Só lyk regering se entstofplan

(Foto: Graeme Robertson / various sources / AFP)

Die reusetaak om sowat 1,25 miljoen gesondheidswerkers in Suid-Afrika teen Covid-19 in te ent begin eersdaags en is maar die fase 1 van drie in die regering se beoogde inentingsprogram.

Luidens die inentingsprogram sal die regering die enigste aankoper van Covid-19-entstowwe wees. Entstowwe sal van verskillende vervaardigers aangekoop word waarna dit aan die provinsiale regerings en private sektor verskaf sal word.

Suid-Afrikaners sal dus nie almal dieselfde entstof teen Covid-19 ontvang nie. Niemand mag egter twee verskillende entstowwe ontvang nie.

Suid-Afrikaners sal vooraf moet registreer en ’n afspraak vir hul inenting maak. Almal wat ingeënt word, sal in ’n nasionale register geplaas en van ’n inentingskaart voorsien word.

Maroela Media het vroeër berig die eerste besending entstof teen Covid-19 sal Maandag in Suid-Afrika aankom. Die vlug met die eerste besending dosisse vertrek Sondag uit Indië en word ’n dag later by die OR Tambo-lughawe in Gauteng verwag.

Luidens die nasionale inentingsprogram werk die regering nou saam met die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) om te verseker dat daar geen oponthoud met die goedkeuring van die entstof is nie en dat die program so gou moontlik afskop.

Fases van inenting

Dr. Zweli Mkhize het Woensdagaand tydens ’n webinaar gesê dit is ’n enorme prestasie vir Suid-Afrika om sy eerste entstof minder as ’n jaar ná die uitbreek van die pandemie aan te skaf.

(Foto: Joel Saget/AFP)

Daar word beoog dat 67% van die bevolking teen die einde van die jaar teen Covid-19 ingeënt sal wees, wat Suid-Afrika in staat sal stel om kudde-immuniteit te behaal.

Gesondheidswerkers word as deel van fase 1 van die regering se entstofplan eerste ingeënt. Noodsaaklike werkers, mense wat in groepe saam woon, mense ouer as 60 en mense met bykomende kwale bo die ouderdom van 18, sal almal tydens fase 2 van die program ingeënt word.

Almal bo die ouderdom van 18 word andersins gedurende fase 3 ingeënt. Sowat 22 500 000 van die bevolking word gedurende dié fase geteiken.

Geen datums vir die voltooiing van die fases word verskaf nie.

Finansiering

’n Begroting vir die aankoop van entstowwe sal later gedurende die begrotingsrede bekend gemaak word. Dit is benewens die reëlings wat in die huidige finansiële jaar getref is vir die aankoop van die eerste entstowwe. Maroela Media het vroeër berig die nasionale tesourie oorweeg dit om die entstof deur bykomende belastingheffings te finansier.

Luidens die nasionale inentingsprogram is die tesourie daartoe verbind om te verseker dat finansiering nie ’n beperking op toegang tot entstowwe plaas nie. Geld vir die verkryging van Covid-19-entstowwe sal oor die algemeen afkomstig wees van bykomende begrotings, die herprioritisering van fondse, belastingverhogings en moontlik vanaf vennootskappe met die private sektor.

(Argieffoto: Unsplash)

Die regering se Solidarity Fund het ook reeds ’n bydrae gemaak wat die vooraf betaling van 15% van die algehele koste (R2,2 miljard) dek, terwyl die regering ook ’n bindende finansiële ooreenkoms met die Covax-entstofprogram onderteken het vir die toekomstige betalings van die oorblywende koste.

Luidens die plan sal die regering die entstof uit die fiskus kan bekom. Ondernemings en mediese skemas het egter ook na vore gekom ter ondersteuning van die regering se pogings en dit word verwelkom.

“Die departement van gesondheid het wysigings van die regulasies onderteken om toe te laat dat entstowwe deel uitmaak van die voorgeskrewe minimum voordeel van die mediese skemas.”

Korrupsie

Daar word in die nasionale inentingsprogram gestipuleer dat geen korrupsie geduld sal word nie. Mkhize het ook Woensdagaand gesê dat nie te veel mense betrokke gaan wees by die verkryging van die entstof nie en dat die logistieke proses fyn dopgehou sal word om te verseker dat geen korrupsie in die berging en verspreiding van die entstof plaasvind nie.

Plan sukkel om te oortuig

Siviwe Gwarube, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid, sê egter groot kommer heers oor korrupsie wat die verskaffing en verspreiding van Covid-19-entstowwe betref. Die DA doen nou ’n beroep op die regering om meer deursigtig met sy inentingsplan te wees.

“Dit is nie genoeg om te sê dit kom van die fiskus nie. Hoeveel betaal hulle per dosis? Ons wil absolute omsigtigheid hê.”

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

’n Tydlyn vir die inwerkingstelling van die plan word ook versoek.

“Ons stel belang in datums. Daar is steeds baie vrae wat onbeantwoord bly en die regering is verplig om alle inligting deur te gee.”

Jack Bloom, leier van die DA in Gauteng, meen dit kan maande duur net om die gesondheidswerkers in te ent. Hy vrees dat slegs die gesondheidswerkers teen April ingeënt sal wees, waarna die gevreesde derde virusgolf moontlik kan volg.

“Die groot uitdaging bly ook natuurlik [die inenting van] die res van die bevolking.”

Gwarube sê sy is nie daarvan oortuig dat Suid-Afrika sy teiken van 40 miljoen inentings sal haal  indien die logistieke reëlings nie uitgepluis word nie.

