Só lyk ondersoekproses na Wes-Kaapse regter

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. (Argieffoto)

Die regterlike dienskommissie (RDK) sê hy gaan voort met stappe teen regter Gayaat Salie-Hlophe, maar dat dié stappe nie ʼn staat van beskuldiging insluit nie.

ʼn Herrie tussen Salie-Hlophe, haar man John Hlophe, die Wes-Kaapse regterpresident, en Patricia Goliath, Wes-Kaapse adjunkregterpresident, woed nou al maande lank.

Die hooggeregshof is in chaos gedompel nadat Goliath in Januarie verdoemende klagte van 14 bladsye teen Hlophe ingedien het. Hierin het sy onder meer beweer dat hy ʼn mederegter aangerand en toegelaat het dat sy vrou (Salie-Hlophe) wederregtelik besluit wie as waarnemende regters in die afdeling kan dien.

Hlophe het op sy beurt klagte teen Goliath aanhangig gemaak.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, as voorsitter van die RDK se gedragskomitee, het vroeër gesê indien enige van die klagtes wat die hoofregter en adjunkhoofregter teen mekaar ingedien het waar is, die regters hulle aan growwe wangedrag skuldig gemaak het.

Die RDK het Maandag gesê sou Salie-Hlophe skuldig bevind word, sy ʼn ligter straf – as om in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word – opgelê kan word. “Die remediërende optrede kan ʼn verskoning aan die klaer, ʼn teregwysing, ʼn geskrewe waarskuwing of gepaste berading insluit,” het die gedragskomitee in ʼn verklaring gesê.

Zondo het regter Nambitha Dambuza, ʼn appèlhofregter en lid van die gedragskomitee, aangewys om die ondersoek na die klagte teen Salie-Hlophe te hanteer om vas te stel of daar meriete in is.

Dié ondersoek kan formeel of informeel wees, het die gedragskomitee gesê.

Die ondersoek wat ingevolge artikel 17 van die Wet op die Regterlike Dienskommissie gedoen word, moet ondersoekend van aard wees en daar is geen onus op enige persoon om enige bewering van feite te bewys of te weerlê nie, het die komitee gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.