Só lyk samewerkingsplan teen plaasmoorde

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Die geskiedkundige ooreenkoms wat vandeesweek tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en AfriForum gesluit is, bring hoop dat die regering ernstig is oor die voorkoming van plaasmoorde en -aanvalle.

Die burgerregte-organisasie veg sedert 2010 teen die voortslepende aanvalle en moorde op boere en gemeenskappe in landelike gebiede. Talle veldtogte, plaaslik en internasionaal, is sedertdien deur AfriForum begin om plaasmoorde en -aanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Jare lange pogings om die regering en SAPD sover te kry om die krisis te erken en iets daaraan te doen, het klaarblyklik nou vrugte begin afwerp met lt.-genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, wat aangekondig het dat die SAPD met AfriForum wil saamwerk om plaasaanvalle hok te slaan.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, bestempel die samesprekings as ’n deurbraak en die eerste stap in die regte rigting.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê hoewel die samesprekings met die polisie verwelkom word, is daar nie rede om fees te vier voordat werklike resultate gesien kan word nie.

Met verwysing na die samewerkingsplan het Cameron gesê die heel eerste stap is om met die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng te vergader. Daarna sal die ander provinsies aan die beurt kom.

Die doel met die vergaderings is om standaard operasionele prosedures op te stel waarvolgens die polisie ’n mandaat kan aanvaar om met alle gemeenskapsveiligheidstrukture saam te werk om moorde stop te sit.

AfriForum sal hulpbronne in terme van opleiding en toerusting waar moontlik beskikbaar stel. Daar sal ook in samewerking met die polisie op nasionale vlak na forensiese opleiding gekyk word omdat toneelbewaring ná ’n misdaad nie meer voldoende is nie.

Cameron het gesê AfriForum wil ook met die polisie op hoë vlak saamwerk om probleme op grondvlak uit te wys waar daar bewerings is van polisiebeamptes wat self by misdaad betrokke is. Hammanskraal buite Pretoria is een van die stasies waar ernstige probleme ondervind word. In April het daar byvoorbeeld net twee beamptes vir ’n skof opgedaag terwyl daar gewoonlik meer as 40 aan diens is om die hele gebied te dek.

Volgens Cameron gaan AfriForum ook sy buurtwagte en patrollies uitbrei om met die polisie saam te werk. Deel van die beveiligingstrategie is ook om voorval-scenario’s met buurtwagte en patrollies in te oefen sodat hulle weet hoe om tydens aanvalle op te tree. Die eerste toetslopie in die verband is einde vandeesmaand wanneer AfriForum se provinsiale patrollies oor die hele land saam met die polisie sal optree.

Cameron het gesê Phahlane is ’n beroepspolisieman met ’n agtergrond in forensiese ondersoek. “Hy besef die noodsaaklikheid van grondvlakstrukture en prosedures. Ons is positief dat hy in samewerking met ander rolspelers soos AfriForum ’n verandering in die hantering van landelike veiligheid kan teweegbring.”

Phahlane het ook aangedui dat die polisie binnekort met landbou-organisasies sal vergader oor ’n verbeterde strategie vir landelike veiligheid.

Lorraine Claasen, navorser by AfriForum, wat reeds geruime tyd statistieke en inligting oor plaasmoorde insamel, het dit verwelkom dat die SAPD en die burgerregte-organisasie vennote kan wees om saam te veg teen die hoë vlakke van geweld in landelike gemeenskappe.

Die polisie en AfriForum gaan nou saamwerk om moontlike tendense rondom aanvalle te eien. Die doel hiermee is onder meer om gemeenskappe bewus te maak van waarvoor hulle op die uitkyk moet wees.

Claasen het gesê die polisie en AfriForum se syfers vir plaasmoorde stem baie ooreen, maar vir plaasaanvalle is dié van die polisie hoër omdat aanvalle op werkers nie altyd deur die media gedek word nie.

Volgens die syfers was daar van 1990 tot 2015 altesame 3 745 plaasaanvalle en 1 785 moorde.

Claasen het gesê die syfers het ook voorheen verskil omdat AfriForum dit volgens die kalenderjaar en die SAPD volgens die finansiële jaar bereken het. Dit sal nou aangepas word om ooreen te stem.

Claasen het gesê AfriForum sal ook saam met die SAPD kyk na die modus operandi van aanvalle en ander aspekte soos hoeveel aanvallers by ’n aanval betrokke is. Waar dit voorheen gewoonlik tussen vier en vyf was, blyk dit nou dat dit tussen twee en tien is en dat aanvallers in groepe werk. Een groep sal byvoorbeeld binne die huis of gebou by die aanval betrokke wees en ’n ander sal buite wag in byvoorbeeld ’n wegkomvoertuig. Die jongste tendens blyk ook dat aanvalle op kleinhoewes afneem, maar toeneem op afgeleë plase.