Maroela Media het vroeër berig die burgerregteorganisasie AfriForum en Solidariteit sal op 2 Maart in die hof wees vir die saak teen dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering, oor die regering se inwerkingstellingsplan vir die Covid-19-entstowwe.

Die organisasies voer in hofstukke aan dat die regering die private sektor doelbewus uitsluit deur dié sektor nie toe te laat om self entstowwe aan te koop, te versprei of toe te dien nie.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die antwoord vir vinnige en doeltreffende verspreiding van die entstof lê nie in die nasionalisering daarvan nie omdat mense reeds nie die regering vertrou nie. Hy sê die private sektor moet in staat gestel word om by die aankoop en verspreiding van entstowwe betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Piet ·

So onbetroubaar soos die regering is sal ek steeds verkies dat hulle dit versprei instede van die privaat sektor. Daar moet nie wins gemaak word uit die pandemie nie. Dis klaar skokkend hom te sien ‘n handjie vol lag bank toe en miljoene mense se lewens lê in puin

Vrijburger ·

Die handjie vol wat lag bank toe is die korrupte ANC regering!

Hoekom ·

Die regering gaan wins maak en die land en jy gaan nie daardie wins sien nie. Hulle sal laat ons nog die regestrasie fooi ook betaal. Piet, jy is net hier om te troll gaan sit onder die brug my maat…

Pierre ·

Die inenting proses behoort vinig te kan vorder, gebruik die huidige nasionale stem punte en sit 3 tot 4 dae opsy om die mense in te ent, as die hele land in n paar dae kan stem kan die hele land seker op dieselfde manier ingeent word.

Pierre ·

Wat word op die end van die dag met die onder 18 jariges, is daar n ander fase om hulle ook te ent of gaan dit beteken nie een kind in die skool gaan weerstand teen Covid opdoen nie, of gaan Covid weet daar is kude-weerstand in SA en weg beweeg, ons skep n generasie probleem waarby jong mense vandag nie in die toekoms ook weerstandig sal wees nie.

Dirk Mostert ·

“…sal almal tydens fase 2 ingeent word.” Ek is bekommerd oor die “almal”. Beteken dit ons ou mense word verplig? Met die entstowwe se reeds berigte komplikasies is dit moeilikheid soek om mense met bestaande kwale in te ent. Dis juis hulle en ou mense wat tot sover inent-slagoffers was.

Piet ·

Niemand word verplig nie. Jy sal moet registreer om die inenting te ontvang. Minder gaan hierdie moeite doen, meer vir my en die wat wil.

Charmain ·

Sal interessant wees om te sien hoe lank dit gaan vat voordat die provinsiale voorraad “verdwyn” en die entstof net op die swartmark beskikbaar is (teen n prys natuurlik)

Dirk Mostert ·

Pfizer teen 35 grade C (ipv -70C) sal ekstra potent wees.

casper ·

Hulle moet maar die Indian Tonic water hou – Sal was tot ‘n regte entstof beskikbaar is.

Jacobus ·

Jammer om sinies te wees. Hier het ons die grootste chaos in ons geskiedenis op ons drumpel

Jaada ·

Entstof in die land beteken niks nie, dit is nog nie goedgekeur deur Sahpra!, medisyne moet mos eers goedgekeur word voor jy dit aankoop en in die land inbring?

Casper ·

Watter entstof gaan die mees suksesvolste wees?wat gaan die inenting kos?Gaan almal daarvoor betaal of gaan daar uitsonderings wees?Ek vra weer,hoe veilig is die entstof en gaan dit korrek geberg word?

Schalk ·

Hou maar myne asb. Die BEEE gedeelte wat Cyril beplan gaan in elk geval die pryse so opjaag dat meeste mense dit moeilik gaan bekostig.

Henk ·

Die gemors het reeds geteken om 2 keer die normale prys per dosis te betaal. Die hele storie is uit die staanspoor korrup.

Jack ·

Ek is jammer met n posisie op die korrupsie indeks van 44 ste uit 180 lande kan die regering soos sy beloftes ook was met die geld aan die begin van die pandemie, nie die korrupsie beheer nie omdat dit op senior vlak plaasvind. Die feite is aan almal bekend. Ek glo nie die regering in enigiets wat hy beloof nie en het ook sterk twyfel oor wat ons toegedien gaan word. Ek val in fase 2 maar hou my opsies oop.

Hoekom ·

So die regering gaan die verkryging van die entstof monopoliseer. Hulle gaan dat ons die regestrasie fooi ook betaal voor die betaling van die entstof self. Net soos die onakkurate toetse waarvoor ons moes ten duurste betaal.
Die regering gaan wins maak en die land gaan die wins nie sien nie. As die verkryging en verspreiding beskikbaar was vir die private sektor dan was daar darem kompetisie en so sou die pryse gedaal het, nou kan die regering die pryse bepaal…

Daar is korrupsie nog voor dit begin het…

Theo ·

Twee onwaarhede wat die minister van Gesondheid kwytraak, waarvan hy ten volle bewus moet wees dat dit op die beste beeldpoetsery en op die swakste propaganda is :

1) Dat dit ‘n prestasie was vir Suid-Afrika om binne een jaar entstowwe beskikbaar te he. Dis ‘n blatante onwaarheid of verdraaiing van die feite. Ons weet wat die werklikheid is wat die min. probeer verberg.
2) Dat die mikpunt is om teen die einde van die jaar 67% van die bevolking in te ent. Dit is nie soseer ‘n leuen nie as wat dit ‘n onhaalbare doelwit is en die min. weet dit seer sekerlik, of hy moes nie in daardie posisie gewees het nie. Hy het wat onhaalbaar is bewustelik verkoop as sou dit heeltemal haalbaar wees en dus is dit ‘n onwaarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.