Só lyk SA se nuwe R5-muntstuk

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en die Suid-Afrikaanse Munt het Woensdag ʼn splinternuwe R5-muntstuk uitgereik.

Daar is twee R5-muntstukke, ʼn standaardoplaag en versamelaarsuitgawe, wat hulde aan die 100 jaar lange geskiedenis van die Reserwebank bring. Ses ouer munte is deel van die ontwerp aan die agterkant van die nuwe R5-munt, wat die geskiedenis van die geldeenheid uitbeeld.

Hierdie historiese munte bevat ʼn driepenniemunt of tiekie van 1923, die R5 met ʼn laggende Nelson Mandela, ʼn ou 1 sent-muntstuk met twee mossies, asook ou 10 sent- en 20 sent-munte se ontwerpe. Die ou muntstukke is aaneengekoppel in die ontwerp deur ʼn klein skyfie wat die SARB se geskiedenis van 1921 tot 2021 erken.

Die oplaag van die standaardmuntstuk vertoon ook die tradisionele landswapen van Suid-Afrika en die land se naam in twee amptelike tale, “uMzantsi Afrika” en “Suid-Afrika”.

Die nuwe R5-muntstukke sal saam met die gewone R5-muntstukke gebruik kan word as ʼn wettige betaalmiddel en sy waarde sal dieselfde bly. Die gewone R5-muntstuk sal ook steeds gedruk word.

(Foto: SARB)

ʼn Versamelaarsuitgawe van die muntstuk is in sterling-silwer gegiet en met goudkleurige plate beslaan, maar dit het dieselfde ontwerp aan die agterkant. Dit is ook die helfte van die grootte van die gewone R5-muntstuk en die voorkant van die muntstuk sal die land se naam in al tien tale vertoon.

Die bank het ook sy geldeenheid-app hersien om saam met die herdenking van sy 100-jarige verjaardag te val. SARB wil hiermee ʼn groter bewusmaking oor die rol van die bank en Suid-Afrikaanse banknote en muntstukke skep. Die app kan in die Apple Store en Google Play Store afgelaai word.

Die SARB het sy deure op 30 Junie 1921 geopen en is die oudste sentrale bank in Afrika nadat die valuta- en bankwet van 1920 voorsiening gemaak het vir die stigting van ʼn sentrale bank in Suid-Afrika, met die belangrikste funksies om banknote te druk en die goud wat kommersiële banke besit, oor te neem.

Die Republiek van Suid-Afrika is in Mei 1961 gevestig en die land het die Statebond in dieselfde jaar verlaat. Suid-Afrika het in daardie jaar ook sy geldeenheid verander van pond, sjielings en pennies na ʼn desimale stelsel van 100 sent in een rand.

SARB meen die geldeenheid het sedertdien belangrike tegnologiese en ontwerp-veranderinge ondergaan en dit word in die nuwe R5-muntstuk vasgelê.

(Foto: SARB)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Stephen ·

En nog geld word word gemors wat êrens anders beter bestee kon word…….

Koos Kookwater ·

Ten minste is “Suid Afrika” ook op die muntstuk

Die Boerepompie ·

N gedag te skiet by my op ek wonder hoe veel huise kon gebou word of SSKOM kon reggeruk wordnou moers hulle al weer geld op die .ons geld is niks werd nie jy kan niks koop met n 5 rand nie

Mudguard ·

En die ou tiensent was meer werd as die nuwe R5 vandag…….

Jack ·

Jy is 100% reg. Ek kon in die 1960s ‘n hele maand werk toe en terug ry met R3 se petrol. Vandag kan ek skaars ‘n derde liter vir R5 koop.

Witwolf ·

Interessant dat die regering nie Afrikaans as ‘n inheemse taal sien nie maar tog Afrikaans op die muntstuk gebruik!

Nie Verbaas ·

Baie mooi maar vermorsing van geld. Snaaks dat daar nie n prentjie van cookie jar met n klomp vingers wat skep op is nie.

Elinette ·

Wat, probeer hulle ons Afrikaanssprekendes “paai” deur ‘n paar woordjies op die R5 gedenk-muntstuk en ‘n paar voorbeelde van ons ou geld uit die voormalige Republiek van Suid-Afrika te sit? Dit sal veel meer as dit vat om ons waarlik te oortuig dat hier nog ‘n toekoms is vir die blanke, Afrikaanssprekende mens in die moeras van ‘n land-wat-eens-was. Pleks hulle gebruik die geld eerder om vir die mense huise te bou en WERKLIK hul stemmers se lewens te verbeter. Ons blankes mense is OK, ons is van kindsbeen af geleer om SELF te werk vir wat ons nodig het.

Jack ·

Hoekom moet die regfering vir mense huise bou. Ek is nie daarvan bewus dat die voor-1994 regering vir enige blankes huise gebou het nie. Elkeen in my familie en aangetroude familielede moes self huise koop of bou. Wat mense nodig het is WERK, WERK en nogmaals WERK. Dan verdien jy salaris en koop of bou jou eie huis. Dan weet jy wat dit gekos het aan sweet en spaar en dan pas jy dit op. Wat jy verniet kry trek jy eenvoudig deur (sal maar liewers nie sê waardeur nie).

Jaco ·

Hier kom GROOT REËN dwarsoor SA. Die taal van die onderdrukker verskyn sowaar op dié nuwe munte.

Boris ·

Dit is ’n baie goeie ontwerp. Die jeug van vandag kan nou die vergelyking tref in die depresiasie van ons geldeenheid tydens die afgelope 100 jaar. Die R5 muntstuk van 2021 se waarde is seker gelykstaande aan die driepenniemunt tiekie van 1923 en die ou 1c muntstuk van 1961 ensovoorts…

Stof ·

Vertel my gou, gaan dit ons grondvlak werkers wat dikwels afhanklik is van muntoutomate om ons versnapperings te koop, benadeel deurdat dit dalk nie deur die bestaande muntoutomate erken gaan word nie?
Ek moet egter sê, ek is trots op hulle keuse om Afrikaans op die munt aan te bring. Die ontwerp is ook esteties vleiend.

Pietertjie ·

Kan ek dié nuwe muntstuk inruil vir Covid-19 entstof asseblief?

Karinb ·

Welgedaan SA Munt en Reserwebank. Vorentoe gaan dié nuwe R5 ook in waarde toeneem soos die goue Krugerrand wat my ma jare gelede vir my gegee het en ek weer vir my oudste kleinkind met haar 21ste verjaardag. Toe ons onlangs ondersoek instel na die waarde van die muntstuk is dit ongeveer R40 000. Mooi neseiertjie vir my kleindogter. Muntstukke is goeie beleggings. Versamelaars betaal baie geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.