Só lyk SA se bevolking nou

Suid-Afrika se bevolking staan tans op 59,62 miljoen mense, het die statistikus-generaal, Risenga Maluleka, Woensdag bekend gemaak.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Gauteng steeds die meeste inwoners en nagenoeg 15,5 miljoen mense – oftewel 26% van die land se bevolking – woon in dié provinsie.

KwaZulu-Natal met 11,5 miljoen mense het die tweede grootste bevolking en die Noord-Kaap, met ʼn skamele 1,29 miljoen mense, is die ylste bevolk.

Net-net meer as die helfte (51,1%) van die land se inwoners – altesaam 30,5 miljoen mense – is vroue.

Kortliks:

  • Die gemiddelde ouderdom van alle Suid-Afrikaners is 27.
  • Nagenoeg 28,6% van die bevolking is jonger as 15.
  • Die meeste kinders jonger as 15 woon in KwaZulu-Natal (21,8%) en Gauteng (21,4%).
  • Sowat 9,1% (5,4 miljoen) van Suid-Afrikaners is 60 of ouer. Die meeste van hulle woon in Gauteng.
  • Die getal mense ouer as 60 het van 7,6% in 2002 na 9,1% in 2020 gestyg en die meeste van hulle woon in die Oos-Kaap.

Die verslag wys voorts dat Gauteng en die Wes-Kaap na verwagting die grootste toeloop van migrante gaan sien, met sowat 1,5 miljoen mense wat na Gauteng gaan stroom en amper ʼn halfmiljoen na die Wes-Kaap.

Verreweg die meeste Suid-Afrikaners is swart.

Bevolkingsgetalle volgens ras

  • Swart: 81% of 48,2 miljoen mense
  • Bruin: 9% of 5,2 miljoen mense
  • Wit: 8% of 4,7 miljoen mense
  • Indiër/Asiaties: 3% of 1,5 miljoen mense

Die lewensverwagting van mans is 62,5 jaar oud, terwyl vroue se lewensverwagting met geboorte 68,5 jaar oud in 2020 is. Volgens StatsSA kan die hoër lewensverwagting weer daal as sterftes weens Covid-19 nie met doeltreffende behandeling of ʼn entstof gestuit word nie.

Vroue gee gemiddeld geboorte aan 2,33 kinders, ʼn daling van 2,66 in 2008. Meer landelike inwoners het gemiddeld meer kinders as vroue in meer stedelike provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap, het StatsSA bevind.

Die koers waarteen kinders tydens geboorte of onder vyf jaar oud sterf, daal ook steeds. Daar is nou ʼn geraamde 55,5 babasterftes per 1 000 lewendige geboortes en 75,3 kinders uit elke 1 000 wat gebore word, sterf op ʼn ouderdom jonger as vyf jaar.

Volgens die verslag leef nagenoeg 13% – oftewel sowat 7,8 miljoen mense – van Suid-Afrikaners met MIV. Net meer as 18% van mans tussen 15 en 49 jaar oud is MIV-positief. Vigsverwante sterftes het, nadat dit ʼn hoogtepunt in 2006 bereik het, met bykans die helfte van 30,6% na 15% vanjaar gedaal.

StatsSA se navorsing wys ook nadat Suid-Afrikaners aanvanklik grootliks weens oordraagbare siektes soos tuberkulose en MIV/vigs gesterf het (siektes wat dikwels op ʼn jonger ouderdom opgedoen word), heers daar nou ʼn situasie waar die meeste sterftes op ʼn latere ouderdom en weens nie-oordraagbare siektes soos beroertes of hartkwale veroorsaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Hoe meer mense, hoe kleiner is jou deel van die ‘pie’. Dit geld vir die hele wereld. Ons bruikbare waterbronne raak min. Hulle se die visse in die see raak ook al minder. Dis alles goed om oor te dink.

Scalla

Hopeloos te veel mense vir SA, begin deur immigrante terug te stuur na hul herkoms, beperk geboortes tot 2 of 3 kinders per gesin en staak toelaes, hoeveel van die bevolking is belastingpligtig? Dit is waar die probleem le.

Termiet

Daar is geen manier dat hierdie statestieke korrek kan wees nie. Die gespuis kan nie eers die covid statestieke reg kry nie.

Chris

Daar is geen rede om te twyfel, statistiek is 101% Korrek ? 81 + 9 + 8 + 3 = ?

JohanR

Het julle die 6.6 miljoen Chinese, en die 2.3 miljoen Kubane by getel?