Só lyk nuwe terugkeerdatums vir leerders

ʼn Skool word ontsmet teen Covid-19 (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die minister van onderwys, Angie Motshekga, het weer nuwe datums bekend gemaak vir wanneer die res van leerders te midde van die Covid-19-pandemie mag terugkeer skool toe.

Motshekga het Donderdag met die raad van opvoeders, LUR’e en departementshoofde vergader. Die minister het onder meer voorleggings ontvang oor die tydraamwerk vir die geleidelike terugkeer van die verskillende grade, registrasie en steun aan leerders wie se ouers verkies om hulle steeds tuis te hou, asook die registrasie van leerders met onderliggende siektetoestande.

Volgens die departement het die voorleggings ʼn breë oorsig gebied van al die ontwikkelings rakende die terugkeer van leerders skool toe en hoe die proses tot dusver verloop het.

Duisende bykomende leerders meld na verwagting Maandag ook by skole landwyd aan, maar die jongste aankondiging steek nie net ʼn stok in die wiel hiervan nie, dit het ook weer eens enorme verwarring onder ouers veroorsaak.

Die minister het nou, ná oorweging van die verslae, besluit dat slegs gr. R-, gr. 6- en gr. 11-leerders Maandag mag terugkeer skool toe. Dit geld ook alle provinsies. Volgens die jongste regulasies, wat Maandag aangekondig is, sou gr. R-, 1-, 2-, 3-, 6-, 10- en 11-leerders op 6 Julie terugkeer.

Die leerders wat nie meer Maandag mag terugkeer nie, sal nou op verskillende datums in Julie by skole kan aanmeld. Die departement het gesê die heropeningsdatums word aangepas gegrond op die risiko-aangepaste strategie wat ʼn berekende poging is om alle faktore op te weeg teen die heropening van skole.

“Ons word gelei deur die stygende getal voorvalle van tros-oordrag [van Covid-19] landwyd. Ons besef skole is in gemeenskappe en leerders woon in dieselfde geraakte gemeenskappe. ʼn Versigtige balans moet gevind word,” het Motshekga gesê.

Die minister gaan oor die naweek tydens ʼn mediakonferensie verder uitbrei oor die aangepaste datums. Die plan is in dié stadium dat alle grade teen Augustus weer na skole kan terugkeer.

Daar is intussen steeds geen datum vir wanneer sentrums vir vroeë kinderontwikkeling mag heropen nie. Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het vroeër aan SABC gesê daar word in dié stadium na ʼn voorgestelde datum van 26 Julie vir moontlike heropening gekyk. Die minister was egter baie vaag oor wat die plan behels.

26 Julie is boonop ʼn Sondag wat tot verdere verwarring bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anel ·

Die spul het geen idee wat hulle doen nie. Ons is die enigste land waar dit so gaan.

Corne123 ·

Ag hoekom maak hulle dit nie 30 Feb en kry kla dan weet ons almal wat hulle bedoel lieg inelkgeval oor als en kan nie n woord glo wat hulle se nie

TRP ·

Wens ek het ‘n se gehad, hierdie frustreer my en is vreeslik traumaties vir die kinders. My kind is nou ‘n “slagoffer” van hierdie omekeer.

Jolene ·

Ja, ek stem saam. Daar word woer woer met ons kinders se emosies gespeel in ‘n reeds baie stresvolle omgewing.

Renee ·

Tot wanneer is die datums of wag sy weer vir Sondag om dit op no 99 te verander is mos n’ ou truuk van haar

Hennie ·

Tyd om wakker te skrik ouers! Jou kind is jou verantwoordelikheid! Hou op om te hoop op ‘n swak swartgallige bestel wat vernietigende wêreld visie het!

Wonder ·

Ek het die ding sien kom, ek berei my kinders maar voor hull gaan nie die jaar skool gaan nie, mens kan nie n woord glo wat hulle sê nie…

Agge nee ·

Die uitstel het sweet blue all met Covid uit te waai. Die treurige spul is nog nie gereed nie. Hulle sit heeldag in die son en berei nie hulle skole en klasse voor nie. Ek weet want ek sien hulle daagliks. Ek werk tussen hulle. As ons vir hulle moet wag, sal ons nooit weer skoolgaan nie.

