiale LUR’e vir gesondheid en hoofde van departemente.

“Die doel van die vergadering was om die jongste situasie-analise van elke provinsie te bespreek terwyl meer gevalle van Covid-19 aangemeld word,” het Mkhize verduidelik. “Dit was baie duidelik uit ons gesprek dat die rol wat gespeel word deur persone wat moet bepaal met wie ʼn besmette persoon in kontak was, baie belangrik is. Hul kapasiteit moet vergroot word. Daar moet ook binne 48 uur kontak gemaak word met persone wat moontlik besmet is, om verdere verspreiding van die virus te voorkom.”

Die jongste gevalle in Suid-Afrika is soos volg bevestig:

Gauteng (7 nuwe gevalle):
– ʼn 60-jarige man wat na Iran gereis het
– ʼn 36-jarige man wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 54-jarige man wat na Switserland gereis het
– ʼn 27-jarige man wat na die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 21-jarige vrou wat na Duitsland gereis het
– ʼn 53-jarige vrou wat na Duitsland gereis het
– ʼn 29-jairge man wat na Switserland gereis het

Wes-Kaap (5 nuwe gevalle)
– ʼn 35-jarige vrou wat na Duitsland en Oostenryk gereis het
– ʼn 42-jarige vrou wat na Spanje, Switserland en die Verenigde Koninkryk gereis het
– ʼn 50-jarige man wat na Nederland gereis het
– ʼn 33-jarige man wat na Switserland gereis het
– ʼn 35-jarige man wat na Oostenryk gereis het

KwaZulu-Natal (1 nuwe geval)
– ʼn 34-jarige man wat na die Verenigde Koninkryk gereis het

Vir meeste persone veroorsaak Covid-19 slegs ligte of matige simptome soos koors en hoes. Sommige persone, veral ouer persone en mense met bestaande gesondheidsprobleme, kan moontlik longontsteking opdoen.

Die grootste hoeveelheid mense herstel van die nuwe virus. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie herstel persone binne ongeveer twee weke. Persone met erger simptome herstel gewoonlik binne drie tot ses weke.

Verdere voorkomingsmaatreëls:

  • Was gereeld jou hande met seep en water of reinig jou hande met ʼn alkoholgebaseerde handreiniger vir minstens 20 sekondes. Was jou hande gereeld, veral as jy met kos werk of ná jy die toilet gebruik of gehoes of genies het. Klik hier vir ‘n resep om jou eie handreiniger te maak.
  • Bedek jou hoes of nies in die buiging van jou elmboog of met ʼn sneesdoekie. Sodra jy die sneesdoekie gebruik het, gooi dit weg en was jou hande.
  • ʼn Gesigmasker sal jou waarskynlik nie beskerm teen die virus indien jy gesond is nie. Die waarskynlikheid dat ander mense sal besmet word verminder as mense wat hoes of nies ʼn gesigmasker dra (chirurgiese gesigmasker is voldoende; N95 nie nodig nie).
  • Moenie aan jou oë, neus of mond raak as jy nie jou hande gewas het nie.
  • Moenie in nabye kontak kom met mense wat siek is nie.
  • Bly by die huis as jy siek voel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Louis ·

Die oorsaak en gevolge van hierdie pandemie word tans slegs gesoek in die mediese wetenskap, terwyl ander moontlikhede totaal geignoreer word. Die profetiesestem van die kerke was tot nou toe baie stil oor hierdie ramp. Watter wonderlike geleentheid om nie nou te getuig nie. Miskien hoor ons iets hiervan in die President se rede om 17:00 vandag.

Frederik ·

En hier begin die totale nou toeneem. Hoe moet ons weet wie om te vermy as name nie bekend gemaak word nie? Plaas dan ten minste die dorpe waar die mense met virus besmet is.

E ·

Een is Boksburg. Happy nou. Hulle kan nie name bekend maak nie.

Stink-Afrikaner'tjie ·

Stem saam, ons wil darem weet in watter dorpe die virus rondloop.

Dalene ·

Dit is vir my verbasend dat dit nie duidelik is dat die virus toeneem in ons land agv oorseese reis nie, en dat dit al lankal op daardie gebied beperk moes word, sedet die uitbreek in China en kort daarna die verspreiding na Europa ens. Alle persone wat ingekom het van oorsee moes onmiddelik gekwarentyn geword het, en nog steeds, om die waarheid te sê, vlugte behoort gestop te word. Lug personeel, grond personeel, soveel mense word blootgestel….. dieselfde stappe as wat met die terugkerende Wuhan persone geneem word

Phoebe ·

Al die besmettings kom huidiglik van die buiteland, vanaf plekke waar dit tans winter is, so dis nie nou al lewe en dood hierso nie mense…. Berei jou net solank voor dat dit in die winter maande ‘n issue gaan word en bly by jou huis as jy siek voel.

Oujongvrou ·

Nou hoekom is almal nie by die ranch hotel ingeboek nie. En asb se vir ons watter dorpe is in gedrang. Dan bly ons by die huis.

Anel ·

Ek sê die herrie is oor niks. As jy nie gewoonlik griep kry nie, gaan jy nie sommer siek word nie. As jy gewoonlik griep kry, kan jy moonlike bietjie sieker word. Die hele wêreld staan stil en wêreldmarkte stort in duie. Is hier nie dalk menslike faktor betrokke nie?
Gaan kyk bietjie na ander redes hoekom mense doodgaan en hoeveel. Hierdie virus is geen uitsondering nie.
Hier gaan meer mense per dag dood aan moord, HIV, kanker, motorongelukke, ens.
Virus net besig om aandag af te lei van iets anders. Dink bietjie!

Johan Venter ·

Dit sal nou baie interessant wees om netnou oor die nuus te hoor wat Cyril oor die virus gaan sê en of hy die NGV daarby gaan betrek. (As ek sê betrek, beteken dit om die private gesondheidsorg sommer in die proses te ‘kaap’.)

petro ·

Ai mense .
Kyk by die dagstukke van Maroela. Daar is ‘n wonderlike stuk geplaas oor ‘n Christelike perspektief op Covid-19. Ons gaan nie nou in vrees leef nie. Die Here bly in beheer. Doen jou deel en los verder alles in die Here se hande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.