Ingevolge die ooreenkoms wat bereik is, sal daar vir eers voorkeur gegee word aan gebiede waar die meeste aanvalle voorkom. Dit sluit in Noordwes (Brits, Mooinooi, Rustenburg en Potchefstroom), Limpopo (Modimolle, Letsitele, Lephalale en Westenburg), Gauteng (Hercules, Hekpoort en Muldersdrift) en KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann Marx ·

Eerste paragraaf: “bring HOOP dat die regering ernstig is oor die voorkoming van plaasmoorde en aanvalle..” Piet Retief het ook “gehoop” om te onderhandel toe hy by Dingaan gaan tee drink het…..Van toe af het nog NIKS verander nie.

M A ·

Ek dink dis beslis ‘n deurbraak. Nou moet ons mense saamstaan en ook bid, waaant dit sal in die lang duur ook werk teen algemene misdaad wat nou handuit ruk. Die plan is goed – dit kos net werk om deur te voer.

Chritine Maartens ·

Dankbaar dat daar positiewiteit en eindelik pro-aktiwiteit begin deurskemer, ter aksie te neem en beigin om OPGESTAAN en SAAMGESTAAN word deur SAPS en Afri-Forum rakende plaasmoorde. Maak SA trots. Ons Moet Landbou – ons Voedsel ketting en voorsieners ten volle bekerm. So help ons GOD!

Johann Marx ·

Hier was geen “samewerking” nie? Hierdie is net ‘n halfhartige poging om beter te lyk nadat Afriforum ontsettende druk toegepas het op ‘n wanfunksionele SAPD om hulle WERK te begin doen!! Hoekom is almal nou so in ekstase oor “uiteindelik lyk dit of die regering wil saamwerk en ernstig raak”??? Ek stel nie belang in hulle “samewerking” nie…ek BETAAL hulle salarisse, hulle WERK vir my…en SAL hulle job doen, of ge-fire word!! Hoekom ons hulle met ons belasting betaal…en dan moet SMEEK om te doen waarvoor hulle hulleself beskikbaar gestel het met bewindsoorname…sal niemand weet nie!!

Elizabeth ·

…ja om beter te lyk nadat AfriForum die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland toegespreek het oor plaasmoorde – nee wat sien op die lange duur is glo.

Willie ·

Irene, baie van die praat Afrikaans as hulle die boere oorompel en inbreek.. Ek stry nie, daar is buitelanders ook. Maar hulle praat nie Afrikaans nie… Iemand wat befin met n E… is besig om wapens te versamel… my insiens

jaco ·

hierdie ooreenkoms tussen die SAPD en afriforum is onverklaarbaar, want eintlik wil die ANC, wat die regering is en dus die SAPD beheer, die wit boere van die plase af hê. Elke suksesvolle plaasmoord tel dus in die ANC se guns, want dit spaar hulle die harde werk van onteiening en ander onsmaaklike aksies om die boere af te kry van die plase af.
Ek vermoed die sogenaamde ooreenkoms is net lippediens om ‘n paar ewig klaende stemme vanaf Afriforum bietjie stil te maak. In werklikheid sal daar egter NIKS gedoen word om plaasaanvalle te keer of plaasaanvallers te vervolg en te straf nie.

Oom Kalahari ·

Ek is nogal verheug oor die ooreenkomste tot samewerking en prioriteits verklaring van plaasaanvalle, maar terselfdertyd ook bekommerd en ruik ‘n rot oor die skielike ooreenkoms. Hoe meer insae hul kan bekom met die Afriforum misdaad bekampings strategieë en beplannings, kan hul binnenshuis meer inligting en teen strategieë beplan vir verdure uitvoerbaarheid met aanvalle. Tog is ek ook bekommerd dat interne beplannings inligting gaan uitlek en dat van hierdie burgerlike personeel in lokvalle vasgevang mag word waar beplande operasies uitgevoer sou word. Wie kan almal deesdae werklik vertrou word? ek is geensins negatief of skepties nie, maar wil ook dat burgerlike gemeenskappe se oë en ore op die grond moet wees en hul te alle tye paraat is om nie in ‘n strik vas te loop nie. Sterkte en hoop hierdie operasies sal die nodige beskerming aan plaasboere bied.

marianne ·

MOOR ONS UIT!!!!
Waar gaan die kos vandaan kom? INVOER?
Ons boere is ontwapen ons mag ons self nie beskerm nie!!!! Waar is ons wapens heen???
Nou plant julle wit kruisies en se Ons is jammer…..
Jammer bring nie geliefdes terug nie
Jammer plant en ploeg nie
Jammer teel nie vee nie!
Die Regeering wil alles doen maar doen minder as min!
Bewapen ons! Stuur die Refugees terug! Gee ons mense werk en hou op inmeng!!!! Watter Parlements lid in hul posh outfits en lad-di-da karre het ooit geboer???
Weet hulle hoe ‘n sukkel bestaans plaas werk? Of ruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.