Santie ·

Plaas bly skole toe tot September as die ergste koue verby is. Skool is belangrik maar die onderwysers wat die siekte kry gaan erger ly as die kinders. Wonder of hul my kind nog sal deursit as ek hom self uithou tot September. En hy kan onwetend die siekte huistoe bring.

Matewis ·

Ek verstaan dat dit vir ouers ‘n frustrasie is, dit frustreer skole ook. Ek wil net vir ouers (spesifiek van laerskool kinders) dat die nuwe normaal by skole veel meer emosionele implikasies het as datums wat verander. Die jong lyfies gaan nie pouse meer hul opgeboude energie en frustrasies kan uitspeel en hardloop nie. Die sosiale interaksie met maats gaan beperk wees. Juffrou se vertroostende drukkies op ‘n slegte dag is ook uit… Dan praat ek nog nie van die masker wat heeldag gedra moet word nie. Funksionerende skole werk hard om die veiligheid van kinders te verseker en met meer leerders wat met eens terugkeer word daardie taak oornag BAIE meer uitdagend. Laat die regering almal terug en mense raak siek en sterf is almal kwaad want die regering was onverantwoordelik of dis weer die skool se skuld. Kom die leerders nie terug nie is almal ook ongelukkig… Kurrikulum kan met tyd ingehaal word, ‘n lewe kan egter NOOIT vervang word nie.

Chantel ·

Hoekom kan die skole wat gereed is se kinders nie skool toe gaan nie. Wragtig, mens kan nie die hele land “straf” oor skole wie wat nie water het al vir 20 jaar, die wat reg is straf nie

Francois ·

So word dit aangekondig n dag na ouers skoolfonds betaal het met die hoop dat hulle kind kan teruggaan skool toe en die ouers weer kan teruggaan werk toe. Praat korupsie en diefstal

Matewis ·

Hoe is dit diefstal. Ek gee klas vir my graad 12s en my graad 10s en 11s se lesse neem ek op, gebruik my eie data om met leerders te kommunikeer via Classroom, sms, e-pos en WhatsApp. Ek is seker meerderheid onderwysers werk nog hard en probeer om leerders te onderrig. Die onderwysers wat nie die hulpbronne tot hul beskikking het nie sit en werk lesse, toetse en lesplanne uit sodat leerders optimaal onderrig kan word sodra hul wel terugkeer. Dit is minderheid skole wat GEEN werk vir leerders stuur nie. Ouers moet besef dat baie beheerliggaam personeel slegs 70% of minder salaris kry. As ouers nie betaal nie, gaan skole personeel afdank en dan gaan jou kind in ‘n oorvol klas sit waar sosiale distansie nie volgens wet is nie en hy/sy gaan nie die nodige individuele aandag ontvang wat nodig is om op te maak vir verlore tyd nie. Dan is ouers weer ongelukkig oor dit, maar skole is in die posisie geplaas en het nie ‘n keuse nie. Maak nie saak wat gedoen word nie, almal is heeltyd ongelukkig

marius ·

Bestaan daar ‘n beter omskrywende woord in enige ander taal as stommerikke ?

LANA is ELANè ·

Die arme kinders, hierdie onsekerheid gaan ‘n langtermyn effek op hul geestesgesondheid hê, want dan sê mens julle gaan skooltoe, dan nie meer nie. Dan gaan hulle vir oriëntering as groep wat die vlg dag gaan begin, dan gaan hulle nie meer nie.
Mense reël kinderoppassers, want werkgewers is ook nie meer so genoë om mense van die huis af te laat werk nie, dan kanseleer jy dit net om dit die vlg oomblik te verleng. Geen nasorgsentrums, geen kleuterskole nie, hoe gaan mense kan werk as dit so gaan???
Die onsekerheid gaan ‘n blywende rippel effek op die samelewing vir nog lank hierna hê, as dit ooit ‘n “hierna” gaan raak.
Soveel weersprekende inligting het ek nog nooit teëgekom nie!! Ons maak onsekere kinders wat aan angs ly groot, veral as ons nie die HERE by hierdie hele gemors inbring om ons te help sodat ons net kan aangaan met hoe die lewe nou lyk deur Sy genade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.