Só lyk SA se damvlakke

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Die departement van water en sanitasie (DWS) sê damvlakke in Suid-Afrika neem steeds stadig af ondanks die reën wat in sommige dele van die land geval het.

Ingevolge die verslag van 211 damme het die nasionale waterberging met 0,2 % gedaal van 72,9 % verlede week tot 72,7% dié week. Dit was op dieselfde tyd in 2016 slegs 54%.

Sputnik Ratau, woordvoerder vir die departement, het gesê die provinsiale waterberging lyk soos volg:

Oos-Kaap – 62%
Vrystaat – 84, 7%
Gauteng – 92, 1%
KwaZulu-Natal – 57, 6%
Limpopo – 78, 4%
Mpumalanga – 79, 5%
Noord-Kaap – 91, 5%
Noordwes – 89, 9%
Wes-Kaap – 19, 3%

“Die Wes-Kaap raak ʼn ernstige probleem omdat die damvlakke weekliks daal,” het Ratau gesê. Die DWS het Dinsdag ʼn waterindaba met verskeie belanghebbendes en aandeelhouers gehou om oplossings vir die probleem te probeer bedink.

Die Kaapstad-damstelsel wat bestaan uit ses damme wat hoofsaaklik Kaapstad bedien, het met 0,9% afgeneem tot 20,8%. Verlede jaar dieselfde tyd was dit 30,8%.

Die Algoabaai-damstelsel met vyf damme wat Nelson Mandelabaai bedien, het van 40% tot 39,6% gedaal verlede week. Verlede jaar dieselfde tyd was dit 78,2%. “Dié stelsel gaan spesiale aandag verg, dit is aansienlik laer as verlede jaar en het nie onlangs reën gehad nie,” het Ratau verduidelik.

Die DWS is spesifiek ook bekommerd oor die Oos-Kaap waar die algehele damvlakke tans 62% is in vergelyking met verlede jaar se 72%. “Dit is ʼn skerp afname en almal sal versigtig moet wees hoe hulle water gebruik,” het Ratau gesê.

Die Amathole-stelsel met ses damme wat Buffalo City bedien, het ook met 0,1% gedaal tot 70,5% teenoor verlede jaar se 88,5%.

Die Bloemfontein-stelsel met vier damme het met 0,5% gestyg tot 51,5%. Die Krokodilwes-stelsel met ses damme wat Tshwane, Madibeng en Rustenburg bedien, het met 0,1% afgeneem tot 99,3%.

Die Vaalrivier-stelsel met 14 damme wat hoofsaaklik Gauteng, Sasol en Eskom bedien, staan op 85,3% teenoor verlede jaar se 58,8%.

Die Umgeni-stelsel met vyf damme wat eThekwini en Msinduze bedien, het tot 62,1% gedaal.

In Mpumalanga lyk dinge egter bietjie beter en het die afgelope ruk se reën in die provinsie ʼn verskil in sommige damme se vlakke gemaak. Loskopdam is van 96,9% af op na 97,9%, Middelburgdam van 66,1% na 66,6%. Buffelskloofdam is op van 100,3 % na 100,6%. Ander damme wat ook geringe verbetering getoon het, is die Grootdraaidam, Nooitgedachtdam, Westoedam, Morgenstonddam, Driekoppiesdam, Kwenadam, Da Gamadam, Witklipdam, Primkopdam en Inyakadam.

Die departement het watergebruikers gemaak om water spaarsamig te gebruik, veral noudat die winter om die draai is. “Ons maan ook gebruikers om die waterbeperkings wat deur hul munisipaliteite ingestel is te gehoorsaam,” het Ratau gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Theresa ·

Onthou ook om die damme klein te bou – dan bly hul vol …

humor ·

Daar kan nog damme gebou word, maar onthou dit moet reen om vol te word. Water bly n beperkte faktor en kan net n bepaalde bevolkingsgetal voorsien. Het u al n klomp baie dors beeste gesien wat op n waterkrip toesak. Hulle trap mekaar selfs dood. Wanneer die mens regtig dors is verdwyn beskaafdheid.

Riool ·

‘Gelukkig’ vir die riool wat ook (as voorbeeld) by Vanderbijlpark/Vereeniging in die Vaalrivier instroom (Vaalweekblad van 17 Mei 2017) anders was die damvlakke nóg laer. In Refengkgotso (Deneysville) is ‘n rioolpomp vir 4 maande al buite werking (volgens die inwoners) en stroom die riool na die Taaibosspruit wat ook uiteindelik in die Vaalrivier sal eindig. Die verskoning is dat daar nie geld is en daar word vir onderdele gewag. Intussen verduur inwoners die stank. Hierdie is nou ‘n DA-koalisie munisipaliteit. Onder die ANC het dit nie goed gegaan maar beslis beter. Daar is ‘n uitnodiging gerig (Carte Blanche) aan die betrokke minister maar sy wil nie betrokke raak. Gelukkig was die Vaaldam so te sê leeg en is daar tans grotendeels ‘n verdunning van riool. Dis egter net ‘n kwessie van tyd en riool in hierdie land gaan ons oorweldig. Ons gaan dus eindig met damme vol riool met ekstra kostes om die water te suiwer wat verhaal sal word uit die verbruiker se sak.

Koos1 ·

Ontsouting van die see water lyk my na die enigste oplossing. Ja ek weet dit is baie duur, maar sonkrag panele was ook baie duur, hoe meer dit gemaak word hoe goedkoper word dit. En net vir menslike gebruik.
Ek kan ook nie verstaan dat daar so baie geboue gebou word, maar hulle word nie verplig om kelders te bou wat reënwater kan opvang, om gebruik te word in toilette en tuine nie.
Weer eens ‘n bewys dat on regering nie gepla is oor water in ons land nie….. totdat ons daarsonder gaan sit!

Theresa ·

Kan nie onthou waar ek dit gelees het nie. Was dit nie lank terug op Maroela nie? ‘n Man (kan nie onthou of dit ‘n Van der Merwe of Poggenpoel was nie) maar iets in diervoege – wat seewater suksesvol ontsout. Nie teen ‘n vreeslike prys nie – en dit werk soos ‘n bom. Hoop hy lees Maroela en laat van hom hoor.

Kollie ·

Daar’s ‘n Britse universiteit wat onlangs aangekondig het dat hulle ‘n spesiale membraan ontwikkel het wat ontsouting baie goedkoper gaan maak. Dis nog in toetsfase.

Boertjie ·

Ndkandla het baie water so wie gee om, Ek is seker n klein soutontwaterings aanleg kon gebou word met 250millions en dan die instandhouding daarvan kos dalk goedkoper as bogenoemde. Dalk kan die Gupta familie dit finansier as b n goeie gebaar en dan is hulle weer welkom…

Thinus ·

Oosterse lande soos Japan, Korea ens ontsout al jare hul water uit die osean. Dalk sal ons Dept van Waterwese ook eendag wakker skrik…

Robbie ·

Met die watervlakke wat so laag is in die Weskaap, kan die grote Oranje rivier nie herly word om sodoende deur die Weskaap te vloei nie? Die water sal wel in die see opeindig, maar voor dit daar kom word dit deur mens en dier benut.
Net ‘n idee…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.